Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Réney Warrington: Hoe om praktiese vernuf te kweek
Réney Warrington

My pa het larnie karre ge-rev tot hulle te midde ’n rookwolk bloot gevrek het. Dan was hy boonop verbaas. 

My ma het haar pepermentgroen 1969-Volvo opgepiep tot die oomblik dat die groentetrok bo-oor die passasierskant is. (Die groentetrok het omgekletter, die Volvo nie.) Soos ek vroeër geskryf het, sy het al selfs ’n fanbelt met sykouse vervang. Ek aard na haar – prakties (en meer verantwoordelik as die gewone mens).

My praktiese opleiding op het negejarige ouderdom begin.

Kwessie? My erg gestremde bababoetie word gebore.

Oplossing? Ek hanteer hom soos ’n gewone bababoetie. Ek slaan hom en hardloop weg. Hy kan my mos nie inhardloop nie! Ek irriteer hom, dreig hom, maar neem hom vir ewig op in my hart.

Sukses? Ek het hom leer om te sit en uit ’n koppie drink. Met sy vlak van gestremdheid, was dit goeie werk.

Einde matriek roep my ouers my nader.

Kwessie? Hulle het nie geld vir universiteit nie. My enigste onderskeiding, dan nog vir Engels daarby, gaan my ook nie ’n beurs besorg nie. (Ek het tog nie my rebel-sussie se motto gedeel nie – “As 40% slaag is, hoekom moet sy 41% kry?”)

Oplossing? Ek werk twee jobs, studeer voltyds en partytjie daarby soos net ’n tiener met twee jobs en klasse in filosofie kán partytjie. Die goeie ou dae.

Sukses? Dit was nou wel die verkeerde graad (politieke wetenskap, vra ek julle!), maar ek het elke sent daarvan self betaal.

Twee jobs betaal dalk vir ’n graad, maar my eerste kar koop ek noodgedwonge op ’n veiling; ’n tweedehandse Uno’tjie sonder hoofligte (of ’n radio, my swak hart!).

Kwessie? Vat ek die Uno garage toe vir hoofligte (en die allerbelangrikste nag-ryery partytjies toe), of koop ek ’n radio (ook belangrik vir partytjies)? Dit is hoe ver my begroting strek.

Oplossing? Ek koop ’n radio én twee ligte direk by die Uno-fabriek. Ek installeer beide die radio en ligte self.

Sukses? Ek het die Uno later op Jo Slovo in Johannesburg afgeskryf, maar die radio en die ligte het nog gewerk.

Jare later staar ek weer ’n finansiële dilemma in die gesig. ’n Roman en ’n paar kunsuitstallings besorg net-net aan my ’n verband vir ’n 1950’s-woonstel.

Kwessie? Parkethoutvloere weggesteek onder ou, vrot matte vol gate gebrand. (Shame, die ou mense wat daar gewoon het se gasverwarmer, en die ou mense self, het soms uitge-clutch.)

Oplossing? Ek huur een van daardie trekker-poleerder-tipe skuurmasjiene. Jis. Jy vat die handvatsel, maak jou oë toe en skakel die perd(ekrag) aan. Jy word teen die muur geslinger (nog met jou oë toe). Dan hardloop jy vir die kragprop, want die trekker woer-woer lekker in die rondte op sy eie en jy gaan hom nie laagvat nie. Net as jy rodeo-ry bemeester, skeur die skuurpapier-sirkels en skiet projektiele rond wat jou vel sal afhaal. As iemand dit net kon verfilm, was ek ’n YouTube-superster.

Sukses? As die middagson inskyn, sien jy lelike riffels, maar ek het elke sentimeter afgeskuur en geolie teen ’n 10de van die prys.

Vier jaar later besluit ons die 1950’s-kombuis is nou te vrot vir woorde.

Kwessie? Ek het nie oornag ’n advokaat of boekhouer geword nie.

Oplossing? Ek spoeg en plak hout wat oorgebly het van ’n Hannelie Coetzee-commission aanmekaar, en siedaar: ons het ’n drie meter lange kombuisblad, laminated and all. Die vingers was blou, en die geduld somtyds op, aangesien ons woonstel op die “draai” van die blok is en daar gevolglike nie één hoek van 90 grade in die hele woonstel is nie.

Sukses? As ek laatnag iets hoor val in ’n kompleks van 40 woonstelle, haas ek myself onmiddellik na die kombuis, want sweerlik lê die oond op sy gesig op die vloer. Touch wood, sover staan alles, bietjie skeef en krom, maar self gemaak. Dit is nogal ’n lekker gevoel.

Oorkant die nuwe houttoonbank staan die skottelgoedwasser, wasmasjien en nuwe (uitermatig onpraktiese), pragtige, spierwit, laboratorium-styl wasbak.

Kwessie? Die loodgieter se kwotasie.

Oplossing? YouTube! Ek koop natuurlik eerste al die verkeerde krane en pype en proppe. (Ek kan na dese my eie loodgietery oopmaak.) Ná talle ritte Builders Warehouse toe, waar hulle my al skeef aankyk (nie oor ek skeef is nie, maar duidelik oor ek seker iets wíl steel), kry ek al die regte parte en raad.

Sukses? Niks lek nie. Die warmwaterkraan lewer warm water en die kouewaterkraan lewer koue water.

Die kombuis is amper klaar, maar die beligting is substandaard. Ek benodig daardie pendant-liggies wat in elke kontemporêre kombuis oor die toonbank dryf.

Kwessie? Ná sewe weke in Europa (witbrood onder die arm, ek weet) gaan dinge broekskeur.

Oplossing? Google! Ek koop ’n splitter, om nou een kragpunt na drie ligte toe te versprei en goedkoop lampies vir ingeval ek die kaboedel opblaas. Alles tesame werk dit uit op 280 Bokke. Dit pas my.

Sukses? Ons buurt het ure later ’n algehele kragonderbreking. Nie danksy Eskom nie. Ek is oortuig ek het Parkwood se fuse geblaas. Ek verwag die Elektrisiteitpolisie, boeie en geel plastiek oor my voordeur gespan. Toe is dit egter iemand wat kabels gesteel het, en nie my drie fraaie (energiebesparende) liggies wat amok gemaak het nie.

My Praktiese Vernuf ken geen grense nie.

Kwessie? My boetie lê op sy sterfbed. Sy oë het “lankal gebreek” sê my ma, “soos die ou mense altyd gesê het”. Hy is 32 jaar oud en my opleiding kom, lyk my, tot ’n einde. Ons is nie seker of hy nog met ons is nie. Hy is nie gekoppel aan masjiene nie. Daar is geen plat lyntjie nie.

Oplossing? Ek sit twee vingers onder sy ken, om te voel vir ’n pols. Dit is mos wat in die movies gebeur. Daar is niks wat pols nie, niks wat klop nie. Ek verklaar sy lewe as verby en kyk rond vir ’n tyd, ’n datum. 23:59. 26 Januarie 2015.

Sukses? Hoe kan dit wees?

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.