Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lood se praatjies: Huis, paleis, pondok, varkhok

Die president wil hom steeds slap lag oor Nkandla.

Lood kan nie sien hoe dit snaaks is dat die belastingbetaler R246 miljoen vir die prez se woning moes opdok nie, maar ou Zuma skater nog al die pad.

“As jy mos ’n huis daar bou (in Nkandla), noem mense dit ’n herehuis. Daar moet ons mos net rondawels bou,” het hy laggend

gesê toe hy in Midrand by ’n beraad vir swart sakelui gepraat het.

“Hoe meer jou rondawel ontwikkel,” het hy voortborduur, “hoe meer is jy ’n gere­spekteerde man. As jy iets anders bou, word dit ’n onderwerp van bespreking waarvoor selfs die parlement ophou wette maak sodat hulle altyd Nkandla kan bespreek.”

Dit het Lood laat dink aan daardie kinderrympie: Huis, paleis, pondok, varkhok. Vir Zuma is daar duidelik niks tussenin nie. ’n Huis is buite die kwessie, dis óf ’n pondok óf ’n paleis. En waar sal onse Numba One nou settle vir eersgenoemde as hy laasgenoemde met komplimente van die staatskas kan kry?

Duidelik is die parlement se prioriteite verkeerd. Hulle moet ophou teem oor die keiser se kasarm en eerder meer wette maak om hom te beskerm.

Lood moes toe maar saam met die prez lag, anders sou hy huil.

Sy lyk vir my so baie...

Intussen het Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, sy lewe gewaag deur Helen Zille, leier van die DA, met oudpres. PW Botha te vergelyk.

Helen en PW blaas albei rassisme aan, seg hy. Gelukkig vir Fransman het hy die vergelyking by politieke ideologie gehou, want as hy dit deurgetrek het na voorkoms, weet Lood nie of Fransman die toorn van Wille Zille sou oorleef nie.

Lood wil net aan Fransman vriendelike raad gee: Onthou net, Marius, waar ou PW die vinger geswaai het, swaai antie Helen die vuis . . .

Kaartman

So gepraat van manne wat moet koes vir Zille, James Masango moet pasop. Dié DA-LP sit toe mos heerlik in die parlement en kaart speel op sy tablet.

En moet dit nie probeer ontken nie, James, Lood het ’n foto en Solitaire is

Solitaire. Niks kan dit na ernstige parlementêre sake laat lyk nie.

Ná baie dekades in die parlement kan Lood aan James goeie raad gee: Hou eerder jou kaarte styf teen jou bors, ou maat, jou leier sien alles. Maar Lood moet bieg: As iemand wat gereeld na ledeverklarings in die parlement moet luister, kan hy begryp hoekom sommige LP’s ander vermaak soek.

James Masango, DA-LP, het nog nie die kuns geleer om sy kaarte teen sy bors te hou nie. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.