Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heil die leser
Sonja Loots: Huisvroue gee my krampe en naarheid
Sonja Loots

Ek is nie so groot op huisvroue nie. Dit is ’n soort allergie wat met die jare ál erger word. Die woord “tuisteskepper” veroorsaak ’n skerp kramppyn en “voltydse mamma” maak my naar. Ja, teen hierdie tyd het jy reg geraai: Ek is een van daardie werkende vroue wat hul kinders van nege tot vyf afskakel en in ’n kas bêre.

Wanneer ek aan ander vroue voorgestel word, vra ek so gou moontlik of hulle ’n werk het. As die antwoord nee is, vryf ek aan die bossie knoffel om my nek en mik vir die naaste nooduitgang. Ek wil asseblief nie haar vriendin word nie, want dan gaan sy my weeksoggende bel sodra ek my kantoordeur oopgesluit en agter my lessenaar plaasgeneem het.

“Kan jy praat?” sal haar goedige stemmetjie in my ore opklink. Ek sal moet veg teen die versoeking om my antwoord toe te lig met ’n vragie van my eie.

“Natuurlik nie. Is jy van jou kop af?”

Ek weet in elk geval nie waaroor mens met huisvroue praat nie.

“Hoe was jou week, slonskous?”

“Uhm. Dieselfde as elke ander een.”

“Wat doen jy?”

“Net so min soos altyd.”

“Waaraan dink jy?”

“Die kinders.”

“Wat het jy die afgelope tyd gelees?”

“My wasmasjien se handleiding.”

Soms probeer ek my vooroordele te bowe kom. Dan fynkam ek die koerante vir nuusberigte oor huisvroue wat ’n nuttige bydrae tot die samelewing lewer. Die resultate van my soektog bevestig egter dat die wêreld min baat by mense wat dag ná dag tuis bly om na die gedreun van hul swembadpompe te luister.

Onder die afgelope week se nuuswaar­dige huisvroue tel Susan-Ann Pretorius. In Plattekloof is sy die paleis kwyt waar sy leeggelê het terwyl haar man arm mense nog armer gemaak het. Terwyl sy die likwidateurs van sy boedel ’n paar antwoordjies skuldig bly, moet Susantjie­Antjie nou met ’n skamele R35 000 per maand klaarkom.

Bongi Ngema-Zuma, Nompumelelo ­Ntuli-Zuma, Thobeka Madiba-Zuma en Sizakele Khumalo-Zuma word ál vetter – terwyl die belastingbetaler jaarliks R7,1 miljoen opdok aan die vier vrate met wie pres. Zuma getroud is.

En in die noorde is die nuuswaardige huisvroue Sorisha Naidoo en haar mede- “sterre” in Real Housewives of Johannesburg, ’n DStv-realiteitsprogram wat vanaf volgende maand uitgesaai word. Sorisha, vrou van die biljoenêr Vivian Reddy, kan glo nie wag om haar 65 pare skoene vir kykers te wys nie. Skoene, liewe lesers, is haar “passie”.

Ten minste het Sorisha en haar susters nou iets om te doen. Hopelik word die program soggens uitgesaai wanneer die res van ons by die werk is. Dan kan huisvroue oor die hele land in hul ledige ure daarna kyk en funksioneer dit sodoende as ’n soort werkskeppingsprojek.

Die klomp het tog niks beter om te doen nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.