Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Judith February: ‘Praagse Lente’ nou ysige winter
Daar was in die laaste tyd verdere tekens van parlementêre ondoeltreffendheid.

Dit raak nou ’n gewoonte dat die president se vraetyd ontwrig word. Die tonele verlede week in die Nasionale Vergadering laat min ruimte vir twyfel – as daar enigsins nog twyfel was ná die staatsrede-chaos in Februarie – dat die parlement vinnig aan die ontaard is in ’n instelling waarin die publiek vertroue gaan verloor.

Nkandla en die ontwyking van verantwoordbaarheid deur pres. Jacob Zuma het ’n oop sweer geword. Terwyl die ANC met die hulp van Baleka Mbete, die speaker, aanhou om hom teen die terugbetaling van die geld te beskerm, wil die EFF die kwessie net nie met rus laat nie.

Lees ook: ‘Ons is nie bang vir gevolge’ – J​ulius Malema

Die onlangse absurde verslag deur Nathi Nhleko, minister van polisie, is ’n aanduiding van hoe ver die ANC sal gaan om die president te beskerm.

Tóg het die EFF se taktiek afgesaag geword. Die ontwrigting van die NV, soos verlede week, sal kwalik die verantwoordbaarheid teweegbring wat hulle wil hê. Boonop is dit in beginsel ondemokraties om jou mede-LP’s dood te skreeu en die beslissings van die speaker te min­ag. Die parlement behoort ’n ruimte vir debat en beraadslaging te wees, maar ook van oorreding. Wat ons verlede week gesien het, was spektakel-politiek wat die parlement bloot ondermyn en op die duur sal laat wanfunksioneer. Is dit die resultaat wat die EFF nastreef?

Die leiers in die parlement en die voorsittende beampte moet ’n manier vind om konsensus te bereik oor hoe verdere skade aan die parlement verhinder kan word. En al wat die president moet doen, is om die geld terug te betaal.

Mbete het die parlement, onlangs ironies genoeg, as ’n “lewendige” ruimte vir debat beskryf. Haar posisie as speaker én as voorsitter van die regerende party het vanjaar meer as enigiets anders tot die verlaging van die vlak van debatvoering bygedra. Haar duidelik bevooroordeelde benadering blyk nie net uit haar rampspoedige voorsitterskap in die staatsrede-sitting nie, maar ook uit haar onvermoë om in te sien dat ’n belangebotsing haar posisie onhoudbaar maak.

Daar was in die laaste tyd verdere tekens van parlementêre ondoeltreffendheid. Toe PetroSA en die Sentrale Energiefonds onlangs die portefeuljekomitee oor energie voorgelig het, is joernaliste aanvanklik dié vergadering verbied.

Ná ’n lang heen-en-weerdery is joernaliste uiteindelik vir die laaste uur toegelaat. Die vergadering is buite die parlement se terrein gehou en dít was blykbaar die rede vir die verwarring.

Right2Know en ander organisasies was ook by ’n stryd om openheid rakende die aanstelling van die inspekteur-generaal van intelligensie betrokke.

Connie September, voorsitter van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie, het aanvanklik glad nie geneë gelyk om die proses oop te stel nie en het haar weer eens tot daardie geykte verskoning, “nasionale veiligheid”, gewend. Natuurlik is daar “spesiale reëls” vir hierdie komitee en is sy aktiwiteite by verstek geheim, wat beteken hy kan vergaderings oopstel net wanneer hy dit nodig ag. Geslote vergaderings is die reël eerder as die uitsondering. Die onlangse vergaderings oor die inspekteur-generaal is redelik onwillig oopgestel.

Alles in ag genome was dit ’n redelik slegte jaar vir die parlement.

Die “Praagse Lente” ná Polokwane met sy nuwe belofte en ’n groter geneigdheid tot openheid het, moontlik voorspelbaar, in ’n lang, donker winter vir die parlement ontaard. As die parlement die negatiewe openbare opvattings oor sy werksaamhede wil omkeer, sal hy ’n groter verbintenis tot deursigtigheid en die oorspronklike idee van ’n “volksparlement” moet openbaar.

In die meer onmiddellike toekoms sal die leierskorps oor partygrense heen ’n oplossing vir die dooie punt van Nkandla moet vind. 

Judith February is ’n senior analis by die Instituut vir Veiligheidstudie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.