Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
wag n bietjie
Waldimar Pelser: ANC wil verlede eerder as toekoms regstel
Op ’n beleidsvlak is die ANC soos die slagoffer van ’n motorongeluk wat jare later nog ronddwaal op die toneel

Dit is nie aldag dat die ANC – daardie “een tree vorentoe, twee treë agteruit”-bevry­dingsbewe­ging, erken dit gaan nie goed nie.

Maar in besprekingsdokumente wat voorberei is vir die party se nasionale algemene raadsvergadering in Oktober erken die skrywers wat die meeste van ons weet: Die ekonomie bloei. Meer as 60 000 poste is tans in die gedrang, het die Solidariteit-navorsingsinstituut Dinsdag gesê.

Die ANC gaan soek ver vir redes waarom ekonomiese groei eintlik reeds sedert 2008, toe Jacob Zuma pas vir Thabo Mbeki vervang het as ANC-president, nie voldoen aan verwagtinge nie. In sy dokumente kry die resessie en ongedurigheid in geldmarkte wat soveel lande in daardie jaar getref het, baie skuld daarvoor dat die “tweede fase van die oorgang na radikale ekonomiese transformasie” buite bereik bly.

Hierdie doelwit, naamlik “radikale ekonomiese transformasie”, ’n projek wat noodwendig terugkyk na die apartheidsverlede voordat dit vorentoe kyk na groei en werkskepping, het egter self ’n struikelblok vir die ANC en die land geword: Op ’n beleidsvlak is die ANC soos die slagoffer van ’n motorongeluk wat jare later nog ronddwaal op die toneel.

Hy sukkel om aan te beweeg, is obsessief oor die verlede, en dit kós ons.

In die maak van beleid het die ANC die regstel van die ongeregtighede van die verlede tot bo ’n groei-agenda verhef. Die fokus val dus al hoe meer dringend op die herverdeling van die koek eerder as die vergroting van die koek.

In hul jongste verslag oor hoe Suid-Afrika in 2035 kan lyk, sê die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) ons ekonomie gaan oor 20 jaar 10% kleiner wees as wat voorheen voorspel is.

Hulle noem die trajek waarop ons deesdae is “Bafana Bafana Redux” – ons presteer nóg slegter as die nasionale sokkerspan, reeds ’n “ewige onderpresteerder”.

Daar is twee hoofredes: Die eerste is dat “besteding om die apartheidsnalatenskap reg te stel noodwendig die aandag aftrek van beleggings wat potensieel meer groei-gesentreerd is”, ­aldus die ISS.

“Die tweede rede is dat baie van die regering se eerbare en regverdigbare doelwitte saamgeval het met grootskeepse vermorsing, beleidseksperimentering en baantjies vir boeties.”

Die obsessie met terugkyk, oftewel die gestokkiesdraai op die ongelukstoneel (“Kyk! Hier is die brieke aangeslaan . . . en hier het die bloed destyds gelê!) is peperduur: Dit gebruik skaars energie in ’n poging om die verlede eerder as die toekoms reg te stel.

Die dubbele slag van ’n apartheidsfiksasie én korrupsie en vermorsing het erg ironiese, en ook tragiese, gevolge: Hoe stadiger die ekonomie groei, hoe langer gaan dit neem om dit te doen wat gebiedend noodsaaklik is, naamlik om vir swart Suid-Afrikaners ekonomiese geleenthede te skep.

Verstaan my reg: Daar is ’n plek vir herverdeling en regstelling. Elke ekonomie in die wêreld benodig albei: herverdeling, deur byvoorbeeld ’n progressiewe belastingstelsel soos in Suid-Afrika, én welvaartskepping.

Met sy onlangse besoek aan Suid-Afrika het Lloyd Blankfein, die grootbaas van die New Yorkse beleggingsbank Goldman Sachs, opgemerk dat die bepaling van die balans tussen welvaartskepping en herverdeling ’n politieke besluit is: Jy móét vir albei voorsiening maak, en as jy die balans verkeerd kry, val alles uitmekaar.

Sonder sigbare herverdeling sal miljoene arm mense ’n stok in die wiel van welvaartskepping steek; met té veel herverdeling sal die welvaartskeppers die hasepad kies.

Ons huidige ekonomiese kopseer is egter deels die gevolg daarvan dat die ANC, wat gebrek ly aan sterk leierskap en wie se faksies knaend vir drasties verskillende ekonomiese beleid beding, die balans nie regkry nie: Dat hy te veel terugkyk, te veel wil herverdeel, eerder as alles in sy vermoë doen om groei te stimuleer.

In die komende verkiesingsjaar is daar ongelukkig geen rede om te verwag die party sal nugter, langtermynbeplanning vir groei bo populistiese korttermynwinste danksy sigbare herverdeling kies nie, en dit is veral vir behoeftige Suid-Afrikaners katastrofaal.

Op ’n beleidsvlak is die ANC soos die slagoffer van ’n motorongeluk wat jare later nog ronddwaal op die toneel.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.