Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pieter du Toit: Panyaza Lesufi se dwase aanslag op Afrikaans

Toe Panyaza Lesufi in 2014 as LUR vir onderwys in Gauteng aangestel is het ’n paar wenkbroue gelig. Hoewel hy hoog op in die provinsiale ANC se leierskorps is, het hy nog nooit ’n uitvoerende politieke amp beklee nie (hy was vroeër onder meer onderwyswoordvoerder in Gauteng en later die Skerpioene se segsman).

Nietemin was hy uit die staanspoor toeganklik vir joernaliste en het hy aanvanklik nogal sensitief omgegaan met kwessies oor moedertaalonderrig en Afrikaanse mense se vrese oor hul taal. Hy was vir ’n politikus ook ingelig oor sy vakgebied en het as deel van premier David Makhura se “A-span” met geesdrif ingespring om knellende probleme in die land se ekonomiese enjin te takel.

Nou is Lesufi egter vierkant in ANC-apparatchik-modus: skole wat Afrikaans is, is rassisties en onder sy leiding sál daardie skole se deure oopgedwing word!

Die appèlhof het Vrydag ’n uitspraak van die hooggeregshof omgekeer en daarin die LUR se bestaande bevoegdhede en magte bevestig. Dit volg op ’n vroeëre aansoek deur die Federasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) waarin hulle provinsiale regulasies deur Lesufi se voorganger uitgevaardig as onwettig betwis.

Die aansoek wentel om Fedsas (wat grootliks Afrikaanse beheerliggame verteenwoordig) se besware oor die LUR wat kan besluit of ’n skool kinders kan inneem, al verklaar die skool hy is vol.

Appèlregter N. Dambuza het in die hof se uitspraak breedvoerig verduidelik die LUR mag, onderhewig aan die Skolewet en provinsiale wetgewing, “redelike beheer” oor toelating tot en kapasiteit van skole, uitoefen.

Die uitspraak lyk deeglik. Dit gee historiese konteks, verwys na die tersaaklike bepalings in die Skolewet en haal na die rigtinggewende Ermelo-beslissing van die konstitusionele hof aan.

Die appèlhof het nie meer gedoen as om die LUR se magte, binne die bestaande beperkinge van wetgewing, die Grondwet en die beginsels van samewerkende regering, te bevestig nie.

Maar hier’s die probleem: binne ure waarin die uitspraak rugbaar geword het, het Lesufi triomfantlik op Twitter verklaar: “In a landmark case today, the Supreme Court of Appeal has instructed Afrikaans only schools to open up for all races! We won against racism.”

Dit is begroet met ’n stortvloed gelukwensinge van sy ondersteuners dat hy die spiespunt is in die bevrydingsbeweging se pogings om apartheid-Suid-Afrika nou finaal te breek: “Met jou aan die voorpunt LUR gaan niks ons keer nie!”

Die uitspraak het op die oppervlakte niks daarmee uit te waai nie. Ter sprake is nie taal of rassisme of skole wat uitsluitlik vir een ras is nie. Maar waarom is dit Lesufi se reaksie? Waarom sal hy dadelik na Afrikaans kap en die R-woord uitpluk?

Daar’s ’n vernietigende siklus van beskuldigings en teenbeskuldigings, van aantygings van magsvergrype en aantygings van rassisme wat diskoers oor kwessies soos dié oorheers. Skole wat kwessies soos taal en kapasiteit gebruik om kinders uit te sluit is met reg die fokus van owerhede se argwaan, en dis daardie skole wat aan Lesufi die skietgoed gee.

Maar wanneer hy, soos met sy reaksie op die hofuitspraak, wilde en ongetoetse uitsprake maak berokken hy sy saak skade aan. Die appèlhof bevestig die noodsaak om die land se skeefgetrekte onderwyslandskap te hervorm en sê howe het die reg tot behoorlike onderwys en die verpligting op die regering om dit te verseker al by herhaling bevestig. Lesufi se saak is dus heeltemal sterk genoeg. Om so buite weste te reageer is antagonisties en skadelik.

Die netto gevolg gaan bloot wees om die Lesufi’s aan die ander kant van die spektrum – diegene wat Afrikaans en Afrikaanses se identiteit vir hulself en tot uitsluiting van ander eien – met hul drogbeelde van totale aanslae en laertrek aan te vuur.

So kry die siklus van wedersydse wantroue en agterdog momentum, word alles wat Afrikaans is gebrandmerk as rassisties en pogings om onderwys te hervorm gebrandmerk as ideologies gedrewe maatskaplike ingenieurswese.

Ons grondwet-skrywers het probeer om alle moontlike twispunte in die nuwe Suid-Afrika te voorsien en daarvolgens te beplan. Wetgewing wat ons samelewing rig het daaruit voortgevloei.

Maar daar kan nie vir alles wette geskryf word nie. ’n Land kan net funksioneer indien magshebbers in goeder trou en in die gees van deelnemende demokrasie regeer. Die appèlhof het bevestig ’n funksionaris van die staat moet “redelik en prosedureel regverdig” optree – en nooit sonder konsultasie nie.

Lesufi se reaksie getuig beslis nie van goeder trou nie. En nou’t hy skietgoed aan sy opponente gegee om die siklus van beskuldigings en verdagmakery voort te sit.

Wie bepaal 'n skool se taalbeleid?

“Die kwessies in hierdie geding is grootliks reeds deur die konstitusionele hof besleg,” skryf appèlregter N. Dambuza namens haar kollegas. “Die omvang van beleidmakende gesag wat die Skolewet aan beheerliggame verleen is omvattend deur daardie hof oorweeg. Ek kan nie beter doen as om na Ermelo te verwys waarin die konstitusionele hof beheerliggame se mag om ’n skool se taalbeleid te bepaal, uiteensit nie: ‘Die mag om ’n skool se taalbeleid te bepaal berus by die beheerliggaam . . . dit beteken egter nie daardie bevoegdheid is absoluut of die uitsluitlike funksie van die beheerliggaam nie. Dit beteken ook nie die enigste relevante oorweging is die uitsluitlike behoeftes of belange van die skool en sy huidige leerlinge en ouers nie.’ ”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.