Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verskil tussen Israel en SA
Ons is daardie seldsame ding: ’n onderdruk-kersklas wat weggestap het van onder-drukking as manier van bestaan.

Sowat ’n week gelede is die pro-Palestynse aktivis Marthie Momberg onderweg na ’n Kairos-konferensie in Betlehem, Israel, 11 uur lank by ’n grenspos aangehou en ondervra voordat sy toegang geweier is.

By haar terugkeer na Suid-Afrika het sy op haar blog, met verwysing na Israeli’s, gesê: “I see their desperation to cling to their outdated narrative of a small, threatened people in a sea of hate.” Dit herinner ’n mens weer die ooreenkomste tussen Israel en Suid-Afrika is tasbaar, maar so ook die verskille.

Israel het in 1948 ontstaan, die jaar wat die NP aan die bewind gekom het. Albei 1948’s het met Brittanje se imperiale kaperjolle te doen. In Suid-Afrika was die Afrikaner-nasionaliste daarop uit om die Britte en wit Engelssprekendes se politieke, ekonomiese en kulturele houvas te verbreek. In Palestina het Brittanje sy posisie as mandaathouer gebruik om ’n staat aan die Sioniste te belowe, maar, getrou aan sy koloniale gewoontes, die teenwoordigheid van Palestyne geïgnoreer.

Gedurende dié tydperk, in 1947, moes Brittanje ook Indië afstaan. In Palestina en Indië is partisies aangebring, terwyl apartheid in Suid-Afrika ingestel is. Al drie die gebeure gedurende 1947-’48 het rampspoedige gevolge gehad.

Totale Strateeg PW Botha se beroerte-aanvalle het Suid-Afrika gered. Diegene wat nostalgies oor apartheid voel, ignoreer liefs dat wit oppermag net in ’n polisiestaat sou kon voortduur. Botha se mislukte pogings om apartheid te hervorm, het slegs voortgesette militarisering en verskerpte onderdrukking gelaat as opsies. Totalitarisme is al wat uiteindelik wit minderheidsregering sou kon verseker.

Twee dekades gelede, toe die Israeli’s en die Palestyne ’n tweestaat-oplossing beding het, was ons midde-in onderhandelinge om Suid-Afrika in ’n demokrasie te omskep. Polities verskil ek totaal van FW de Klerk, maar hy, Roelf Meyer en Leon Wessels was die regte mense op die regte tydstip. Dié gedagte tref ’n mens weer eens wanneer jy die krisis op die grond in Palestina sien, soos ek tydens ’n onlangse feitesending kon doen.

Ek is daarteen gekant om politieke oomblikke tot leiersfigure te reduseer, mits die figure benader word as vensters op ’n sekere tydsgewrig. Vanuit dié oogpunt is ’n individu ’n vergestalting van die geskiedkundige omstandighede wat sekere politieke moontlikhede skep en ander ondenkbaar maak.

In dié sin, dus, het die werklikhede van daardie oomblik leiersfigure voortgebring wat ’n totaal nuwe stel moontlikhede kon teweegbring. Daarteenoor kon Suid-Afrika vandag ’n oorlogsone gewees het – soos Israel, wat sedert sy ontstaan omtrent voortdurend oorlog voer.

Hoewel Suid-Afrikaners deesdae met ’n menigtal ernstige probleme worstel, is ons grootste probleem nie meer hoe om ’n politieke afgrond te oorbrug sonder om mekaar uit te wis nie.

Ons is besig om sin en inhoud aan demokrasie te probeer gee. Weliswaar wankel die proses gereeld weens hardnekkige oorblyfsels van wit oppermag en die reperkussies van die ANC se dae in ballingskap, maar ons stu nog voort.

Soos ’n mens rondbeweeg in die besette gebiede van Palestina, vra jy jouself af: Hoekom merk ’n mens geen opvallende besef van morele krisis op nie?

Dit is omdat die Israeli’s steeds aan ’n koloniale narratief vasklou, soos Momberg opmerk. Afrikaners is anders: Die immoraliteit van apartheid het ons destyds ingehaal. Ons is daardie seldsame ding: ’n onderdrukkersklas wat weggestap het van onderdrukking as manier van bestaan.

Daarom durf ons nie dat die reaksionêre tendense in ons geledere – tans opvallend in die gedaante van luidrugtige regse populiste – ons onontbeerlike bydrae tot die demokrasie ontspoor nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.