Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
WAG N BIETJIE
Steve is nie die grootste vyand nie
Waldimar Pelser

Ek weet nie of Steve Hofmeyr in sy hart ’n rassis is nie. Ek weet dat hy nie juis omgee om swart mense in hul eer te krenk nie. Ek weet hy dink swart mense was só onuitstaanbaar dat dit eintlik onafwendbaar was dat wetgewing sou volg om hulle van ons weg te hou. Ek weet hy het die afgelope week ’n boodskap op Twitter herhaal waarin een van sy volgelinge verwys het na “filthy black savages”.

Ek weet hy verafsku sogenaamde “liberale” mense, en Conrad Koch se pop, Chester Missing. Ek weet hy het ’n veldtog gevoer teen Naspers en Rapport omdat ons gewaag het om sy foutiewe syfers oor plaasmoorde te bevraagteken. (Ons is ’n mediavennoot van die aangrypende plaasmoordfliek Treurgrond waarin einste Steve speel, want ons glo plaasaanvalle is ’n nasionale krisis wat alle Suid-Afrikaners behoort te laat wakker lê.)

Wat weet ek nog van Steve? Hy het ’n sexy stem waarmee hy graag “Die Stem” en ander liedere sing; hy maak miljoene uit sy stoutseun-beeld; hy lief die kollig en ’n storm bo sy kop.

Laas Vrydagaand het ek Steve hoor sing by Afrikaans Is Groot. Byna 8 000 mense het die ouditorium van die Moreletapark-kerk volgepak, waarvan ek presies drie siele vir Steve hoor skree het: “Sing ‘Die Stem!’ ”

Konsertgangers was nie net verenig in hul liefde vir Afrikaanse musiek nie (dit is nou maar eenmaal lekker; daarom verdien Afrikaans is Groot net soos Huisgenoot se Skouspel en Rapport se eie Tussen Tuine-Sondagkonserte om te gedy). Hulle was ook verenig deur hul onbereidwilligheid om in ’n boksie gedwing te word waarop staan: “Pro-Steve-rassis”.

Die dreigement van ’n ANC-jeugliga-betoging (daar het dadels van gekom) en Chester Missing se aandrang dat borge die konsertreeks weens Steve se deelname boikot, het dit natuurlik nog lekkerder gemaak. Niks verenig ’n groot klomp mense mos soos ’n vyand buite die deur nie.

Ek het my daarin verlekker om te gaan luister die aand omdat ek nie daarvan hou om in ’n presies afgebakende kamp gejaag te word nie.

Ek het my daarin verlekker om te gaan luister die aand omdat ek nie daarvan hou om in ’n presies afgebakende kamp gejaag te word nie. So onsmaaklik as wat Steve vir my is – ek dink hy is selfsugtig, opportunisties en uitermate onsensitief – dien die naamnoemery wat op sy onnosel en giftige Twitter-uitbarstings gevolg het, ook geen vryheidsideaal nie.

Enigiemand wat dit gewaag het om te sê Steve had die wetlike reg om sy sê oor apartheid te sê, is gekruisig nog voordat middagete verby was. Onverdraagsaamheid oor radikale standpunte anders as jou eie is iets wat Steve en mense soos Dan Roodt goed ken; hulle sing voor in die koor van naamnoemery en kry nou van hul eie medisyne in. Vloeke het hier in alle rigtings gevlieg: Na Koch, na Steve, na Frans Cronjé, wat geskryf het: “Sodra jy vryheid van spraak begin beoordeel op ’n geval-tot-geval-basis, gee jy die beginsel prys.”

’n Vriend stuur hierdie aan: “Dit is ’n groot gevaar om die mense na te boots van wie ons verskil. Hulle noem ons name, so ons noem hulle name. Ons name is dalk nie ‘rooinek’ nie; hulle is dalk bedek met ’n sosiologiese of sielkundige vernis, en tog is dit name. Ons moet pasop om nie behep te wees met stereotipes van ons opponente nie, selfs al stereotipeer hulle ons. En wie is ons? Dít is die gevaar: Die ‘ons’ en ‘hulle’-mentaliteit vat pos, en dan loop ons werklik die gevaar om deel te word van die mense wat ons opponeer. Dit bekommer my deesdae baie.” (Martin Luther King jr., 1964.)

Om uitsprake soos Steve of Koch s’n te probeer smoor, is nie net teenproduktief nie: Dis ’n bedreiging vir ’n pluralistiese, diverse en vry samelewing.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.