Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ons is vandag Toon en Rienie en Martie
Terwyl die drie engele van die dood oom Toon en tant Rienie ’n hele Sondag lank martel, stoot ’n man sy vriendin se lyk ’n ent verder in Bloemfontein op ’n kruiwa die straat af.

‘Ons is Charlie!”

Só het miljoene mense oor die wêreld verlede week in Parys, Frank­ryk, ná die terreuraanval gesê.

Ons ook hier in Suid-Afrika.

Vandag moet ons uit een mond sê: Ons is Toon en Rienie en Martie.

Ons is Koos en Retha en Johan en Cecile. Ons is Gordon en Lorraine en Deon en Christel. En ons is altyd Willemientjie en Marthella.

Want vandag moet ons erken: Soos die terroriste wat die bloed in Parys laat vloei het, moet ons vandag sê ons het ook ons eie terroriste wat ongewapende, sagte, goeie mense aanval en grynslaggend martel en doodmaak.

Dit is óns mense wat ons geliefdes doodmaak. Hulle woon langs ons. Hulle werk vir ons. Hulle woon in ons huise. Dit is terroriste wat ons aan ons eie boesem kweek.

Dis nie (altyd) ras nie. Dis nie haat nie – haat is tog ’n gevoel. Meestal martel die moordenaars die enigste mense wat hulle help met kos en werk. Soos oom Toon en tant Rienie. Dis omdat hulle kán en wil en sál moor en vere voel.

Dit is óns tydbom wat Boko Haram aan ’n 10-jarige meisietjie koppel om in ’n mark af te sit om geliefdes op te blaas.

Terwyl die drie engele van die dood oom Toon en tant Rienie ’n hele Sondag lank martel, stoot ’n man sy vriendin se lyk ’n ent verder in Bloemfontein op ’n kruiwa die straat af. Dis óns daardie.

Dis sekerlik nie (net) wat Julius Malema en Jacob Zuma sê oor grond wat dié moorde aanhits nie. Dit is wat hulle en Ace Magashule en ander sogenaamde leiers nié sê nie.

As Israel en Palestina saam met Duitsland en Frankryk in ’n optog van ’n miljoen mense kan marsjeer ná die Parys-slagtings, kan ons – wat ons land van ’n burgeroorlog weggedraai het – sekerlik ook ingehaak teen die moorde marsjeer.

Ons moet almal hard en duidelik sê: Ons moor nie boere nie. Ons moor nie vroue, kinders en oumense nie. As ’n politikus dit oor en oor sê, elke dag, én begin om die land te regeer en nie die monster van armoede en honger uitbuit vir stemme nie, sal ons wen.

Frankryk en die wêreld het opgestaan teen radikale Moslems. Almal is woedend oor Boko Haram se barbaarse uitdelgings. Maar die wêreld is stil oor Suid-Afrika se slagting en huishoudelike terrorisme.

Staan op. Sê hardop: “Ons is vandag almal Toon en Rienie en Martie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.