Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Retha Fick
Só faal TB Joshua die Christendom
Retha Fick

My kollega Waldimar ­Pelser skryf vroeër vandeesweek in Beeld dat ’n mens skaars die miljoene Nigeriërs kan kwalik neem dat hulle vir hoop na TB Joshua se kerk stroom. Waldimar, wat twee jaar in Nigerië gewerk het, meen regeringsinstellings in dié land is so uitgekalwe deur nepotisme en bedrog dat dit regtig net die kerke is wat met behoorlike geloofsbriewe kan sê: “Glo in ons.”

Sowat 15 000 mense woon Sondae dienste by The Synagogue Church of All Nations by. ’n Menigte Suid-Afrikaners van verskillende denominasies onderneem pelgrimstogte na Lagos. Minstens 84 van hulle is dood toe die kerk se ses-verdieping-hostel verlede Vrydag inmekaargetuimel het.

Dis ironies dat die omstrede prediker, wat homself ook “die man van God” noem, en sy kerk allermins die laaste week ’n baken van hoop was. Volgens mediaberigte het die kerkowerhede tot Sondag reddingspersoneel toegang tot die ramptoneel geweier. Dit terwyl tussen 80% en 90% van oorlewendes in so ’n ramp gewoonlik binne die eerste 48 uur opgespoor word.

In die dae ná die tragedie was daar geen samewerking van die kerkowerhede nie, iets waaroor selfs die Nigeriese regering glo gekla het.

Na bewering het onverskillige boupraktyke tot die ramp gelei. ’n Nigeriese sakeman het aan Beeld verduidelik dat nog verdiepings op die oorspronklike vier-verdiepinggebou gebou is en dat die onderste deel eenvoudig nie sterk genoeg was nie. Die Nigeriese koerant Leadership skryf: “Die struktuur was onder verdenking en die kerkowerheid het dit geweet, maar voortgegaan. Hulle was vasbeslote om verblyf te verskaf aan hul massa kliënte sonder om aan hul veiligheid te dink.”

Te midde van onbeskryflike skok en hartseer van mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het, het dit vyf dae geduur voordat Joshua die stilte verbreek het. En alles ontken. In ’n verklaring op sy Facebookblad sê hy die kerk sien die tragedie as deel van ’n aanval op The Synagogue Church of All Nations en spesifiek die profeet. Die kerk glo die oorsaak van die ramp was sabotasie.

Hy sê verder die kerk het hulp verleen waar dit nodig was en doen dit steeds. Die soektog na oorlewendes is laat gistermiddag afgelas.

Daar sal waarskynlik mettertyd meer duidelikheid wees oor die gebeure van die afgelope week. Een mens kan per slot van rekening nie ’n ander se motiewe deurgrond nie.

Een ding is egter seker: Kerk-leiers en ja, ook kerklidmate, is dikwels nie ’n goeie weerspieëling van Christelike waardes nie.

Onskuldige soekers na hoop word dikwels uitgebuit, teleurgestel en ontnugter – ongelukkig nie net in die kerk nie, maar ook in hul geloof wat eens vir hulle kosbaar was.

The Synagogue Church of All Nations en sy “profeet” faal nie net die Christelike geloof nie, maar ook die miljoene wat hulle na die kerk wend. En dit in die naam van God wat wil hê dat Hý aanbid word en nie mens of kerk nie.

) Fick is Beeld se streeksredakteur.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.