Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: Afrikaans is op die agtervoet
Potch se voorland is blykbaar die onsalige dubbelmedium...

Dat die geveg om Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch as belangrikste onderrigtaal te behou min of meer verlore is, is ’n feit. Binne twee dekades gaan Afrikaans óf uitgerangeer wees óf bloot as versiersel fungeer.

Nou begin die geveg om Afrikaans op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) te behou.

Terwyl dr. Theuns Eloff rektor was, was Afrikaans veilig. Hy het ’n uitstekende stelsel ontwerp wat die wind netjies uit die seile haal van diegene wat kerm dat ’n Afrikaanse kampus dieselfde is as ’n apartheidskampus – ’n “volkstaat of the mind”, soos ’n vorige US-rektor, Chris Brink, dit genoem het.

Eloff se stelsel was dat álle studente wat in Potchefstroom wou studeer en aan die normale vereistes voldoen, toegelaat moes word, ongeag ras, geslag of huistaal. As hulle nie die Afrikaanse lesings kon (of, laat ons eerlik wees, wóú) verstaan nie, is hulle met fluistertolking gehelp.

Dit het uitstekend gewerk. Daarmee het Eloff en sy ondersteuners sowel die praktiese en akademiese as die ideologiese debat loshande gewen.

Maar nie die magspolitieke geveg nie. Min. Blade Nzimande, die kommunis wat vir tersiêre onderwys verantwoordelik is, kon dit met sy hekel aan Afrikaans en Afrikaners eenvoudig nie verdra dat daar nog ’n laaste Afrikaanse kampus in die wêreld is nie. Veral nie nadat die maghebbers in Stellenbosch ontdek het dat hulle water in hul ruggraat het nie.

En dus het daar, van buite gesien, ’n duidelike politieke bondgenootskap ontstaan tussen Nzimande en die nuwe NWU-rektor, prof. Dan Kgwadi.

Sedert sy bewindsoorname het Kgwadi in dubbelpratery uitgeblink. Nee, koer hy liefies, daar is geen bedreiging vir Afrikaans op Potch nie, maar dan sê hy ook weer Afrikaans is ’n hindernis in baie studente se pad om aan die NWU te studeer. Dit ondanks die feit dat dié “hindernis” – ’n onvermoë of onwil om Afrikaans te verstaan – lankal deur Eloff uit die weg geruim is.

En dus, sê hy, weier hy dat Potch ’n “enkel-Afrikaanse universiteit bly”. Potch se voorland is blykbaar die onsalige dubbelmedium wat bietjie vir bietjie by Stellenbosch ingevoer is en ’n yslike bydrae gelewer het tot die huidige glybaan na ’n “enkel-Engelse universiteit” (dis nou tensy ’n wonderwerk gebeur, wat seker nie onmoontlik is nie).

Kgwadi se woorde is nie al nie; nog belangriker is sy voornemende dade. Hy wil die drie kampusse verenig, die kampus-rektore (lees: Potch s’n) se mag breek en die sentrale fakulteitshoofde (wat aan hom verantwoordelik is) die bevoegdheid gee om die taalbeleid te bepaal (lees: Afrikaans te beperk).

Kgwadi het vroeër vandeesmaand ’n ander redenasie geopper: “Ek kan nie ’n situasie goedpraat waar studente na dieselfde universiteit gaan, maar aan verskillende hulpbronne blootgestel word nie. In ons strewe om vorentoe te beweeg, kan ons nie voortgaan met die onreg om mense op verskillende maniere te behandel nie.”

Dis soos Ouma se appeltert – wie kan daarteen wees? Maar wat op áárde het dit met Afrikaans te make?

 Leopold Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.