Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Waar was júlle, Afrikaners?
Tukkie-studente maak gereed vir die protesoptog na die Uniegebou.
Studente het Donderdag op die kampus van die Universiteit van Pretoria betoog as deel van die #FeesMustFall-beweging. Foto’s: Herman verwey

As die opregtheid, welsprekendheid en rasionaliteit van die meeste studente met wie die media dié week gesels het jou nie beïndruk het nie, moet jy siende blind en horende doof wees.

As jy nie diep geroer is deur van die studente wat van hul drome, probleme en huislike omstandig­hede gepraat het nie, het jy ’n hart van klip.

Die gehalte van die jongmense (veral die vroue) wat die afgelope week weerspieël is, gee my baie hoop vir ons toekoms.

Vergeet ’n oomblik die kapokhaantjies wat op die polisie skel, die handjievol wat geweld­dadig word, die testosteroon-egoïste met hul hiperbool en retoriek en die jeugdige voortvarendheid.

Luister, luister ’n slag regtig na wat die studente te sê het. Ons moet vir ’n oomblik uit ons wit middelklas-Afrikanervel klim en as mense na ander mense luister, as burgers na medeburgers. Ons sal verbaas wees hoeveel empatie ons gaan voel, hoeveel gemene grond daar bestaan.

Die grond het die laaste paar dae betekenisvol onder Suid-Afrika geskuif, en daar is ’n groot nasionale opwinding oor wat dit kan beteken; watter nuwe orde ons hieruit kan bou.

Die studente wat hul protesreg tot by die deure van die parlement, Luthuli-huis en die Uniegebou geneem het, was ’n belowende teken dat die ANC se hegemonie – inderdaad, sy legitimiteit – uiteindelik begin wankel. Dit is presies wat ons demokrasie nou nodig het. Dit is waarvoor ware demokrate al ’n dekade lank wag.

Die landwye be­weging gaan nou oor veel meer as klasgeld. Dit gaan vandag oor hoe die ANC-regering die burgers van die land behandel. Dit gaan oor arrogansie, outoritarisme, selfverryking, wanadministrasie, nepotisme en korrupsie. Oor ongelykheid en die beloftes in ons Grondwet wat nie nagekom is nie.

#BladeMustFall, #ZumaMustFall, sê die studente, al gooi Gwede Mantashe ook watter jakkalsdraaie.

Hier word geskiedenis gemaak, en julle is nie deel daarvan nie.

Tienduisende studente, die meeste van hulle onder 25 jaar, kwaad en passievol, het reg oor die land aan die protes deelgeneem. Dis ’n wonderwerk hoe min geweld daar was; dís nou buiten die polisie se oorreaksie by ’n paar geleenthede.

Die laaste keer dat groot proteste só vreedsaam en effektief was, was die People’s Power-opmarse van September 1989.

Ironies genoeg was die geweldenaars by die Uniegebou volgens alle aanduidinge lede van twee ANC-strukture: die jeugliga en Sasco. Agents provocateurs?

Hier is ’n feit soos ’n koei: As die studente nie kampusse en geboue beset en opmarse gehou het wat verkeer ontwrig het nie, sou die regering en die res van ons hulle bloot geïgnoreer het; sou ons nie dié historiese oomblik belowe het nie.

Ek het lanklaas die kloof tussen Afrikaners en die res van Suid-Afrika so grafies uitgebeeld gesien soos die afgelope week.

Die enigste Afrikaanse studente wat die nuus gehaal het, was die arme siele wat die standbeeld van ’n ou volksvader en apartheids­profeet in Potchefstroom teen ’n “aanslag” van medestudente gaan “beskerm” het.

’n Groot aantal wit mense en Afrikaners, dalk die meeste, het nors voor hul TV-stelle gesit en knor terwyl hulle die studente­protes dopgehou het. Ek het ’n groot klomp van hulle in die sosiale media raakgeloop waar hulle óf soos misnoegde ouballies die baldadige “kinders” gekasty en verkleineer óf sommer kortpad na rassistiese kommentaar gevat het.

(Ek lees onlangs ’n nuwe boek oor die Anglo-Boereoorlog en wonder toe wanneer ons Afrikaners die Christiaan de Wets en Koos de la Reys se spesiale talent vir strategie en taktiek verloor het. Miskien moet ons soos Jacob Zuma maak en apartheid die skuld gee.)

Is Afrikaners só behep met hul taal en minderheidsregte en -voorregte dat aardskuddende politieke omwentelinge hulle koud laat?

Dit lyk amper asof die enigste twee groepe Suid-Afrikaners wat nie die potensiaal van die oomblik aanvoel nie, in Luthuli-huis en in Afrikaner-suburbia sit.

Ek wil Afrikaanse studente en dosente vra: Stem julle saam dat die staat universiteite verwaarloos terwyl hy toelaat dat korrupsie, vrot regering en ideologies-gedrewe projekte miljarde rande insluk? Stem julle saam dat dit moreel gebiedend en in die belang van stabiliteit is dat soveel moontlik behoeftige swart studente wat akademies kwalifiseer, gehelp moet word om grade en diplomas te kry?

As jul antwoord nee is, is my raad: Gaan trek laer saam met Solidariteit se Plan B en sy Boere-universiteit.

As jul antwoord ja is: Wáár was julle dié week? Hier word geskiedenis gemaak, en julle is nie deel daarvan nie. Jul teenwoordigheid sou ’n geweldige simboliese impak gehad het.

Moet swart mense al weer ons vuilwerk doen terwyl ons toekyk?

Max du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke kommentator.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.