Riaan Grobler
Lesers het met
geesdrif gereageer op my artikel oor algemene taalfoute wat
Afrikaanssprekendes onbewustelik maak. Baie het nie geweet huidiglik en nogals is
nie erkende woorde nie en dat op pad
as twee woorde geskryf word nie. Ander het weer gevoel taalkenners is te
voorskriftelik en mense moet kan praat en skryf soos hulle wil.
Baie ander
lesers het weer in kommentare en boodskappe hul mond uitgespoel oor vele ander
taalgoggas wat hulle dwars in die krop steek.
Daarom het ons dié week ’n lys van algemene taalfoute saamgestel wat grootliks deur
lesers voorgestel is.
Toets
jouself!
10. braaf /
dapper
Baie mense
dink braaf beteken dieselfde as die Engelse “brave”, maar dit is glad nie die
geval nie. Braaf beteken deugsaam,
fatsoenlik of goed. Wanneer jy baie moed het, is jy dapper, nie braaf nie.
9. van dit
/ vir dit / met dit / in dit
In die
meeste gevalle is ’n voorsetsel voor die woord dit verkeerd. Gebruik eerder daarvan, daarvoor, daarmee, daarin,
ensovoorts.
8. herinner
/ onthou
“Onthou my
dat ek brood koop” is nie reg nie. Jy herinner
iemand om iets te doen. En dis nie “herhinder” nie. Jy sal taalbulle baie
hinder as jy dit so spel!
7. offer / aanbod
Ek het onlangs op ’n Facebook-groep afgekom met die naam, “Maak my ’n
offer!” In Afrikaans is ’n offer
egter iets wat as huldebetoon aan ’n god gemaak word, ’n offerande, soos ’n
mens vind in die Bybel. Wanneer jy iets wil koop, maak jy ’n aanbod.
6. wen /
klop
Jy kan nie
’n ander span of mededinger wen nie, jy klop
hulle. Jy kan wel die wedstryd of kompetisie wen.
5.
Australiërs
Daar is nie
’n ding soos “Australianers” nie – dis Australiërs.
’n Mens praat mos nie van Indianers nie!
4.
samestellings
Die
algemene reël in Afrikaans is een konsep, een woord. Daarom is skool + boek = skoolboek, nie skool boek nie. Soms kry
’n mens ellelange woorde wat vreemd lyk, maar nie verkeerd is nie, soos
skoolboeksamestellersverenigingvergaderingagendawysigingversoek.
3. dus /
dis
Dit is = dis, nie dus nie, byvoorbeeld “dis ’n warm dag vandag”. ’n Mens kan
ook smul aan ’n lekker dis. Dus het
dieselfde betekenis as derhalwe, gevolglik, daarom.
2. ronde /
rondte
Ons almal
het al gehoor van ’n ronde sirkel, maar nie baie mense weet dat ’n ronde ook
gebruik word om ’n fase of afdeling in ’n opeenvolgende reeks, soos ’n
sportkompetisie, aan te dui nie.
Met ander
woorde, jou span is deur na die tweede ronde.
Jy kan ook vir jou vriende ’n ronde
drankies bestel.
Maar wat
dan van rondte? Rondte word gebruik
om iets aan te dui wat dieselfde begin- en eindpunt het. Jy kan dus ’n rondte om ’n atletiekbaan hardloop of
in die rondte draai.
1. proe /
smaak
Om te proe, is ’n handeling. Kos of drank kan
nie proe nie. Daarom is dit verkeerd om te sê “hierdie koffie proe darem
lekker!”. Maar jy kan wel proe die koffie smaak
alte lekker...
Bronne: Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, Skryf
Afrikaans van A tot Z, Pharos- aanlyn woordeboek.