Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: Ekstremiste peul nou oral in Europa uit
Wat al die honderdduisende vlugtelinge egter gehóór het, was: Kom maar, ons kan julle almal hanteer.

In Europa word die lelike gesig van rassisme tans steeds openliker gesien. 

Enkele voorbeelde: 

■ Bondskanselier Angela Merkel word deur aanhangers van die regs-ekstremistiese groep Pegida (afkorting vir Patriotische Europäer gegen die Islamisierung des Abendlandes, of Patriotiese Europeërs teen die Islamisering van die Awendland) uitgeskel vir ’n “volks­verraaier” en ’n “slet”. 

 In die Nederlandse dorp Steenbergen ontwrig ’n groep ekstremiste, meestal van buite die dorp, ’n openbare vergadering oor die vestiging van ’n asielsoekersentrum daar. Die vieslikste verwensings (’n mens kan dit nie hier herhaal nie) word geslinger na diegene wat die probleem genuanseerd wil benader. 

 In die Sweedse dorp Trollhättan val ’n regse ekstremis mense in ’n skool met ’n mes aan en steek ’n onderwyser en ’n kind dood en verwond ander ernstig. Die polisie skiet hom dood. Kennisse vertel hy is ’n ek­stremis wat beswaar het teen Moslems in die land.

Oor die hele vasteland neem die kommer en verset teen die ongekende vlugtelingstroom toe.

In Duitsland, waar vanjaar tot anderhalf miljoen vlugtelinge (van wie 90% Moslems is) verwag word, wys peilings dat tweederdes van die mense – hoofsaaklik in die ooste – verwag dat die toestroming die binnelandse vrede negatief gaan beïnvloed. Ofskoon Merkel se steun onder haar eie party se ingeskrewe lede rotsvas is, neem haar Christen-Demokrate se steun landwyd af. In Nederland is die ver­regse Partij voor de Vrijheid, wat meen die vlugtelinge moet almal gedeporteer word, tans volgens peilings die grootste party, groter as selfs die konserwatiewe VVD.

Nietemin moet ’n mens versigtig wees om dit alles suiwer en alleen aan rassisme en vreemdelingehaat toe te skryf. Want die tsoenami van mense uit die buiteland skep, objektief gesien, ’n yslike probleem.

In die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale het die burgemeesters dié week ’n brief aan Merkel geskryf waarin hulle sê daar is nie meer plek vir ’n muis in die sentrums waar die vlugtelinge voorlopig gehuisves word nie.

Merkel het ’n paar weke gelede die wet van onbedoelde gevolge in werking gestel toe sy gesê het spesifiek Siriese vlugtelinge sal nie teruggestuur word nie. “Ons sal dit regkry,” was haar woorde. Wat al die honderdduisende vlugtelinge egter gehóór het, was: Kom maar, ons kan julle almal hanteer.

Merkel se motiewe was moreel suiwer. Maar in die politiek help suiwer motiewe nie altyd nie. En al moes sy haar retoriek verander, help dit nie veel nie. Dis soos ’n vol rivier wat eenvoudig oor ’n damwal stroom.

Wat hiervan moet word, kan niemand sê nie. Wat wel seker is, is dat dit, altans op kort termyn, die teenstellings tussen ekstremiste en gematigdes dramaties laat toeneem het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.