Menings
Van Alle Kante
Hart van die gemeenskap klop weer

MARTIE RETIEF-MEIRING

Dis poppekas-tyd en ons sit knussies op rooi stoele voor die handgemaakte poppekas waaragter oom Brendan nou net “Hallo, Maatjies” gesê het. Ons hallo terug, en oom Brendan vertel hoe ons moet soet wees en oppas vir die groenman.

Toe kom die groenman op die poppekas, en hy skree en ons tjeer en waai vir hom. ’n Fout. Ons moes geboe het. Maar ons het gedink die groenman met sy lang hare is ’n Rastaman, en ons hou mos van Rastamanne.

Oom Brendan het gou reggehelp: Die groenman is gevaarlik; hy soek kindertjies om hulle swieties te gee en weg te voer. Goed, toe boe ons die groenman só deeglik dat hy skoon omval en stil word. Sommige van ons voel hartseer omdat ons gedink het die groenman is ’n Rastaman. Toe troos van die ouer kinders die kleintjies; en toe die poppekas verby is, kry almal ’n koppie sop en ’n broodjie met peanut-botter op.

Noem die poppekasvertoning maar die ­gala(her)opening van die Breughel in Cloetes­ville. Dit word nou die Breughelsentrum genoem. Die pragtige ouditorium heet nou die Ben Dehaeck, genoem na die stigter van hierdie ikoniese teaterkompleks. Natuurlik sou ’n gebore Vlaming soos Dehaeck sy teater Breughel noem.

Dokter Ben, soos hy alombekend is, het in die vroeë tagtigerjare as dramadosent aan die Universiteit Stellenbosch gedroom en gewerk om teater in Cloetesville te vestig. Hy het stukke geskryf en geregisseer en toe grond bekom en ’n teaterkompleks gebou. ’n “Hart” het in die groeiende gemeenskap ontstaan.

Hier het jong akteurs soos June van Merch, Denver Vraagom en baie ander hul voete in die teaterwater kom steek. In die negentigerjare het die Breughel-geselskap oorsee gereis met stukke onder regie van Marthinus Basson.

Toe die teater ’n paar jaar lank nie as teater gefunksioneer het nie, is deur die ywer van kunstenaars soos Leatitia Solomons en Hilton Andries en beplanners soos Jeremy Fasser en met die opgewonde meelewing van die 92-jarige dr. Ben ’n nuwe direksie gekies. Stoflappe, ­besems en skoonmaakgoed is bymekaargehark; die saalkenner Desmond van Wyk het kom kyk en gehelp om die verwaarloosde ou teater en sy omringende kamers nuwe lewe te gee.

Kinders kom smiddae vir stories en lewenslessies. Daar is ’n stiltekamer vir alleenwees of bid of net ’n bietjie rus.

Hulle kom ook vir poppekas en vir stories; en in die skoolvakansie is groot besoek afgelê deur die ambulansdienste, die brandweerdienste, gesondheidskliniek. Modeontwerpers het gekom om die kinders te leer om poppe en kleertjies vir die poppe te maak.

Nou word gerepeteer aan nuwe en ou stukke. Gordyne word reggemaak, ligte word geprakseer, verf word gebedel en gekry.

’n Toe teater is weer oop. Genoeg om hard en lekker te tjeer.

​meiring@lando.co.za

Stellenbosch

Volg Netwerk24