Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz:Die EU as breë kerk relevant vir Suid-Afrika
Of hulle álmal summier as ekstremiste beskryf kan word, is dalk debatteerbaar.

In die debat wat vandeesweek op die toespraak van die Griekse premier, Alexis Tsipras, in die Europese parlement gevolg het, was daar één besonder onthullende oomblik.

Dit was toe die leier van die konserwatiewe Europese Volksparty-koukus, die Duitser Manfred Weber, gepraat het. Hy het Tsipras ongenadiglik gekasty, en bygevoeg:

“Aan jou vriende word jy geken. Wie juig jou vandag hier so toe? Dis die ekstremiste aan weerskante, links en regs.”

Dit het aanleiding gegee tot ’n woedende storm van verontwaardiging, en die voorsitter van die parlement, Martin Schulz, het moeite gehad om die orde te herstel. Daarmee het Weber ’n oop senuwee aangeraak, want lede van die Marxistiese partye lê in hul teenkanting teen die Europese Unie (EU) en die euro in één loopgraaf saam met regses soos Marine le Pen, Nigel Farage, Geert Wilders en ander.

Lees ook:

Grieke dien ‘ou’ plan​ op nippertjie in

Griekeland het nét​ 5 dae oor

Hou dop: Paniek op ​markte duur voort

Of hulle álmal summier as ekstremiste beskryf kan word, is dalk debatteerbaar. Maar dis interessant dat mense se teenkanting teen die Europese projek feller word namate hul oortuigings nader aan die uiteindes van die politieke spektrum beweeg.

Die afgevaardigdes wat Tsipras gesteun het, het gehamer op begrippe soos trots, selfbeskikking en nasionalisme, wat vir Suid-Afrikaanse lesers bekend sal wees.

Die probleem is dat hulle in die huidige ­Europa nie meer op die ou manier nagestreef kan word nie. Juis omdat hulle in die ou Europa te dikwels tot konflik en oorlog gelei het, is ná 1945 besluit om ’n nuwe Europa te skep waarin dit vir selfs tradisionele aartsvyande soos Duitsland en Frankryk onmoontlik sou wees om mekaar weer aan die keel te gryp.

In die proses is die Europese ekonomie nou reeds só intens vervleg dat Griekeland ekonomies nie meer op sy eie bene kan staan nie. Gevolglik is Tsipras-hulle se verset teen die prysgawe van Griekeland se ekonomiese (en dus ook politieke) soewereiniteit ’n geveg wat hulle eenvoudig nie kán wen nie.

Maar Griekeland is klein en swak. En tog geld dit selfs vir ’n sterk land soos Brittanje, wat ook nie lekker in sy Europese vel pas nie. Breek Brittanje weg uit die EU, gaan dit regtig vir yslike probleme sorg – nie in die laaste plek nie vir die Britte self.

Dit wil nie sê dat daar geen plek meer is vir selfbeskikking, nasionalisme en trots in jou eie in Europa nie. Inteendeel, die besef dring steeds meer op dat die oorkoepelende Europese projek, waar almal in dieselfde boot is, ruimte moet maak vir mense om op verskeie terreine – etnies, streekverband, godsdienstig, noem maar op – hulself te wees.

Tsipras en die regtervleuel van die Britse Tories se verset teen Brussel is begryplik maar anachronisties. ’n EU as breë kerk met vele kamers lyk na die toekoms – en dis ook vir Suid-Afrika relevant.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.