Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wag n bietjie
Waldimar Pelser: Hoop as alle jonges ontgin word

Die sweepslaners van Elsenburg, daardie takhare wat al gillend en skreeuend amok gemaak het by die landboukollege omdat hulle verneder en uitgesluit voel deur witheid en Afrikaans, verdien geen publisiteit nie, geen oudiënsie met die rektor nie en geen geduld nie.

Vervolg hulle, dissiplineer hulle, ontmasker en isoleer hulle. Kasty hulle, koggel hulle, verswyg hulle.

Wie gee hulle die reg om studente te dreig? Wie dink hulle is hulle – “Kill the Boer” het dreigend weergalm, Afrikaans was weer die teiken, rassehaat is ongebreideld voortgebring. Oor dié klomp moet Stellenbosch se studentekorps en alumni hulle nie bekommer nie. Hulle is randeiers en is nie die stem van welmenende swart studente wat ’n plek soek om te swot nie.

Oor húlle moet ons ons wel ontferm: Oor jong mense aan die buitewyke van hierdie dorp (en ander dorpe en stede wat sentra van akademiese uitnemendheid is) wat al ophou droom het om eendag iets te word. Hul ouers is werkloos en soms afwesig, hul onderwysers kwalik syfervaardig en hul winters meedoënloos goor.

Kom ons fokus liewer daarop om bondgenote van talentvolle jong Suid-Afrikaners van elke kleur en agtergrond te word.

Hulle sien in baie gevalle geen pad kampus toe en na ’n lewe met waardigheid en vooruitsigte nie (’n graad is geen waarborg hiervoor nie, maar navorsing wys dit help beslis).

Lees ook: 

■ Waldimar Pelser: ANC wil verlede eerder as toekoms regstel

■ ​Waldimar Pelser: Let’s fight for Afrikaans

■ ​Waldimar Pelser: Waarheid bly waar, of jy dit glo of nie

Daarom is dit nie net om menslikheidsredes belangrik om dié jong mense, meestal swart en bruin, se drome van iets beter lewend te hou nie, maar ook om pragmatiese redes. Jong mense wat nie voel hulle het ’n belang by die voortsetting van die heersende orde nie, is geneig om stokke in wiele te steek. Dit is hoe dit is.

Maar ons moet ook harder probeer om meer jong mense in goeie skole te kry (en daarom moet ons die gehalte van skole verbeter) omdat talentvolle, hardwerkende jong mense met potensiaal, maar moeilike omstandighede, te maklik steeds deur die krake val.

Ek hoor Saterdag ’n baie inspirerende storie. Regter Edwin Cameron (wat arm grootgeword het, maar danksy ruim beurse ’n wêreldklasopvoeding kon kry) het by ’n geleentheid om vanjaar se groep Rhodes-beurshouers te groet voordat hulle na die Universiteit van Oxford vertrek, van Vuyane Mhlomi vertel.

Vuyane het in Khayelitsha, Kaapstad in ’n enkelouer-huishouding van 10 kinders grootgeword. Spoeltoilette is daar skaars. Vuyane het sy tande met Sunlight-seep geborsel.

Sy ma het iets in hom gesien en gespaar om hom na ’n beter skool te stuur. Met drie A’s en drie B’s in die hand het hy net-net aan die Universiteit van Kaapstad se toelatingsvereistes vir swart studente voldoen (39 punte teenoor 45 vir wit studente).

Sy ma, wat ’n beroerte gekry het terwyl hy vir sy eindeksamen studeer het, was toe reg oor Vuyane. Hy het derde uit 171 mediese studente met ’n eersteklas gegradueer, ’n dokter by die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Johannesburg geword en danksy uitnemende akademiese prestasie, durf en ’n toewyding aan die opheffing van jong mense ’n Rhodes-beurs gekry waarmee hy nou aan die Universiteit van Oxford studeer. Vuyane se MH Foundation kies elke jaar 10 leerlinge met leierspotensiaal en ’n bogemiddelde werksetiek. Hulle kry ekstra klasse en móét elke maand ’n boek buite die kurrikulum lees om ’n leerkultuur te vestig. Hy is nog net 27.

Nie net moet ons help keer dat jong mense met durf en intelligensie, soos Vuyane, deur die krake val nie, maar ons moet ook in landsbelang sy voorbeeld volg en talent ontgin onder jonges wat niks behalwe ywer het nie.

Ons is gedoem om weg te sink as jong mense soos Vuyane deur die stelsel verhinder word omdat hulle arm is. En ons is ook gedoem as wit jong mense verhinder word oor hul ras.

Laat staan daarom die sweepslanery en haat. Kom ons fokus liewer daarop om bondgenote van talentvolle jong Suid-Afrikaners van elke kleur en agtergrond te word. Dan is daar hoop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.