Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Grond skuif onder Maties
Studente van die organisasie Open Stellenbosch betoog by die inhuldiging van prof. Wim de Villiers, visekanselier en rektor van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Edrea du Toit

Die grond het verlede week beduidend onder die Universiteit Stellenbosch (US) geskuif. Die ruimte vir maneuvrering is skielik heelwat minder.

Meer as ooit tevore sal dié universiteit nou sy eeu oue mantra, “Stellenbosch staan vir ’n idee”, fundamenteel moet herondersoek.

Dié “idee” kan nie meer ’n “bakermat-idee” of dié van ’n “Afrikaanse universiteit” wees nie. Is daar nog genoeg ruimte om iets soos ’n “Afrikaans-georiënteerde” universiteit te wees wat die taal se “hoër funksies” gaan help bewaar? Miskien.

Die kantelpunt in die jare lange debatte oor die siel van Stellenbosch en sy verhouding met Afrikaans was ’n video met die titel ​Luister. Teen gistermiddag het meer as 172 000 mense al op You­Tube daarna gekyk. Van dié kykers is in Luthuli-huis, die parlement en die Uniegebou. Dit was soos ’n skop in die maag.

Die video wys onderhoude met swart en bruin studente wat heel besadig en geloofwaardig vertel watter blatante rassisme hulle op die kampus ervaar en hoe moeilik dit vir hulle as nie-wit nie-Afrikaanssprekendes is om aan die universiteit te studeer.

Toe ek klaar na die ontstellende dokumentêr gekyk het, het dié vraag by my opgekom: Is rasse-antagonisme nie eenvoudig onvermydelik op ’n kampus wat oorwegend Afrikaans en oorwegend wit-met-’n -bietjie-bruin wil wees nie? Waar swart studente as die “ander”, as indringers gesien word?

Onverdraagsaamheid en vooroordeel is tog die antitese van die konsep van ’n universiteit, dan nie?

Is rasse-antagonisme nie eenvoudig onvermydelik op ’n kampus wat oorwegend Afrikaans en oorwegend wit-met-’n -bietjie-bruin wil wees nie?

Ons het dit dié week ook op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit gesien. Ná ’n onstuimige opmars van die ANC-jeugliga op die kampus is die studentekoerant, Wapad, se Facebook-blad oorstroom met die grofste rassisme denkbaar. Woorde soos “houtkoppe”, “ape” en “bobbejane” is vryelik deur studente en oudstudente gebruik. “Hulle wil net suip, kinders maak, moor en steel,” was die aanslag en die subteks; dis óns plek dié, “die blankes het die universiteit gebou”.

Geen nugterdenkende kan in 2015 nog glo nie dat ’n prestige-universiteit soos die US ’n plek in ’n oop demokrasie soos ons s’n kan hê as swart studente ontmoedig word om daar te studeer. En as swart lektore (dus meestal nie-Afrikaanssprekendes) nie gelok word nie.

Ek berei my klaar voor vir al die holruggeryde argumente wat van die bekende taalbulle gaan kom: Wat van die arm bruin kinders wat nie Engels magtig is nie? Hoekom kan swart studente nie na die twee Engelstalige universiteite in die Wes-Kaap gaan nie? Die Grondwet sê Afrikaans en ander inheemse tale moet beskerm en bevorder word. Ensovoorts.

Jammer, kêrels, dit is gister se argumente. Jul meedoënlose agitasie het Afrikaans en Stellenbosch geen guns gedoen nie. Julle praat nie regtig van taal nie, julle praat van identiteit.

Wees ’n slag eerlik daaroor; dan praat ons verder. En kyk na Luister voordat julle praat.

Een van die studente in die video sê hy eis dat die US moet lyk “soos ons, soos Suid-Afrika” – met ander woorde, 90 persent swart. As ons dié soort tirannie van getalle wil voorkom, sal die US nóú hard moet begin werk aan sy “idee”.

As oudstudent, as Afrikaanssprekende en as Suid-Afrikaner wil ek graag sien dat die US die top-universiteit in Afrika en een van die bestes in die wêreld word. Kennis, en nie taalaktivisme of groepsbeskerming nie, is die lewensbloed van ’n universiteit.

Ek glo sterk aan die oudrektor Chris Brink se credo dat diversiteit noodsaaklik vir kwaliteit is, veral in ’n gemeenskap soos ons s’n.

Dit is wonderlik dat Afrikaans as inheemse taal ’n wetenskaplike taal, ’n taal met “hoër funksies” is. Ja, dit is waar dat dié prestasie nie sonder Afrikaner-oorheersing oor ’n halfeeu moontlik sou gewees het nie, maar dit is nie genoeg rede waarom dit prysgegee moet word nie. Afrikaans is ’n nasionale bate.

Die “hoër funksies” kán nog bevorder word. Afrikaanse voorgraadse studente kán nog in Afrikaans bedien word. Stellenbosch moet liefs nie net nóg ’n Engelstalige universiteit word nie. Maar dit ís moontlik om dit te doen én ’n verwelkomende, diverse kampus te wees. Chris Brink se boek No Lesser Place spel dit uit.

Nelson Mandela het in 1996 op Stellenbosch gesê hy droom dat Afrikaners en Afrikaanse instellings nooit weer dikbek en eenkant gaan staan nie, maar vervleg gaan word in die vernuwing wat ons Suid-Afrikaners besig is om te skep.

Hoe klink dit vir ’n nuwe “idee”?

■ Max du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke kommentator.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.