Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wag n bietjie
Waldimar Pelser: Waarheid bly waar, of jy dit glo of nie
Media wat knaend kritiek teen die staat publiseer, kan aansienlike advertensie-inkomste verloor as hulle die balans nie betyds herstel nie.

Dit is vir die ANC duister waar onafhanklike ­media soos Rapport aan die idee kom dat ­opgraderings by die presidentswoning in Nkandla R246 miljoen gekos het.

Ons versin dit seker, net soos berigte dat Prasa se treine te hoog is, sy ingenieur ongekwalifiseer en sy (nou eks-) uitvoerende hoof leuenagtig is.

Ons word gedryf deur ons eie onvermoë om in die “goeie storie” van Suid-Afrika te glo en ons halsstarrige onwilligheid om die waarheid te vertel soos wat die heersersklas dit sien.

So, as koerante soos Rapport, Beeld, City Press, Mail & Guardian en Sunday Times week ná week versinsels opdis oor Zuma, oor die SAL, oor die SAUK, oor die NVG, oor die polisie en oor die ANC se voorgestelde nuwe mediabeleid, om van moorde in dorpe en stede en op plase en korrupsie nie eens te praat nie, waar kry patriotiese Suid-Afrikaners dan die waarheid – en hoe lyk dit?

Gelukkig is daar één blad wat die storie vertel soos wat ons leiers dinge sien: The New Age. Ja, in die verlede is koerante al gestig, ook in Afrikaans, om napraters van ’n regering te wees, maar deesdae roem die meeste media hulle op onafhanklikheid, minstens van regeringsinmenging. The New Age, eiendom van pres. Zuma se Gupta-vrinne, het op die dag van die media se besoek aan Nkandla onthul hoeveel die veiligheidsopgraderings daar werklik gekos het: R71 miljoen.

R71m: Actual spend on Zuma ­house.

Die “bron” van die koerant se berig is die onbeholpe Nathi Nhleko, minister van polisie, wat aan enigiemand wat bereid is om hom te glo probeer vertel dat R135 miljoen se besteding aan polisie- en weermaghuise reg langs Zuma se opstal níks met sy hoogheid se veiligheid uit te waai het nie, en dat “slegs” R71 miljoen regstreeks bestee is aan veiligheidsverbeterings vir die president self. Nou blyk dit boonop die klein, leë polisiehuise is vuil en onversorg, al het elkeen volgens Nhleko-hulle R6 miljoen gekos. Donderdag het Netwerk24 berig die president het self opdrag vir talle van die veiligheidsopgraderings gegee, ondanks vroeëre ontkennings.

Wat as alle media met die “amptelike” weergawe van die waarheid tevrede was, soos The New Age? Suid-Afrika word ’n Orwelliaanse distopie: Die publiek se sienings word gemanipuleer deur heersers wat die geskiedenis herskryf, stroomopswemmers se denke polisieer en die taal “New­speak” afdwing, waarin slegs begrippe bestaan wat lojale kaders sou wou gebruik en ondinge soos kritiek letterlik ondenkbaar en onsêbaar word .

George Orwell se 1984 (gepubliseer in 1949) beskryf ’n wêreld wat ’n nagmerrie is vir demokrate wat glo in die heilsame interaksie – selfs botsings – tussen idees, vir mense wat verstaan dat ons nie regeer word deur die brute krag van ’n meerderheid nie, maar onderworpe is, een en elk, minderhede en die meerderheid, opposisie en die ANC, aan ’n grondwet wat bo alles staan.

Maar soos wat Rapport verlede Sondag berig het, hunker die ANC heimlik na ’n land waarin elke slegte storie gebalanseer word deur ’n verhaal vol sonskyn. 

Lees hier​Staat bal vuis: ‘Daar ís ’n goeie storie’

Media wat knaend kritiek teen die staat publiseer, kan aansienlike advertensie-inkomste verloor as hulle die balans nie herstel nie.

Einde vanjaar word die wenner bekend gemaak van die tenders vir kernkragstasies wat die regering sê teen 2023 in werking sal wees.

In die aanloop tot 2023 en daarna gaan soveel as $100 miljard aan konstruksie bestee word. Net ’n onafhanklike media het die impetus en durf om antwoorde te soek op die vrae wat sulke groot bedrae geld noodwendig opper.

Die regering se opmerkings hieroor die afgelope week wys hy reken ons almal weet reeds heeltemal genoeg.

Media wat knaend kritiek teen die staat publiseer, kan aansienlike advertensie-inkomste verloor as hulle die balans nie betyds herstel nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.