Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ideologiese kultoertjies is gevaarlik
Moenie val vir die bakkers van mooi broodjies nie, hulle is besig om ons taal te versmoor, waarsku Heilna du Plooy.

’n Paar jaar gelede is ek benoem vir ’n ministeriële taakspan wat moes werk aan ’n voorstel vir ’n nuwe bedeling in die geesteswetenskappe aan universiteite.

Ten spyte van die noukeurige proses – breë verteenwoordiging van universiteite in die taakspan en gesprekke met alle moontlike belangegroepe binnelands en buitelands – was die verband tussen die gesprekke en die finale verslag se voorstelle nie baie duidelik nie.

In die verslag is hoofsaaklik gefokus op die universiteitsektor in die breë, op die totstandkoming van nuwe universiteite en op kultuursentra. As ’n praktiserende akademikus in die geesteswetenskappe kon ek tot nou toe glad nie die neerslag van dié oefening in die praktyk sien nie.

Dit was vir my asof die proses ’n dubbele bodem gehad het, asof die verslag vanuit ’n bepaalde ideologiese visie ontwikkel is en waarskynlik vooraf beplan is. Die gesprekke is ook duidelik deur die baie bekwame en ervare voorsitter gekanaliseer en op veilige paaie gehou. In die verslag was die onderliggende ideologiese opset van die voorstelle en waarskynlik van die hele proses egter meer as duidelik.

Wat myself betref, was ek net ’n simboliese aanstelling – die enigste Afrikaanssprekende wit persoon, waarskynlik beskou as ’n skadelose vrou van ’n minder belangrike universiteit. My groep was verteenwoordig, maar hulle het geweet en ek het baie gou besef dat dit absoluut geen verskil sou maak as ek nie daar was nie. Ek was ’n pion in ’n georkestreerde proses en dit het my uiters ongemaklik laat voel.

Wat ek hiermee wil illustreer, is dat selfs ’n vlekloos beplande proses geen waarborg is dat die saak self in die sentrum sal staan nie. Ook nie dat die uitkoms van die proses ’n getroue weerspieëling of die somtotaal van standpunte sal bevat nie. Prosesse is instrumente en instrumente kan beheer en gestuur word en die ideologiese opset daaragter verskuil.

Die 20ste eeu was een van groot ideo­logieë wat ’n geweldige invloed op die gang van die geskiedenis gehad het. Enigeen met net effense insig in die kommunisme, nasionaal-sosialisme en selfs apartheid sal bewus wees van hoe sterk ’n ideologie kan wees, hoe dit mense kan meesleur en veral hoe dit met verloop van tyd deurskynend word – hoe mense dit nie meer raaksien vir wat dit is nie. Ideologiese dwang het al gelei tot oorlog, tot etniese suiwering, tot sosiale en kulturele manipulasie met al die negatiewe ekonomiese, kulturele en maatskaplike gevolge.

Veral in Suid-Afrika, met die apartheidsideologie so vars in die geheue, moet ons tog groter bewustheid hê van die feit dat ons ons nou net in ’n ander ideologiese stelsel bevind – ’n ideologie wat deur ’n bepaalde party deurgevoer word en met sy getalle-oorwig besluite opdwing wat sy ideologiese invloed op ons lewe steeds enger en meer beangstigend maak.

Wat my ook bekommer, is dat die huidige politieke gesprekke in die media net soos die argumente van 1994 klink. Hoewel ek groot waardering het vir die idealisme van destyds, moet ’n mens toegee dat daardie idealisme nou dun gerek en yl geslyt geraak het.

Selfs Max du Preez se onlangse antwoorde aan Steve Hofmeyr (wat uiteraard self moedswillig en onverstandig is) toon hierdie neiging. Die idealisme oor restitusie en selfs retribusie was in 1994 baie mooi en waar, maar nou klink dit ’n bietjie hol.

In die afgelope 20 jaar het die kulturele ruimte van Afrikaanssprekende mense onteenseglik drasties ingekrimp as gevolg van die ideologiese knyptang waarin die onderwys, die uitsaaiwese en universiteite geplaas is. Die feit is: Afrikaanse mense se leefwêreld en werklikheid in Suid-Afrika lyk dramaties anders as in 1994 en die retoriek van 1994 is nie meer toereikend nie.

Daar moet nuut gedink word. Die huidige situasie kan nie anders as om reaksie te ontlok van dié mense wie se kulturele lewensruimte bedreig word nie.

Die idealisme oor restitusie en selfs retribusie was in 1994 baie mooi en waar, maar nou klink dit ’n bietjie hol.

Dit kan dus mooi en heiliger as heilig klink om te sê universiteite, soos die Noordwes-Universiteit, moet vir almal toeganklik wees, dat ’n unitêre stelsel nodig is en dat verengelsing onafwendbaar is om goeie resultate te bereik. Maar waarheen moet Afrikaanssprekende studente (van alle kleure) gaan? Wat moet word van die biblioteek vol Afrikaanse boeke met Afrikaanse vakterme? Wie gaan die vuurhoutjie trek by daardie doodsfees?

Hieroor wil ek in my hande huil.

Die ou PUK was die eerste universiteit waar wiskunde in Afrikaans aangebied is – in 1915 deur prof. Dirk van Rooy. Daar is genoeg prestasies in Afrikaans bereik om dit ’n bate vir die land te maak.

As Afrikaanse skrywer en iemand wat meer as 30 jaar lank Afrikaans doseer het, weet ek presies wat die huidige posisie van Afrikaans is; weet ek maar te goed hoe belangrik ’n mens se eerste taal in die ontwikkeling van sy intellektuele en emosionele vermoëns is. Ek weet ook seker dat as die gebruik van Afrikaans op universiteitsvlak verklein, Afrikaans op alle vlakke van onderwys afgeskaal sal word; dat die Afrikaanstalige gemeenskap ongelukkig gaan wees, dat hulle in die steek gelaat sal voel, dat hulle kort daarna onderdruk sal begin voel.

Dit is waarom ek so ongemaklik raak as mense mooi broodjies bak en leë, vertroostende woordjies gebruik, want ek weet dit mis die punt, dit ontwyk die probleem, dit is naïef en eintlik gevaarlik.

As jy jou woorde reg kies, kan alles skadeloos lyk – maar daar is hopelik nog mense wat vir hulleself dink.

■ Prof. Heilna du Plooy is ’n digter en doseer Afrikaans aan die Noordwes- Universiteit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.