Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
GOEIEMôRE
Ons eis beter Afrikaanse musiek op lug
Charles Smith

Dis nie net Steve wat kwaad is nie. Ons is ook omgekrap, kwaad, keelvol. Dis nou ons, die alternatiewe Afrikaanse musiekluisteraars.

Steve veg vir bebaarde kakiebrigades wat op en af marsjeer op die maat van Pampoen (of so iets). Maar ons veg vir die reg om gehoor te word.

Dié naweek luister ’n klompie van ons in die reën na briljante Afrikaanse musiek wat feitlik nóóit op enige radiostasie gespeel word nie. Wat nog te sê geboikot word soos genl. Hofmeyr.

Daar speel Volkspeler (van Bloemies!), Bacchus Nel, Lyzyrd Kyngs (Piet Botha met Akkedis), Jan Blohm en Albert Frost op ons voorstoep omdat een ou besluit het hy wil vir ’n slag die beste musiek híér hoor.

Bacchus Nel maak sekerlik die mooiste musiek in die soetste taal. Dis vol ritme en swing met ’n lieflike, melankoliese stemming en met ’n meisie aan die sy wat die bekfluitjie laat tjank en skreeu.

Maar hoor jy dit op RSG? Nie sommer nie. Op Ofm met sy baie Afrikaanse luisteraars? Natuurlik nie – daar is mos goedkoop, afgeremde twak uit die tagtigs wat hulle elke dag speel. Jy luister na Piet en sy tjomme se Ghosts of Berlin oor die spoke wat hy met sy elektriese kitare laat huil en jy wonder hoekom hoor ons nie dié musiek oor die draadloos nie? As jy 10 minute na kykNet se musiekkanaal kyk wat net lagwekkende Afrikaanse gemors speel, sal jy fisiek naar word. Hoekom verdra ons dit? Marthinus Steenkamp het besluit hy gaan self iets doen, toe bespreek hy die beste Afrikaanse musiek en stel 400 kaartjies beskikbaar. Hy moet met die orde van die Vrystaat vereer word.

Koos Kombuis het gesing die alternatiewe Afrikaner in die stad dra sy masker soos ’n kat, maar dis tyd om die maskers af te ruk. Dis tyd om RSG, Ofm, kykNet te vra: Hoekom verwoes julle Afrikaans met kommin liefiediefie-sokkiestrooi en begin nie soek na goeie musiek in die taal van Breyten, Kombuis. Blohm, Bacchus, Piet Botha en kie. nie? Stasies maak mense ver­slaaf aan gemors en sê dan: Kyk, hulle wíl net gemors hoor.

Dis tyd vir ’n alternatiewe Afrikaanse mu­siekstasie. RSG se programme is tops, maar ons eis beter musiek. Gaan luister op bacchus­nel.com na proesels van sy songs.

Huil maar, ja, oor hoe Afrikaners ons eie musiek ondermyn.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.