Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Maties se taalbeleid weerhou ons van tower-omgewing, grootse ontdekkings’
Gita du Toit

Daar is geen manier om na die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid te kyk sonder om tot die gevolgtrekking te kom dat dit opsetlik swart Suid-Afrikaners daarvan weerhou om hier ’n opvoeding te ontvang nie. Deur daarop aan te dring dat die universiteit aanhou om in Afrikaans op te voed, dring jy ook aan op die witheid van die instelling.

Ek is ’n wit, Afrikaanse oudstudent van dié universiteit, met ’n familiale erfenis wat nog veel verder terugstrek. Dit gee my besonderse genot om sedert ek in 2012 gegradueer het my lang en gevestigde geskiedenis met Stellenbosch te deel.

Die #OpenStellenbosch-beweging het die afgelope week ’n kritieke punt bereik. My geskiedenis op Stellenbosch in ag genome, is my sosiale media-blaaie aan die bewe met kwalik versluierde rassistiese menings – in Engels geplaas – oor die geldigheid van die beweging se bewerings. Wat ek hoor as ek hierdie plasings lees, is: “Ons soek julle nie hier nie”.

Wat ek hoor is: Ons wil Stellenbosch eerder as ons eie behou. Om te ekstrapoleer: Diversiteit is goed en wel vir plekke soos die Universiteit Kaapstad en Wits, waar die geboue van bakstene gemaak is en jy die snelweg van die kampus af kan sien. By Maties is die klasse pêrelwit geverf en niemand hoef die grint te sien wat agter die sluier van wynlande lê nie. Ons beplan om dit só te hou. Ons studente stap klas toe deur boomlanings en strate met klein koffiewinkels, en ouers voel trots daarop dat hul kinders die regte soort opvoeding ontvang. Ons moet dalk elders diversiteit verdra, maar nie op Stellenbosch nie.

Die Universiteit Stellenbosch gebruik die T-opsie-taalbeleid, wat al sedert die totstandkoming daarvan omstrede is. Die rede waarom almal warm onder die kraag daaroor is, is dat dit nie werk nie. Lektore moet ’n buitensporige hoeveelheid tyd daaraan bestee om oor te skakel tussen Engels en Afrikaans, met soveel wat tussenin verlore raak. Dit help nie om Afrikaans te bevorder nie en dit is beslis nie gunstig vir die akademiese ervaring nie.

Afrikaans is nie, en sal nooit, erken word as ’n internasionale akademiese taal nie. Om die teendeel voor te gee, is gek. Enige universiteit, en veral dié wat hulself as besonders beskou, behoort die kommunikasie van kennis deur kritiese ontleding sy hoogste prioriteit te maak.

Om die massas op te voed is ontsettend moeilik, en op die oomblik misluk Suid-Afrika hierin. Om te eis dat ’n tiener wat ’n opvoeding wil hê eers ’n ander taal moet aanleer, is wreed en onnodig. Pogings om ’n generasie van geskoolde arbeid te verseker, behoort nie beperk te word deur vaardigheid in ’n taal wat geen werklike markwaarde inhou nie.

Stellenbosch is ’n spesiale plek. Die kulturele en akademiese geleenthede wat dit vir studente bied, is ongeëwenaar.

Die mees gewilde argument wat dikwels gebruik word, is dat “hulle iewers anders heen kan gaan”. Buiten die feit dat dié retoriek ’n erg rassistiese “andersmaking” (in die “hulle”) betrek, ignoreer dit ook dít wat die meeste van ons wat gelukkig genoeg was om op Stellenbosch te studeer besef: Stellenbosch is spesiaal. Niks kom naby daaraan nie. As die voorreg om hier op universiteit te wees voorwaardelik is deur vlotheid in Afrikaans, is toelating ook in effek voorwaardelik op grond van witheid of, ten minste, die soort swart persoon wat nie groot gedeeltes van die studenteliggaam ongemaklik gaan maak nie.

Stellenbosch is ’n spesiale plek. Die kulturele en akademiese geleenthede wat dit vir studente bied, is ongeëwenaar. Gaan ons werklik onsself oortuig dat dié goeie kwaliteite aan ’n mens gebied word slegs deur die genade van oorweldigende witheid? Sekerlik kan ons nie diegene wat Stellenbosch op so ’n aanstootlike wyse onderskat ondersteun nie. Is ons werklik só verbind daartoe om voor te gee dat ons nie in Afrika woon nie?

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch het twee keuses: Hulle kan aanhou voorgee dat die T-opsie-taalbeleid werk en dat bewerings van rassisme “uniek” is. Dít sal bewys dat die universiteit stagneer in sy aandrang daarop om die gevoelens van dooie Afrikaanse mans en die gemaksone van hul bevoorregte jeug te beskerm.

Die ander opsie is om Engels die primêre onderrigtaal te maak en die universiteit te transformeer tot ’n maatstaf vir omvattende en insluitende tersiêre opvoeding in Afrika, om te help om ’n omgewing te kweek en te koester waarin ons moontlik die Tolstoi van die Zoeloes of die Twain van die Xhosas kan vind.

Wat ’n betowerende gedagte.

■ Du Toit is ’n oudstudent van die Universiteit Stellenbosch.

■ Hierdie artikel het oorspronklik op Business Day se webwerf verskyn.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.