Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koos Kombuis: ‘Is ons denke werklik so bankrot?’
Koos Kombuis

Dit moet vir baie mense deesdae lyk asof al die dinge waarin ons geglo het vir jare lank, al ons beste idees, meteens mank gaan aan geloofwaardigheid.

Vir 40 jaar lank, tot in die middel neëntigs, het baie van ons vaagweg geglo in “eendrag maak mag”. Hierdie ideaal is later vervang deur ’n ander soort eenheidstrewe, die ideaal van die sogenaamde “reënboognasie”. Die ideale van wit nasionalisme en die ideale van die “reënboognasie” blyk albei nou insolvent te wees.

Dit lyk asof al die kulturele bastions wat ons probeer bou het om die chaos buite te hou, vanaf die eng denke van die N.P. tot die droom van ’n eenheid bo alle rasgrense heen, meteens ’n dilemma ervaar wat vergelykbaar is met die Springbokke ná hul rampspoedige wedstryd teen Japan verlede maand.

Morele, strukturele en selfs geestelike bankrotskap.

Die droom van ’n “reënboognasie” is vervang deur die retoriek van die revolusie. Apartheid is terug in nuwe gedaantes.

In kort: hoe verder die spekter van wit nasionalisme verdwyn in die verlede in, hoe harder word die tromgeslag gehoor van ’n nuwe gedagtestroom: swart nasionalisme.

Natuurlik moet alle regdenkende Suid-Afrikaners enige vorm van nasionalisme verwerp. Om Mandela aan te haal:

"I have fought against white domination, and I have fought against black domination. I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons will live together in harmony with equal opportunities. It is an ideal which I hope to live for, and to see realised. But my Lord, if needs be, it is an ideal for which I am prepared to die."

Baie Suid-Afrikaners glo nog hierdie woorde, waarskynlik die meerderheid. Maar die ouens aan die verre linkerkant is so wanordelik en so luid dat hulle dreig om alle rasionele denke weg te skree.

Dit is bes moontlik in reaksie op hierdie tendens dat Hofmeyr, Dan Roodt, en hulle vriende aan die regterkant van nuwe Afrikanerdenke in die laaste paar jaar probeer het om die ideaal van wit nasionalisme op die ashoop van die geskiedenis gaan haal. Soos die spreekwoordelike lappop wou hulle dit afstof en probeer reg naai en weer mooi laat lyk.

Ek kan nie help nie om te wonder of die huidige viktimisering van Afrikaans as opvoederstaal juis gebeur het as reaksie op Steve-hulle se pogings om die Afrikaner te herdefinieer volgens die ou standaarde van die verre verlede.

Laat ons nou maar eerlik wees: dit gaan lankal nie meer oor “Die Stem”, of eens oor vryheid van spraak nie. Elke enkele oproep uit hierdie geledere is ’n poging om Afrikaners te mobiliseer om die nuwe swart nasionalisme teen te staan met ’n nuwe – of dieselfde ou – wit nasionalisme. Ek bespeur selfs iets hiervan in Solidariteit se voorgenome, alte eksklusiewe “Helpmekaarplan 2020” (maar ek hoop van harte ek is verkeerd).

Tot hul krediet kan ek sê hulle het die probleem eerste geïdentifiseer, voor die meeste van ons sogenaamde oopkop lefties.

Tot hul krediet sal ek ook erken: hul idees was totaal vry van enige pretensie tot politieke korrektheid. Soms wel tot op die punt van belaglikheid.

Ek is natuurlik glad nie seker hoe hulle hierdie filosofie in die praktyk sou wou laat werk nie.

Kom ons vra onsself liefs eers af: kan swart nasionalisme regtig werk? Is die ouens aan die ander kant van die spektrum enigsins meer realisties as Steve-hulle?

Nee, hulle is nie. Dis ’n hol beweging, ’n rigtinglose gespartel gedryf deur leë retoriek en geraas.

Die voorstanders van swart nasionalisme bepleit eenheid, maar daar is hoegenaamd geen eenheid nie. Hulle is verdeel in verskeie faksies en partye en vakbondgroeperings en almal haat mekaar want almal is in kompetisie met mekaar om eerste bo-op die mishoop te kom sodat hulle die meeste goeters vir hulself kan stroop.

Hierdie neo-swart beweging, die ouens wat verder wil gaan as blote gelykheid en wedersydse respek, die ouens wat alles waarvan hulle nie hou nie wil afmaak as “teen-revolusionêr”, die ouens wat die markstelsel nie slegs regverdiger wil maak nie maar uiteindelik wil afbreek tot op die grond, is nie dieselfde kaliber ouens wat geveg het in die ou struggle nie. Hulle is teoretici. Hulle is nie werklik bereid om te sterf vir hulle saak nie, want hulle is bang vir bloedspatsels op hul Rolexes en ontwerperspakke.

Dit is ’n pseudo-beweging.

Die grootste innerlike teenstrydigheid van hierdie pseudo-beweging is die belaglike feit dat hulle nie eens hul eie inheemse tale vertrou nie. Nee, hulle wil almal fênsie Engels praat soos wafferse kolonialiste wat trou gesweer het aan Koningin Victoria.

Om eerlik te wees, die enigste ding wat hulle beweging kan red, die enigste faktor wat hulle van hul verdeeldheid kan genees en wat sal maak dat mense hulle morele tekortkominge miskyk, is ’n gemeenskaplike vyand.

Daarom kap hulle na spookbeelde uit die verlede soos Rhodes en Van Riebeeck.

Dit was in hierdie stadium dat iemand soos Steve Hofmeyr tot hulle redding gekom en sê: “Ek sal jul vyand wees.”

En dit het ongelukkig in ’n mate gewerk. Hy het “Die Stem” gesing soos dit gesing is voor 1995; in antwoord daarop sing sommige groepe nou die ou Nkosi sikelel' iAfrika-lied, sonder die Afrikaanse woorde.

Ek kan nie help nie om te wonder of die huidige viktimisering van Afrikaans as opvoederstaal juis gebeur het as reaksie op Steve-hulle se pogings om die Afrikaner te herdefinieer volgens die ou standaarde van die verre verlede.

Hoekom op dees aarde? Hoekom al die vooruitgang wat sedertdien gemaak is, van die tafel probeer vee?

Sal iemand eendag op Twitter iets kan sê soos (en ek hoop nie dit gebeur ooit nie): “Steve Hofmeyr was the architect of the totalitarian black state in Southern Africa. Go figure.”

Grafika: Koos Kombuis

Dit, in kort, is die hoofrede hoekom ek die “nuwe” regses se ideologie verwerp. Nie omdat ek nie persoonlik van hulle hou nie. Bok van Blerk is ’n nice ou. Nie omdat ek dink hulle is dom nie. Dan Roodt is strate slimmer as ek. Nie omdat ek dink “Die Stem” is ’n k*k song nie. Dis nie.

Maar ons kan nie toelaat dat ouens soos hierdie, hoe goed hul bedoelings ook al, hoe opreg hulle ook al mag wees, in hierdie stadium van die geveg daardie lappop van ou Afrikanernasionalisme ophys op die besemstok van futiele en hopelose passie nie.

Nasionalisme kan nie met nasionalisme beveg word nie. Daardie oplossing is ’n kortpad na of ’n worst case scenario.

Daar is net een wedstrydplan wat dalk kan werk. En dit behels nog die vals eenheid van nasionalisme nog die kitsch drome van ’n “reënboognasie”. Ek praat van die doodgewone plein common sense van Mandela.

As Steve ’n leier vir die Afrikaners wil wees, sou hy beter doen as hy, in plaas van alle swartmense voor die voet af te maak as minderwaardige halfmense en die ganse volk saam met hom in ’n vriendelose, geïsoleerde hoekie vas te verf, hy ons eerder aanmoedig om vennote te probeer soek in mense soos Thuli Madonsela, Mmusi Maimane, die UDM (wat onlangs nog die ANC in ’n tussenverkiesing verslaan het), selfs Cope. ’n Land met ’n handjievol onvolmaakte vriende is beter as ’n onvriendelike land waar absoluut almal die vyand is.

Daar waai nuwe winde oor Suid-Afrika. Dit hoef nie die stormwinde van faksievorming en polarisasie te wees nie. Dit kan die vars bries van moderne diversiteit, pragmatisme en wedersydse respek wees.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.