Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Irna van Zyl: Ek weet wie het Willie se ‘magic’ gesteel
Vrees dat jy beheer gaan verloor, is die grootste dryfveer vir konserwatiewe besluitneming.

‘Gee die bal vir Willie!”

Hy wat weet hoe om drieë te druk was ons almal se held. As hy nie self die vyfpunter aangeteken het nie, het hy dit geskep vir dié wat langs hom of agter hom of om hom was. Boonop was dit opwindende rugby. Só goed was hy dat jy al jou duime vasgehou het dat hy tog net nie beseer moet word nie.

Maar toe gebeur daar iets anders met Willie. Weg is die vinnige skoppies oor die aanvallende speler se kop, die op-sy-kop-aangeë na ’n vleuel, die cheeky steekskoppies, die spoed waarmee hy hom by die agterlyn aangesluit het.

En ons verloor. Teen Ierland, Wallis, die Poemas, Japan, die All Blacks. Weer ’n keer. Oi. En soms kry Willie sommer ’n klomp van die skuld vir die verloorslag en vergeet almal die Willie wat magic kon maak.

Nou is dit Willie wat nie goed met verdediging is nie. Willie wat met die hoë bal sukkel. Willie wat op die verkeerde tye foute maak.

Miskien was dit toe die Poemas die naweek so ’n skoppie of wat oor die Wallabies se koppe gee dat ek Willie en Breyton Paulse onthou het. Hy wat van ’n oorgee-aangee van Bob Skinstad af so die bal voor ’n teenstander se neus kon wegraap, in die kassie mik oor sy teenstander se kop en daar gaat hy. Onbevange het hulle gespeel. Mooi rugby. Wenrugby.

Twee keer moes ons dit in hierdie Wêreldbeker-toernooi hoor. Dat ons voorspelbaar is. Met die eina-stryd teen Japan het Eddie Jones sommer al voor die tyd verkondig dat hulle presies weet wat om van die Springbokke te verwag. Nou sê Steve Hansen van die All Blacks dat daar “geen verrassings” in ons manne se spel was nie.

Willie se heyday was in die jaar toe hy volgens Heyneke Meyer vrye teuels gegee is om sy eie ding te doen. Om net sy natuurlike game te speel. En toe?

Ek is dalk nie ’n rugbykenner nie, maar ek het ’n bietjie bestuursondervinding en weet dat daar drie tipiese slaggate is:
) vrees dat jy beheer gaan verloor, aangevuur deur vrees vir mislukking;
) die kies van die veiligste of maklikste opsie en die beperking van risiko’s; en
) gebrekkige selfvertroue.

Vrees dat jy beheer gaan verloor, is die grootste dryfveer vir konserwatiewe besluitneming. Dan gaan jy nie waag nie. Is dit nie wat met ons Springbokke gebeur het nie? Is ons afrigter te bang hy verloor beheer, soos teen Japan toe die senior manne na bewering nie na hom geluister het nie? En toe oorkompenseer hy en mag niemand ’n besluit sonder hom neem nie?

Kyk wat Jaco Kriel van die Curriebeker-Leeus ná hul oorwinning gesê het: “Ons het besluit om vreesloos aan te val.”

Vrees het Willie se magic gesteel. En ek reken vrees gaan binnekort ook Damian de Allende, Jesse Kriel en Lood de Jager s’n steel as ons nie vinnig ’n nuwe plan maak nie.

Tamboerskloof

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.