Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: My donkerste uur ná my Aspoestertjie-aand

Soos Aspoestertjie verlaat ek die partytjie toe teen 00:00.

“Rustig” het ek huis toe bestuur. Blou ligte het my kort daarna verrinneweer.

Ek is ’n week gelede amper in hegtenis geneem. Fluit-fluit my storie was amper uit.

Die posttraumatiese angs is soos ’n kombers waaronder ek elke aand lê wanneer ek dink ek was amper in die tjoekie.

’n Tronkvoël.

Piet die bandiet.

Op pad huis toe verlede Saterdag ná ’n makietie sien ek in my spieëltjie ’n voertuig agtervolg my. So dan en wan het die ryding se rooi-en-blou dakligte geskyn. Tot my spyt was dit geen Krismis-wa nie, maar ’n polisiewa, die pou-pous. Die pôpô het die fên getref.

Beheers het ek langs die pad gaan stilhou en myself bly oriënteer om kalm te bly.

Ek draai my venster af en smeer ’n glimlag oor my gesig. Nog voordat ek ’n groet kan uithoes, sê oom Polisie aan my: “Klim uit die kar!” Die aggressie loop dik in sy stem.

Ek klim uit, kaalvoet. Aspoestertjie het haar goue slipper verloor, ek het my plastiek-slippers by die huis vergeet – dié was geen sprokiesverhaal nie.

Drie polisiemanne het my omring. Die een was die hoofkarakter, die ander twee byspelers.

Die hoofkarakter het onmiddellik met my begin raas oor X en Z. My hart het gebeatbox, dit wou uit my borskastronk ontsnap. My verstand se engtevrees het ingeskop.

Ek het die hoofkarakter nie op sy polisierang genoem nie, nee, ek het ’n rang hoër gekies. Ek het hom “ntate” genoem (dit is ekwivalent aan “oom” vir die Tswanas).

Dit het nie sy hart sag gemaak nie, elke woord wat uit sy mond gekom het, was soos ’n sambok en ook met goeie reg, want ek was nie heeltemal onskuldig nie. Ntate het net sy werk gedoen.

Hy het toe vir my woorde gesê wat my koud gemaak het: “Ek dink jy moet maar agter (in die polisievoertuig) gaan inklim.”

Ek het begin huil, of probeer. My gesig het die regte intensie gehad, maar my trane wou soos reën in die winter nie kom nie.

“He-eh, moenie huil nie! Moenie huil nie,” het Ntate beveel. Ek het toe maar my ore gespits terwyl hy vir my die leviete voorgelees het.

Nog altyd het ek vir mense gepreek oor hoe hulle hulle moet gedra wanneer die pou-pous hulle aftrek: Moenie aggressief wees nie, moenie dit en dat nie, het ek grootbek geseg. Op daardie dag was dit my beurt om te practise wat ek preach.

Ek is toe laat gaan, want hulle het seker besef die tronke is te vol en die kerke te leeg.

Ek is geskool en geuniversiteit, maar die grootste les wat ek geleer het, was die aand toe ek soos Aspoestertjie ’n partytjie verlaat het.

00:00.

My donkerste uur.

My gesig het die regte intensie gehad, maar my trane wou soos reën in die winter nie kom nie.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.