Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gert Coetzee: Suid-Afrika in amptelike syfers
Net 2,2% van alle Suid-Afrikaners, sowat 1,1 miljoen, bly in die Noord-Kaap en 5,2%, sowat 2,8 miljoen, in die Vrystaat.

Vervies jy jou ook as jy ’n amptelike vorm kry met die versoek jy moet in ’n blokkie aandui of jy swart, wit of bruin is? Pleks dat daar net een blokkie is vir: “Trotse Suid-Afrikaner”.

Nietemin, Suid-Afrikanerskap en ras is sedert die aankoms van Jan van Riebeeck, vriend van Jacob Zuma, in Tafelbaai 353  jaar gelede onskeibaar. Apartheid het die skeidslyn amptelik getrek.

In regeringstatistieke is dit steeds so. Soms verdoesel as kwotas wat telkaarte en nou teikens geraak het. Die land worstel immers steeds met die moeilike wiskundige berekening oor hoe – en hoe ver – om apartheid se skade om te keer.

Teen dié agtergrond en ook oor die land se realiteite is dit insiggewend om Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste beskikbare syfers oor ras en velerlei ander dinge te lees. SSA se boekie Stats in brief met syfers tot 2013 – en soms net tot 2011 of vroeër – het onlangs op my lessenaar geland, vermoedelik weens die Poskantoor se (on)betrokkenheid weke laat.

Hiervolgens het Suid-Afrika op ’n katspoeg na altesaam 53  miljoen mense van wie 42,3  miljoen swart, 4,8 miljoen bruin, 4,6 miljoen wit en 1,3 miljoen Indiër of Asiaties is. Hieruit sou enigeen met Suid-Afrika se baie prentjies in die kop, afhangende van sy of haar perspektief, ’n swetterjoel afleidings kon maak. Nou ja.

Dan: Getalsgewys is vroue Suid-Afrika se sterkere vat: 27,2 miljoen teenoor 25,8 miljoen mans. Nie dat vroulike verteenwoordiging op alle vlakke die syfer weerspieël nie. Gelukkig het nie al die vroue swepies opgetel nie.

Natuurlik is Noord-Kaap Suid-Afrika se grootste provinsie met ’n oppervlakte van 373 000 vk.km van die land se 1,22 miljoen vk.km. Die naasgrootste? Nie Wes-Kaap nie, maar Oos-Kaap met 169 000 vk.km.

Die Vrystaat is die derde grootste met – om presies te wees – 129 825 vk.km, wat net 363 vk.km meer as die Wes-Kaap in die vierde plek is.

Gauteng is met 16 548 vk.km verreweg die kleinste, maar met die grootste bek mos. Seker omdat 24% van alle Suid-Afrikaners hier bly. Die boekie gee nie ’n syfer nie, maar dit sou so net oor die 13 miljoen wees (teenoor Londen se bevolking van 8,6 miljoen).

Net 2,2% van alle Suid-Afrikaners, sowat 1,1 miljoen, bly in die Noord-Kaap en 5,2%, sowat 2,8 miljoen, in die Vrystaat.

Ook die vital statistics – oor huwelike, geboortes en sterftes – vertel ’n storie oor ’n land en sy mense. Dit klink verbasend min, maar daar was in 2011 net 167 264 geregistreerde huwelike in die land wat nogtans meer as 2001 se 134 581 is. Die Vrystaat het 10 560 en die Noord-Kaap 5 063 getroude pare.

In 2011 is 911 353 kinders in Suid-Afrika gebore, wat minder is as 2006 se “hoogtepunt” van 1,07 miljoen. In die Vrystaat is 50 571 kinders (56 638 in 2006) in 2011 gebore en in die Noord-Kaap 22 820 (teenoor 23 694 in 2006). Die jongste jaartal vir sterftes is 2010: 543 856 in Suid-Afrika teenoor 613 108 in 2006. In die Vrystaat is 45 018 mense in 2010 dood (53 362 in 2006) en in die Noord-Kaap 15 183 (teenoor 15 117 in 2006). In die Noord-Kaap is jy dus veiliger, maar jou kans om gebore te word kleiner.

Ongelukkig gee die boekie ook nie vergelykende syfers vir Suid-Afrika se algehele bevolking oor die jare heen nie, maar met die afname in geboortes én sterftes lyk dit of dit rondom 50 miljoen gestabiliseer het.

Die meeste Suid-Afrikaners wat sterf, is tussen 30 en 34 jaar oud. Enigiets ouer en dit lyk of jy die Bybel se goue jare gehaal het. Die grootste oorsaak van dood? “Certain infectious and parasitic diseases” wat tot 25% van sterftes lei.

Syfers ontbreek ook oor wapen-aankope, besteding aan Nkandla, vlieënde Guptas (nie sweefstok-artieste nie) per lughawe, politici se kos-konsumpsie per kop per miljoen rand en die oppervlakte wat een warsender kan verdoof. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.