Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrika se nuwe slagvelde
Hul eiendom word geplunder en hulle word gemartel, verneder, tereggestel, afgeslag. Die motief nou: roof, bloedsug, vergelding? Vir wat?

Muizenberg, Bloubergstrand, die Kaapse oosgrens, Vegkop, Bloedrivier, Italeni, Isandlwana, Rorkes’s Drift, Majuba, Ladysmith, Modderrivier, Magersfontein, Colenso, Spioenkop, Paardeberg, Mafeking, Sannaspos, Nooitgedacht, Rooiwal . . . 

Enkele veldslae in oorloë op Suid-Afrikaanse bodem sedert die Kaapse landing in 1652 van die heer Jan van Riebeeck – hy wie se gees die afgelope naweek deur ’n Khoi-geestelike op die ANC se 103-jarige verjaarsdagmakietie “uitgedryf” is.

In oorloë tussen Hollandse besetters en die Khoikhoi; Hollanders en Britte; trekkers/setlaars en Xhosa’s; Voortrekkers en Zoeloe’s; Britte en Zoeloe’s, en tussen Boer en Brit.

Grondgebied en rykdom (diamante en goud) was die twispunt en dryfveer.

In die rebellie van 1914, was daar broedergevegte tussen die magte van genls. Koos de la Rey en Christiaan de Wet en die van genls. Jan Smuts en Louis Botha. In die Randse opstande van 1922 gevegte tussen wit mynwerkers en staatsmagte in Benoni, Brakpan, Jeppe en Fordsburg.

Ná die twee wêreldoorloë het gewapende bloedvergieting in Suid-Afrika ’n ander dimensie aangeneem. Sharpeville, Soweto (1976), die Kerkstraat-bom, Ellispark-bom en die Magoo’s Bar-bom in Durban staan uit.

Daar was ook veldslae in die grensoorlog in Suidwes-Afrika en Angola sedert die 1970’s, soos Brug 14, Cuito Cuanavale, Cassinga, Caluque . . .

In die vroeë 1990’s was daar slagting in Boipatong, Tokoza en Richmond.

Toe breek 1994 en die geboorte van die demokratiese Suid-Afrika aan. Die stryd was veronderstel om verby te wees.

Maar ’n nuwe “oorlog” het uitgebreek, sporadies en bykans ongemerk, maar algaande feller, wreder en al hoe meer siedend. Met nuwe slagvelde alom.

Net die laaste tyd wéér: Witrivier, waar die mooie dr. Rensia de Wet, veearts, oorval, verkrag en vermoor is. Bainsvlei en Theunissen, waar Toon en Rienie Swanepoel (by Waaikraal) en Martie Bester (op Erfbloem) vermoor is. Die Swanepoels is op mekaar elk met ’n skoot in die kop geskiet is, terwyl ’n makker aan Rienie se beskuit staan en kou het. Martie is dood in haar uitgebrande huis gekry.

Tussen die moorde op dr. De Wet in Desember en vandeesweek s’n was daar ander. Sedert 2010 is sewe dubbele plaasmoorde (insluitend een met drie slagoffers) in die Vrystaat gepleeg. Die afgelope 20 jaar was daar honderde plaasmoorde in die land. Of duisende?

Anders as vroeëre plaaslike oorloë, mag die nuwe stryd nie “oorlog” heet nie. Die ANC-regering hou nie daarvan nie. Of van die woord “plaasaanvalle” nie.

Anders as vroeëre oorloë – tussen verklaarde teenstanders – is dit in die nuwe “oorlog” nie veldslae nie, maar slagting.

Met een party ongewapen, onbehoed, uitgelewer. Eerder hinderlae, waarvan die sekwens só verloop: Onskuldiges, meestal wit, word voorgelê deur swart aanvallers, op ’n tyd wanneer hulle weerloos is, soos ná kerk op ’n Sondag. Hul eiendom word geplunder en hulle word gemartel, verneder, tereggestel, afgeslag. Die motief nou: roof, bloedsug, vergelding? Vir wat?

Die beleërde polisie keer die skuldiges aan. Koerante berig oor die moord, maar word beskuldig (deur die regering) dat hulle opsweep of (deur wit haatsprekers) dat hulle swyg. Politici ontken dit het iets met ras te make. Grond-aanhitsers ontken aandadigheid. Teen dié tyd is nóg ’n plaasmoord gepleeg. Die moordenaars kry tronkstraf, maar word later vrygelaat.

Het die regering maar soveel aandag hieraan gegee as aan die magsmakelary rondom Jacob Zuma en Nkandla.

Dis ons land se nuwe slagvelde: Witrivier, Bainsvlei, Theunissen, Senekal, Lindley, Trompsburg, Heilbron, Hartswater, Reitz, Alma, Jagersfontein . . .

Terwyl hier vrede (moet) heers.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.