Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Susan Cilliers: Totius — Is hy held of skurk?
Totius
Die Totiusstandbeeld voor die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se hoofgebou.

Totius, die digter en Bybelvertaler, het ’n kernrol gespeel in die stigting van die universiteit wat vandag die Noordwes-Universiteit (NWU) is.

Die drukgroep ReformPUK het vandeesweek gevra sy beeld voor die hoofgebou van die NWU se Potchefstroomkampus moet waai omdat hy apartheid gesteun en uit die Bybel geregverdig het.

Lees ook: Totius best​orm

Kort ná die Anglo-Boere-oorlog was Afrikaners verslaan en verarm. Teen hierdie agtergrond het die begaafde teoloog Jacob Daniël du Toit (Totius), nogtans daarin geslaag om ’n groot bedrag geld van verskillende gemeentes in te samel om sy visie waar te maak: om die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk vanaf Burgersdorp na Potchefstroom te verskuif. Die jong dominee se ywer het vrugte gedra: Teen 1905 was die verskuiwing van die Teologiese Skool na Potchefstroom voltooi.

Was dit nie vir Totius nie, sou die Potchefstroomse Universiteitskollege (wat in 1919 uit die Teologiese Skool ontstaan het) en die latere NWU waarskynlik nooit tot stand gekom het nie, skryf die kerkhistorikus Francois Muller in sy artikel oor Totius.

Vandag staan Jo Roos se standbeeld van Totius op ’n ereplek: voor die Potchefstroom-kampus se indrukwekkende, spierwit hoofgebou, by die Calvynfontein.

Sy beeld is juis daar geplaas omdat water ’n belangrike ­tema in sy gedigte was, skryf Muller. Die beeld van 2,4 m hoog het vanaf sy onthulling in 1977 tot 2009 naby die Wasgoedspruit in Potchefstroom gestaan omdat Totius graag daar gestap het.

Dis in 2009 na die Potchefstroom-kampus verskuif om deel te vorm van die skry­wers­tuin, waar Sol Plaatjies se kopbeeld ook staan.

Maar ReformPUK wil nie vir Totius hê nie.

Rassekonflik het Dinsdag gedreig toe ’n groep swart ondersteuners van ReformPUK die Totius-beeld bestorm en hoofsaaklik wit studente dit toegestaan het om die beeld te beskerm.

Uit Totius se versamelde werke blyk dit hy het inderdaad ’n beleid van rasseskeiding uit die Bybel regverdig.

Dit is onder meer vervat in ’n referaat wat hy in 1944 op die Volkskongres oor Rassebeleid gelewer het. Dis getiteld “Die godsdienstige grondslag van ons rassebeleid”.

Prof. Rikus Fick, kerkhistorikus aan die NWU, maan dat Totius se opvattings binne konteks gesien moet word.

“Dis eerstens gemaak binne die konteks van die tydsgees waarin hy geleef het. Tweedens was dit geensins die hoofmomente van sy besige lewe nie.”

Muller skryf Totius was veral bekend om sy nederigheid. Om dié eienskap te laat blyk, kyk die Totius-beeld effens af.

Hy is in 1877 in die Paarl gebore. Totius het teologie in Burgersdorp gestudeer, maar sy doktorsgraad in 1903 met lof aan die Universiteit van Amsterdam verwerf. By sy terugkoms kort daarna na Suid-Afrika is hy met Marie Postma getroud. In 1911 het hy professor in teologie en later rektor van die Teologiese Skool in Potchefstroom geword.

Muller skryf Totius se nalatenskap is veral die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans, wat in 1933 verskyn het. In 1936 het hy ook die Psalms berym.

Totius se digwerk is welbekend, onder meer die aangrypende gedigte “O die pyngedagte my kind is dood” en “Die Godsbesluit”, wat hy ná die dood van twee van sy kinders geskryf het. Sy seuntjie van 18 maande, Francois, is dood weens breinvliesontsteking. Sy dogter, Wilhelmina, het kort daarna gesterf toe weerlig haar op die Du Toits se plaas buite Potchefstroom getref het.

’n Besluit oor die lot van Totius se standbeeld gaan wys­heid van Salomo verg. Want vir sommige is sy teenwoordigheid net so ’n pynlike gedagte soos wat die verwydering daarvan vir ander is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.