Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Piet Matipa: Terwyl ek wag dat God opdaag vir ons afspraak
Ek het myne verloor.

As ek ’n dinner date met die Here gehad het . . .

Ek sou my geel broek aantrek, want as dié kleur ’n mens was, sou ons in ’n huwelik wees.

Ek is mos lief vir ’n stukkie geel, dit is so ’n voor-op-die-wa-kleur. My hemp en my skoene sou dieselfde gelyk het.

Color coding is ’n aanduiding dat daar dissipline in ’n klerekas is.

My horlosie is gewoonlik gestel op Afrika-tyd en “betyds” het nog nooit my woordeskat ontmoet nie, maar op dié dag sou ek beslis seker maak dat “laat” slegs in die frase “nie toegelaat nie” sy verskyning maak.

Ek sou eerste by die restaurant opdaag. Dit is ’n fancy pasta-restaurant – peperduur, maar hopelik hoef ek nie te betaal nie.

Die kelner, ’n jong dame, lei my na ’n tafel vir twee.

Ek plak myself neer op ’n sitplek waar ek mense kan dophou om hul reaksies te sien wanneer hulle besef saam met wie ek gaan eet.

Ek moet erken ek is nogal op my senuwees. “Can I please have a glass of rosé? The sweet one, I hate dry,” sê ek aan die kelner. Dié is net om my persoonlikheid wakker te maak.

Ek wonder waaroor sal ons praat. Ek wil eers ’n gesprek voer voordat ek begin vrae vra en ek het so baie.

Miskien kan ons gesels oor die Bybel. Ek moet erken ek het ’n bietjie lanklaas gelees, so dit is nie ’n goeie idee nie.

Of . . . miskien moet ek nog ’n rosé bestel. “Another one please.”

Ons kan oor die weer praat, ja. Ek kan iets snaaks sê, soos: “Die son in die Kaap het duidelik nie die memo gekry van wanneer dit moet afgaan nie. Want dié hang nog 20:00 in die lug.” Dan lag ek. Nee, dis ’n bietjie dom. Ek sal aan iets anders dink om die atmosfeer te breek.

Ek dink ek moet eerder begin deur om dankie te sê. Dankie vir die ritme, ek hoef nie te konsentreer wanneer ’n liedjie speel nie, my liggaam weet dadelik wat om te doen.

Dankie vir die vinnige metabolisme, ek geniet te veel soetgoed en is nie gedissiplineerd genoeg om op ’n dieet te gaan nie.

Dankie vir slaap, ek wens ek kon dit meer doen, maar wanneer ek dit wel doen, dan geniet ek dit baie. Dankie vir winter, ek is lief daarvoor om serpe te dra. En natuurlik is ek dankbaar vir die kleur geel.

Die kelner wil weet wanneer kom die persoon waarvoor ek wag. “Any time soon. In the meantime . . . ” Ek wys na my leë glasie.

Ek dink dit is genoeg dankies voordat ek iets kan vra, nè, ek wil baie dinge hê, maar wat ek dringend nodig het, is geduld, myne het jare gelede uitgehardloop. Ek kort regtig ’n refill. Deursettingsvermoë is ook op my lysie. Ek het myne verloor. Nog brandstof vir dryfkrag ja, want dit raak duur en vinnig op . . .

O koek, Hy het pas opgedaag . . .

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.