Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Croucamp: Skeptisisme oor fliekmotiewe
Waldimar Pelser is ’n intelligente en interessante denker en sy verwysing na die rol van plaaswerkers of “swart mense” in landelike veiligheid as “heilsame betrokkenheid”, stem my onrustig.

Daar is min dinge wat wit Suid-Afrikaners so polities ontstel soos “plaasmoorde”. Met reg ook: Dit is meer dikwels bejaardes wat aangeval, gemartel en vermoor word.

Die pertinentste vraag is of die verskynsel gebore is uit rassespanning en of dit die neweproduk is van die geweld en misdaad wat die hele land in ’n morbiede vloedgolf oorspoel.

Die feit dat geweldmisdaad ook stedelinge teister, is geen regverdiging vir plaasmoorde nie en boonop dui die statistieke daarop dat boere ’n selfs groter risiko loop om vermoor te word as enige ander subgroep.

Data wat daarop dui dat plaaswerkers nie juis veiliger is as hul werkgewers nie, word dikwels in die media aangehaal.

Die verskynsel is nie noodwendig baie goed nagevors nie en daarom is dit nie moontlik om onomwonde ’n gekwantifiseerde ontleding te gee van moorde met ’n rasmotief vis-à-vis moorde met ’n misdaadmotief nie.

Die beperkte studies wat wel gedoen is, bevestig die scenario van geld, wapens en swak veiligheidsmaatreëls op afgeleë plase wat van boere en hul werkers sagte teikens maak.

’n Interessante veranderlike is dat wanneer die teisteraars baie tyd het – in sowel landelike as stedelike gebiede – die waarskynlikheid van wreedheid en marteling aansienlik groter is.

Binne die beperkings van bestaande studies is daar egter een vorm van konsensus: Die verskynsel van plaasmoorde is kompleks en opportunistiese interpretasies met ’n ideologiese of politieke motief help ons nie om dit beter te verstaan nie.

Die polisie is swak opgelei en ly ook aan ’n gebrekkige werksetiek. Sowel die regering as die ANC se argelose houding jeens misdaad in die algemeen en plaasmoorde meer spesifiek is nie net tekenend van ’n politieke onbetrokkenheid nie, maar kan selfs rasgedrewe wees.

Daar is verder genoeg anekdotiese bewyse dat boere en hul plaaswerkers soveel doeltreffender as die polisie is in hul optrede teen plaasmoordenaars dat dit vir boere sinvol is om te aanvaar die oplossing van die probleem sal eerder op die plaas, onder die boer en sy werkers, bedink moet word.

Dit is in hierdie konteks dat die debat wat betref Rapport se borgskap van die rolprent Treurgrond gesien moet word.

Treurgrond handel oor plaasmoorde in Suid-Afrika en het betrekking op die boek – met dieselfde titel – geskryf deur Dirk Hermann et al.

Hermann, van die grootliks wit vakbondorganisasie Solidariteit en die burgerregteorganisasie AfriForum, het duidelik noue bande met die vervaardigers van dié fliek, en hul interpretasie van plaasmoorde as ’n stryd tussen rasse is algemeen bekend.

Die hoofrol word vertolk deur ’n rasbehepte Steve Hofmeyr, wat geen geheim daarvan maak dat hy plaasmoorde as ’n soort volksmoord beskou deur swart mense wat volgens hom “nie ’n lemoenboord vir langer as ’n maand aan die gang kan hou nie”.

Waldimar Pelser is ’n intelligente en interessante denker en sy verwysing na die rol van plaaswerkers of “swart mense” in landelike veiligheid as “heilsame betrokkenheid”, stem my onrustig.

Hy verdedig Rapport se borgskap en Hermann en Hofmeyr se betrokkenheid met ’n slapperige rug en langtand, wat nie eie aan hom is nie.

Ek het die fliek nog nie gesien nie en ook nie die teks onder oë gehad nie, maar hoekom is daar soveel skeptisisme wat betref die rolprent se politieke motiewe?

Diegene betrokke – Hermann en Hofmeyr – se politieke agendas is welbekend. Dit is Waldimar Pelser se onwaarskynlike seën op ’n destruktiewe narratief, vertolk deur ’n aartsrassis, wat ek nie kan kleinkry nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.