SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Goeiemôre
Oor eie ekke vol van hul grootse idees

DALK verskil jou noemnaam en doopnaam ook. En word jy ook aangespreek op jou doopnaam wanneer gemoedelikheid hoogty vier of jy voor stok gekry word.

Tuis was ek slegs “Hendrik” as ek berispe is oor die een of ander misstap. Soms word ek steeds so genoem deur skoolmaats of vriende as die tweede fles al soldaat gemaak is, soos die Nederlanders sê. Dus leeg is.

“Vriend Hendrik,” sê vriend N onlangs, “het jou pa jou dan nie geleer om jou standpunt te stel nie? Waarom swyg jy dan in alle tale oor al die dinge die afgelope tyd?”

Nog onseker of dit nou gemoedelikheid of betigtiging is, oordink ek sy woorde vir ’n wyle.

Die “dinge”, lei ek gou af, is nie die rel oor skrumpette soos onluspolisie of die vraag na die Vrystaatse rugby sonder ’n visie nie.

Dit is die menings en optrede van mense wat almal een ding gemeen het, naamlik hul gelykstelling van die bevordering van Afrikaans met rassisme. En hul diep afkeer van alles wat na Afrikaner ruik. Soos die patetiese en korrupte Esaibiesie.

Asof bevordering van Duits jou ’n gevoellose Nazi maak of bevordering van Engels jou karakteriseer as ’n onderdrukkende imperialis.

Onlangs moes ek selfs ’n toespraak aanhoor waarin die woord “ek” byna soveel voorgekom het as in ’n rubriek. Teen wil en dank moes ons hoor van sy prestasies en sy belangrike vergaderings én boonop sy sienings aanhoor.

In die loop van die toespraak is kartetse afgevuur op dese en gene, veral hulle wat Afrikaanstalig is en boonop die verwaandheid het om aan te dring op bepaalde regte. Soos om universiteitsonderrig te ontvang (stel jou voor!) in Afrikaans in ’n provinsie waar dit ’n meerderheidstaal is. En daar ’n hele paar ander tersiêre instellings is wat eentalig Engels is.

Toe dink ek aan my pa, jare gelede by ’n Akademie-vergadering in Potchefstroom. ’n Bekende teoloog was aan die woord.

Net so seker van sy eie waarheid, nét so onder die indruk van die eie ek. Sonder enige nuansering het hy beweer dat die Bybel nie vatbaar is vir verskillende lesings nie; daar is maar één waarheid (wat ek kon aflei net hy begryp).

Vars uit Nederland waar ek geleer het van die rol van die leser in betekenisskepping was ek op die punt om op te staan om die gevierde teoloog tereg te wys toe my pa my aan die arm gryp en sê: “Hendrik, antwoord ’n dwaas nie na sy sotheid nie!”

Sien jy, vriend N, ek hét by my pa geleer en volg steeds sy raad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.