Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
WAG N BIETJIE
Waldimar Pelser: Let’s fight for Afrikaans
Afrikaans kan net gedy as Afrikaanse mense ekonomies vooruitgaan, al doen hulle dit nie in Afrikaans nie.

Afrikaans het geen toekoms as sy sprekers krepeer nie. En sy sprekers gaan krepeer as hulle nét Afrikaans kan praat. Dit is nie lekker om te hoor nie, maar tog onteenseglik só dat diegene wat in ons verengelsde en verengelsende Suid-Afrika gebrekkige Engels praat, of hulle nou Zoeloe of Pedi of Afrikaans grootgeword het, nie dieselfde geleenthede gaan hê as hul Engels-vlot eweknieë nie, nie so vinnig bevorder sal word nie en op die duur minder ekonomiese vryheid sal geniet, wat sal insluit die vryheid om vir hul kind opvoeding in sy of haar voorkeurtaal (Afrikaans?) te koop.

Vlot Engels is ’n instrument van ekonomiese bemagtiging waarsonder Afrikaanses nie opgang kan maak nie. Die dae van Afrikaanse politieke en ekonomiese hegemonie is verby; dié wat die nuwe spelreëls die snelste ­bemeester en die nuwe idioom die beste verstaan, sal gedy.

Lees ook: 

Waldimar Pe​lser: Waarheid bly waar, of jy dit glo of nie

Waldimar​ Pelser: SAKP se invloed in regering geen grap

Waldimar Pelser: 1995 se eenheid was ’n fi​ksie. 2015 s’n hoef nie te wees nie.

Daardie Afrikaanse mense wat ekonomies bemagtig is, wat firmas gebou het wat globaal mededingend is al was die wortels hóé Afrikaans – dink Sanlam, Naspers en ander – kon dit doen nie net danksy hul buitengewone sakevernuf nie, maar ook omdat hulle hul idees aan die res van die wêreld kon verkoop – in Engels.

Diegene wat daarom kla dat die Sanlams van die wêreld “verengels” het, dat vergaderings en interne kommunikasie nie meer in Afrikaans gebeur nie, is daarom kortsigtig: Dat soveel korporasies wat eens Afrikaans was, uitgebou is tot globale kolosse is nie net ’n prestasie van Afrikaanssprekendes nie, maar het ook duisende Afrikaanse mense, werknemers en aandeelhouers, bemagtig en verryk, wat vir hulle die waardevolste bate verseker het: opsies.

Afrikaans kan net gedy as Afrikaanse mense ekonomies vooruitgaan, al doen hulle dit nie in Afrikaans nie. Die verligting van ekonomiese nood onder Afrikaanssprekendes en die bou van rykdom is die sekerste langtermynbelegging in die toekoms van die taal.

Die benarde ekonomiese lot van ­soveel bruin Afrikaanssprekendes is die heel grootste bedreiging vir die taalgemeenskap se welstand, en daarom ook die welstand van die taal, want die gemeenskap gaan die taal altyd vooraf.

’n Gemeenskap in bestaanskrisis, ’n gemeenskap sonder die bewese gewaarwording van opwaartse mobiliteit, ’n gemeenskap wat bowendien nie gesien word as bondgenoot in die stryd vir meertaligheid nie, of wat bloot ander prioriteite het, gaan nie in die voorste linies teen verengelsing en die verskraling van ons taalverskeidenheid wil of kan veg nie.

Dus: Sonder Engels sal Afrikaanse mense nie ekonomies gedy nie. En sonder Afrikaanse mense wat ekonomies gedy – álle Afrikaanse mense – sal daar nie die wil of vermoë wees om aan Afrikaans te bou nie.

Ons weet dat dit ekonomiese werklikhede is wat in plekke soos Atlantis in die Wes-Kaap die verengelsing van Afrikaanse skole verhaas: Skole daar kort Engelse kinders se skoolgeld, en die Afrikaanse ouers glo Engels eerder as Afrikaans sal hul kinders se toekoms ontsluit. Ouers se rug is eintlik teen die muur: Hulle kan nie bekostig om, soos die Grondwet ook toelaat, private onderrig in Afrikaans vir hul kinders te koop nie. Die mark word Engels. Ouers kapituleer.

) Afrikaans het ook ’n benarde toekoms as slegs in Afrikaans voorbrand gemaak word vir Afrikaans.

So noodsaaklik as wat dit is dat Afrikaanssprekendes, bruin en wit, inkoop in pogings om vir Afrikaanse ruimtes te veg, so onvoldoende is dit as nét hulle dit doen: Die stryd om meertaligheid sal net gewen word as ’n breë koalisie, wat nie net wit is nie en beslis nie net Afrikaans nie, in die voorste linies veg.

Afrikaanses wat omgee vir die taal sal harder moet werk om anderstalige bondgenote oor te haal.

Afrikaans kan net gedy as Afrikaanse mense ekonomies vooruitgaan, al doen hulle dit nie in Afrikaans nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.