Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Croucamp: Moeilik om deesdae wit in SA te wees

Ek hoor om wit te wees in Suid-Afrika is deesdae nie maklik nie.

Baie wit Suid-Afrikaners sukkel om die ideologiese veronderstellings agter die “weg met Rhodes en Jan van Riebeeck”-woede te verstaan. Vir hulle is dit net nog ’n aksie gemik teen alles wat wit is; soos die verandering van plekname, kwotas in sportspanne, swart bemagtiging en die politieke bedrog rondom grondhervorming.

Op ’n kru wyse argumenteer wit mense toenemend om die braaivleisvuur dat swart Suid-Afrikaners nie die ekonomie en die politieke stelsel wil gebruik om konstruktief welvaart te bou nie, maar eerder mag wil gebruik om die wit identiteit te stigmatiseer en te ondermyn. Suid-Afrika het ’n rasprojek vir swart nasionalisme geword. Die frustrasie lê daarin dat wie ook al swart is en “rassis!” skree noodwendig ’n morele aanspraak kan maak op “reg” wees.

Om wit en manlik te wees is dus per se histories en moreel verkeerd, ongeag die aanklag. Die alternatief vir “a black man is always a suspect” is “a white man is always a racist”. Selfs al verklaar ’n aartsrassis, soos Julius Malema, jou ’n rassis is hy noodwendig reg en jy verkeerd. Want jy is wit.

Na aanleiding van die debat oor die Proteas wat ’n laatnag-sms sou ontvang het om die span meer kleur te gee, skryf ’n (bruin) Facebook-vriend dat Pat Symcox ’n argetipe-rassis is omdat die voormalige Protea verwys het na die kompleksiteite van die saak.

Ek gaan lees toe Symcox se skrywe, oor en oor, maar vind nie die rassisme waarna verwys word nie. En, ek soek nogal driftig, want ek weet Symcox is ’n goeie vriend van die rasbehepte Steve Hofmeyr, maar steeds kan ek nie ’n enkele substansie vind vir ’n rassismeklag nie.

Ons het ’n land van genetiese slagoffers en rassiste geword; en dit is die beste wat ons kan doen, vir nou.

Dalk is ek ook kolonialisties en rassisties – op ’n spesiale manier – soveel so dat ek dit nie eens besef nie. Max du Preez se oordeel is wat my betref vlymskerp en ek lees sy bewering dat die studentewoede by die Universiteit van Kaapstad tekenend is van ’n swart middelklas wat die streep in die grond trek oor onder meer rassisme in die raadsale van die korporatiewe wêreld. Skynbaar is die sogenaamde beste-praktyk-, korporatiewe kultuur te wit, te koloniaal en te “Westers”. Ek verstaan nie hoekom hy studentepolitiek na middelklas-gedrag ekstrapoleer nie en die swart middelklas lyk ook nie vir my minder sosiaal- en polities chauvinisties as die wit middelklas nie. Trouens, dit lyk vir my hul simpatie met die werkloses en armes is niks meer as geniepsige lippetaal wat hul nydigheid jeens die wit middelklas verskans nie.

’n Ewe skerp ontleder, Steven Friedman, argumenteer dat rassisme ’n soort kulturele artefak geword het – of dalk nog altyd was – en solank as wat wit mense dit ontken, sal dit swart Suid-Afrikaners ten gronde grief.

Jy moet eers erken jy is ’n rassis voordat jy ’n nie-rassis verklaar kan word deur die een of ander owerste wat nog gebore moet word.

Om sy punt nog sterker te maak, betrek hy die “liberalisme” met ’n werkersklas-steelhou; liberalisme en rassisme is maar net twee kante van dieselfde muntstuk, lei ek af uit Friedman se relaas.

Hy maak inderdaad die geldige punt dat die EFF, veral in Gauteng, in ’n groot mate ’n politieke tuiste vir die swart middelklas geword het. Maar dan voer hy ’n rasionaal aan wat ek nie verstaan nie; hy beweer dat wit rassisme ANC-lede in die arms van die EFF dryf.

Ek dog die stempatroon wat hy heeltemal korrek waarneem, het daarmee te doen dat die swart middelklas tipies salaristrekkers is en dus buite die regerende party se patronaatskapsnetwerk gelaat word. Ons het ’n land van genetiese slagoffers en rassiste geword; en dit is die beste wat ons kan doen, vir nou.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.