Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pieter du Toit: Wie leer kind wêreld baasraak?

Waar wil jy hê jou kind moet toepas­like kundigheid opdoen om hom of haar die beste kans te gee om in ’n moeilike wêreld te floreer?

Gebeure rondom simboliek, transformasie en geskiedenis verlede week en hul onderskeie benaderings daartoe het sterk verskille tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus en die Universiteit van Kaapstad (UK) belig.

In die noorde het prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die NWU se Potch-kampus, ’n massavergadering gehou en vrese ingeboesem oor die verlies van “kampuskultuur” en die verskraling van Afrikaans as nuwe transformasieplanne aanvaar word.

Hy het aan Volksblad gesê kinders gaan nie noodwendig Potch toe vir die akademie nie, maar dat die “unieke kampuskultuur” ’n belangrike rol speel. “Ons kan baie verloor!” was sy boodskap.

In die suide het ’n amper soortgelyke situasie afgespeel. Talle woedende swart studente het ’n standbeeld van die imperialis Cecil John Rhodes voor die UK se Jameson Hall (genoem na ’n Rhodes-bondgenoot, Leander Starr Jameson) met ontlasting bevuil uit protes teen die universiteit se institusionele kultuur, waarvan die standbeeld die tasbare teiken was.

Die ontevredenheid oor Rhodes strek natuurlik veel wyer as swart studente se ongemak met die standbeeld van ’n onderdrukker op ’n prominente deel van hul kampus. Dit gaan oor hoe die UK homself in ’n veranderende samelewing sien en waar hy hom posisioneer; dit gaan oor hoe die universiteit sy eie verlede benader en kontekstualiseer en dit gaan oor watter beeld hy vir homself skep.

Dr. Max Price, visekanselier en rektor van die UK, het vinnig gereageer. Hy het in die eerste plek ’n vergadering met die studenteraad (SR), wat grootliks die dryfveer vir die betogings is, probeer reël ten einde op ’n gesamentlike aksieplan ooreen te kom. Toe die SR weier om te praat voordat die standbeeld verwyder is, het hy met sy senior bestuur vergader en ’n verklaring uitgereik waarin hy ’n “versnelde konsultasieproses” aankondig.

Aan die NWU maak die Potch-rektor en sy agente mense kwaad oor indringing en verlies. Daar is min in die vorm van diskoers, net verharding en etikettering.

Die UK het al in 2014 begin met ’n uitgebreide proses om menings in te win oor die instelling se geskiedenis, name en simboliek. Hy vra in die verklaring om verskoning vir die kort tyd vir gesprekvoering vóór ’n spesiale raadsvergadering, maar sê dis nodig “om geregtigheid te laat geskied aan hierdie belangrike debat, waaroor daar sterk menings bestaan, en erkenning te gee aan die dringendheid en passie van die betogings”.

Tussen nou en die raadsvergadering, wat vir 15 April belê is, vergader die universiteitsgemeenskap by vyf geleenthede. Studente word ook genooi om geskrewe insette op die UK se aanlyn besprekingstuiste, Vula, te lewer.

Die uiteensetting hierbo is nie gegrond op anonieme bronne, hoorsê of ’n gespin uit ’n sekere kamp nie. Dis als vervat in ’n skrywe wat die UK wyd versprei het.

In skrille kontras hiermee staan die verdagmakery en antagonisme wat met die debat in die noorde gepaard gaan. Frases soos “veg terug” en “staan op” is saam met kodewoorde soos “kultuur” en “Afrikaans” deel van belangegroepe en hul verteenwoordigers (wat teen voorgestelde veranderinge gekant is) se retoriek, terwyl daar skielik weer gewag gemaak word van die “kommuniste en sosialiste” en, by implikasie, die “swart gevaar”. Asof ons nog in die 1980’s met grys skoene en paisley-dasse is.

Verandering is per definisie moeilik en waar daardie verandering gepaard gaan met ’n herevaluering van simboliek en kultuurgeskiedenis – en identiteit – nóg moeiliker.

Aan die UK is die rektor se boodskap aan kwaaies en ongeërgdes duidelik: kom ons praat, eerlik en onbevange, oor verandering.

Aan die NWU maak die Potch-rektor en sy agente mense kwaad oor indringing en verlies. Daar is min in die vorm van diskoers, net verharding en etikettering.

Waar wil jy hê moet jou kind studeer?

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.