Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Dit is tyd dat Zwelithini vasgevat word
Drie dae later het die Herald in Zimbabwe voorspel dat sy uitlating ’n nuwe vlaag van aanvalle op Zimbabwe-burgers gaan ontketen.

Minder as twee uit tien Suid-Afrikaners sien koning Goodwill Zwelithini as hul koning. En tog betaal ons almal sowat R60 miljoen per jaar om hom aan die gang te hou en gedra hy hom asof hy regtig die nasionale monarg is op wie die Grondwet nie van toepassing is nie.

Suid-Afrikaners mag nie Zwelithini se roekelose uitlatings oor immigrante, wat die sigbaarste sneller vir die

nuwe bloedige vlaag van xenofobiese aanvalle was, net in die doofpot stop nie. Sulke uitlokkende woorde deur ’n invloedryke openbare figuur moet ernstige gevolge vir die gebruiker inhou.

Tradisionele leiers het sekerlik nog ’n rol. Amper ’n derde van ons bevolking woon steeds in tradisionele gebiede en veral die ouer geslag respekteer nog hoofmanne en hul gesagstrukture. Natuurlik moet die res van ons dit respekteer.

Die natuurlike proses sou wees dat dié kultuur geleidelik verswak soos verstedeliking toeneem en gemeenskappe moderniseer, maar dit begin al hoe meer lyk asof die regerende ANC dit kunsmatig aan die gang wil hou om te vergoed vir die steun wat hulle in die stede verloor. Onlangse wetgewing wat tradisionele leiers se magte uitbrei, is een aanduiding daarvan.

Zwelithini word anders as die ander konings en opperhoofde behandel. Die Temboe, die Xhosa, die Mpondo en die Pedi het ook konings, maar hulle kry maar sowat R1 miljoen per jaar elk. Daar is meer as 800 senior tradisionele

leiers en meer as 5 000 hoofmanne in die land wat heelwat kleiner salarisse van die staat kry.

Zwelithini laat hom al dekades lank deur politici as speelbal gebruik. Eers deur Mangosuthu Buthelezi en Inkatha toe hy oorlog teen die ANC en die UDF gemaak en die Kodesa-onderhandelinge in die wiele probeer ry het en meer onlangs deur die ANC. Hy was ’n sleutelsteen in pres. Jacob Zuma se veldtog om die Zoeloesprekendes as sy primêre ondersteuningsbasis te vestig en doeltreffend as politieke instrument te gebruik.

In die proses het Zwelithini van sy prestige verloor, maar baie Zoeloesprekendes sien hom steeds as umlom’ ongatheti manga, die mond waaruit daar geen leuens kom nie. Hy speel steeds ’n belangrike politieke rol onder Zoeloesprekendes en beheer ’n derde van die grond in KwaZulu-Natal.

Zwelithini is ’n onbeskaamde aartspatriarg met ses vroue en, toe ek laas getel het, by die 30 kinders. Drie jaar gelede het hy homoseksualiteit in die openbaar as verkeerd en “verrot” bestempel – en agterna verklaar dat hy buite konteks aangehaal is.

Presies ’n maand gelede het Zwelithini onder groot gejuig aan ’n gehoor in Pongola verklaar: “Ons vra dat mense wat van buite die land kom, hul besittings moet oppak en teruggaan na waar hulle vandaan kom.”

Drie dae later het die Herald in Zimbabwe voorspel dat sy uitlating ’n nuwe vlaag van aanvalle op Zimbabwe-burgers gaan ontketen. Nie lank daarna nie het die eerste aanvalle op buitelanders in Durban begin en kort daarna het die hostelbewoners van Johannesburg ook begin deelneem.

Zwelithini se verskoning dat hy weer buite konteks aangehaal is, is deur die ANC-politici aanvaar. Dis natuurlik twak. Hy weier om stil te bly as “mense wat geen sê het nie, met hierdie land speel”, het hy gesê en bygevoeg: “Dit is nou tyd vir ons om ’n sê te hê. Ons moet werk maak van ons eie luise.” Die buitelanders is oral, het hy gesê, en hulle maak ons strate vuil.

Die koning het tot Maandag, nadat die aanvalle reeds stopgesit is, gewag om ’n imbizo te hou waar die aanvalle bespreek is.

Dis tyd dat die koning van die Zoeloes op sy plek gesit word. ’n Goeie begin sou wees om sy beursie aansienlik te laat krimp.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.