Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: Tien uit tien vir Mmusi Maimane
Maimane se boodskap, tot enkele woorde gereduseer, was dat die regering moet wegkom van sy fiksasie op China en Rusland.

Dit gebeur nie dikwels dat ek ’n politikus se toespraak prys nie; daarvoor is ek te sinies oor die spesie Homo politicus. Tog moet ek vandag ’n lansie breek vir ’n toespraak wat Mmusi Maimane, leier van die DA, onlangs oor Suid-Afrika se buitelandse beleid gehou het.

Maimane se boodskap, tot enkele woorde gereduseer, was dat die regering moet wegkom van sy fiksasie op China en Rusland. Hy het daarop gewys dat die Weste steeds die land se grootste handelsvennoot is en gesê dis nie in Suid-Afrika se belang om dié wêrelddeel die rug toe te keer nie, soos die regering doen.

Maimane het sterk klem gelê op die morele vakuum waarin die regering se buitelandse beleid beland het, iets wat vir sinici effens wêreldvreemd kan klink. Maar hy het dit aan harde ekonomiese belange gekoppel.

Suid-Afrika se ongesonde noue ekonomiese bande met China skaad ons land al klaar weens die probleme daar. En die onbetaalbare reusekontrak vir Russiese kernkragreaktors waarop die regering blykbaar afstuur, kan die land waarskynlik ’n ondraaglike las gee om te dra.

Van moraliteit gepraat: In Desember 1994 het die ANC, nog vars in die regering, ’n beleidsdokument uitgereik waarin hy moraliteit en menseregte tot sentrale pilaar van die nuwe regering se buitelandse beleid verhef het. Onder die beginsels waarop die ANC destyds sy buitelandse beleid wou baseer, was dié twee: “a belief in, and preoccupation with, human rights which extends beyond the political, embracing the economic, social and environmental” en “a belief that just and lasting solutions to the problems of humankind can only come through the promotion of democracy, worldwide”.

Lees ook: ‘SA moenie net China ​en Rusland koester’

Oor die sentrale rol van menseregte is sonder omhaal van woorde verklaar:

“In this we shall not be selective nor, indeed, be afraid to raise human rights violations with countries where our own and other interests might be negatively affected. South Africa’s experience, we believe, shows how damaging policy can be when issues of principle are sacrificed to economic and political expediency.”

Wat gebeur egter? In die bewindstyd van wyle pres. Nelson Mandela het die regering ’n halfhartige poging aangewend om bogenoemde mooi woorde in dade om te sit. Maar die Nigeriese diktatuur het Mandela ’n bloedneus gegee toe hy die opposisieleier Ken Saro-Wiwa probeer vry kry het.

Daarna het Mandela die Libiese diktator Moeammar Ghaddafi “my broer” genoem en voor ’n horde televisiekameras omhels.

En toe kom sy opvolger, pres. Thabo Mbeki, wat elke diktator in die Derde Wêreld – van Robert Mugabe van Zimbabwe tot Jean-Bertrand Aristide van Haïti of die militêre diktatuur in Mjanmar – beskerm het. En Jacob Zuma het steeds vinniger op daardie pad geloop deur ’n oorlogsmisdadiger soos Omar al-Basjir van die Soedan te laat loop (en die Suid-Afrikaanse Grondwet in die proses skaamteloos te verkrag).

Meer nog, die ANC neem standpunt in vir Rusland en China en teen die Weste. In ’n onlangse diskussiedokument sê die ANC jou werklikwaar Rusland het hom die toorn van “Amerikaans-geleide Westerse imperialisme” op die hals gehaal.

Dít van ’n land waar twee onafhanklike rolprentmakers net vandeesweek nog onderskeidelik tot 10 en 20 jaar in strafkampe gevonnis is omdat hulle die Russiese militêre inval in die Krim veroordeel het.

Maimane is reg: Die ANC se buitelandse beleid is ’n morele vakuum. Hy is ook reg dat dié beleid regstreeks teen ons land se ekonomiese belange indruis.

Maar nou ja, wat kan jy anders verwag van ’n party wat in die struggle soos ’n getroue kuiken klakkeloos en kritiekloos agter die Kremlin se leiding aangeloop het?

 Leopold Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.