Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Réney Warrington: Die oorplant van viooltjies
Réney Warrington

Groot viooltjies, klein viooltjies, pienk viooltjies of pers viooltjies, maar plaaslike viooltjies. African Violets, om presies te wees. Ek het grootgeword in ’n huis vol African Violets.

In my familie was dit nie net my ma wat die nukkerige plantjies gekweek het nie. Daar was ook my twee tannies, haar sussies, Elza en Maude. Daar was altyd ’n vriendelike viooltjie-kameraderie/kompetisie tussen dié drie susters. Die ander twee het hard probeer, al het hulle geweet my ma sou altyd wen. Of die oorspronklike plantjie ’n dierbare geskenk, ’n versigtige aankoop of ’n elfder-uur-reddingspoging was, my ma se viooltjies het altyd floreer, altyd die grootste geword en die meeste geblom.

Haar groen vingers is nie beperk tot viooltjies nie. Ons koop dieselfde vyeboom, plaas dit in dieselfde grootte pot en hoeveelheid sonlig. Myne dra bloot blare vir drie seisoene. My ma se vyeboom, nou al twee keer die grootte van ons s’n, verskaf vye aan haar, en tot my ergernis, aan ons.

Haar geheim? Sy praat met hulle. Ja, sy voer lang geselsies so op haar eie tussen die viooltjies. (Ek vermoed dit maak al die betrokke partye gelukkig.) Natuurlik monitor sy die grond, water, voedingstowwe en sonlig, maar dit is volgens haar die dialoog wat die geheime bestanddeel is, die samesyn. Niemand van ons stry nie, want ons plante sukkel of vrek. Dus, toe Maude en Elza afsterf, erf my ma hul viooltjies en, natuurlik, was hulle nog nooit gelukkiger nie. 

Nou Sondag span sy my in as handlanger vir Operasie Viooltjie-oorplant. Sy het onlangs gelees dat viooltjies daarvan hou om saam in ’n pot te groei. Dus gaan ons vir Elza en Maude uithaal, afstof en met groot sorg oorplant in een bak en dan natgooi, alles terwyl my ma natuurlik oor en weer gesels. Met die viooltjies.

Sy bedek haar houttafel-vir-twee met ʼn sterk plastieksak. Ek word aangesê om die grond en vermikuliet daarop uit te gooi. (Haar knieë en rug is hoeka gedaan.) En daar gaan meng sy dit met haar kaal hande asof dit ’n delikate degie is wat in die oond moet ingaan. (Ek wink nogal my vrou nader om dié storie te sien.)

Sy pluk ’n verlepte blommetjie af en sê, “Ek maak jou nie seer nie. Ek maak jou mooi.”

Sy plant die eerste plantjie oor en stof die oortollige grond van die blaartjies af met ’n blush-borseltjie uit haar jeug.

Sy pak klippies onder die lang stingels vir ondersteuning.

Dan moet ek spring en water gooi, want hulle gaan dors wees. En dan moet ek wag tot die water deur is en die grond gesak het, en wéér water gooi.

Terwyl ek die blaartjies versigtig oplig en ʼn dun stroompie water laat invloei, besef ek die belangrikheid van die oomblik, van die dag. Ek is besig om ’n herinnering te skep wat my gaan laat glimlag, wat my gaan dra as my ma die dag weg is en dit mý job is om die viooltjies aan die lewe te probeer hou.

Maar meer belangrik, dit is een van die herinneringe wat ons saam skep, ’n herinnering van my wat geduldig help en my ma wat steeds mooimaak, ’n herinnering wat ons moet troos oor my bababoetie skaars vyf weke tevore oorlede is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.