Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wanneer boetie nie suurstof kry nie
Réney Warrington

So twee jaar gelede word my bababoetie, RB, opgeneem in die hospitaal. Die dokter verklaar sy borskas as te krom en skeef en te klein om sy longe te huisves. Dit beteken omtrent kroniese longontsteking. Dit is die enigste pad vorentoe. Permanente suurstof. Longontsteking. Antibiotika. Longontsteking. Antibiotika. En die pad kan lank wees. Ek knik asof ek verstaan.

Ek is die enigste een tuis toe hulle sy suurstofstelsel by die huis kom opstel. Daar word daar aan my verduidelik watter knop ek moet druk en watter pyp waar ingedruk moet wees om my boetie aan die lewe te hou. Hy kan nou nie langer as tien minute sonder suurstof wees nie.

Die blasende masjien, wat my ma binne minute die generator sal begin noem, moet 10 cm van die muur af wegstaan, verduidelik die suster. Die water in die bekertjie moet op die tweede kerf staan. Die masjien mag nie ’n kragprop deel met ’n ander elektriese toestel nie. Die balletjie moet op twee staan. Of is dit nou drie. Ek vra weer.

Meeste hiervan verstaan ek nog, maar ek raak bietjie senuagtig toe sy die backup-silinder verduidelik. Dit is nou vir as die generator breek of die krag afgaan. En, ons het mos net tien minute om die oorskakeling te doen. Ek knik asof ek verstaan.

Ons kan nie nog ’n ambulansrit bekostig nie, so met die einste backup-silinder vasgepak met kussings en klere op die agterste sitplek, ry ek hospitaal toe in my ma se wit karretjie.

Ná drie dae van regop sit in ’n gemakstoel en waak oor jou jongste, sal die gaafste onder ons nie meer beskaaf wees nie. In die gang hoor ek al hoe my ma baklei met ’n arme versorger. Niemand kan na haar seun kyk soos sy nie. En sy is reg. Sy is ʼn leeuwyfie vanoggend en tot en met ek 32 jaar na ’n gestremde kind, my eie gestremde kind, gekyk het, moet ek my bek hou en terugstaan dat sy raas.

Met ’n gesukkel kry twee ouens vir RB in die rolstoel. Hy glimlag deurentyd vir al die vroulike verpleegsters asof hy ’n 30-jarige hubare bachelor is. Asof hy nie doek dra, stom is en gevoer moet word nie. Asof hy kan loop, soentjies uitdeel en Springbokrugby speel. Tog kry hy dit reg om keer op keer hul harte week te maak. Sy eie ego kan dit ook nie weerstaan as hulle hom Meneer Warrington noem nie.

My ma moet nog ’n vorm teken, so ek vat die geleentheid wat die heelal my bied. Ek gryp die hospitaal se silinder en wys vir die portier om in die gang af te laat waai. Ek wil nog vandag by die huis kom en die arme personeel het ’n blaaskans nodig. Al die verpleegsters waai en R.B. steel summier ’n hospitaalkussing bloot deur te weier om dit terug te gee. Hoekom hy ’n soewenier wil hê van hierdie spesifieke ekskursie, weet nugter alleen.

Ek en my vennoot het skaars die karretjie se agterdeur oop, toe staan my ma reg agter ons, slegte knieë en heupe inkluis, en bevele uitdeel. Daar is geen wegkomkans nie. My vrou en RB se oppasser en tweede ma, Maria, daag dieselfde tyd op.

Ek en my vennoot het skaars die karretjie se agterdeur oop, toe staan my ma reg agter ons, slegte knieë en heupe inkluis, en bevele uitdeel. Daar is geen wegkomkans nie.

Die portier stel voor ons sit die pasiënt eers in die kar. Dan ruil ons sy silinders. Hy het dit seker al vantevore gedoen, so ek stem. Tussen die vier van ons, terwyl my ma kommentaar lewer en kritiseer en baklei, stoei ons vir RB in die kar in. Hy weeg dalk slegs 40 kg, maar daardie 40 kg is ses voet lank, gekoek, styf en bowenal breekbaar.

Ons maak sy silinder oop, kyk of die suurstof deurkom en ruil gou die pype. Ek maak my beursie leeg vir die portier. Ek en RB sit voor, my ma, my vrou en Maria agter. Ons pak die 10 km huis toe aan.

“Hier gaan ons, broer,” sê ek en stamp teen sy skouer. Hy glimlag al te breed. Die rit huis toe, na sy enkelbed en CD-speler en geborduurde karretjies op die muur toe, is vir hom ʼn avontuur.

Halfpad huis toe sien ek RB is heel bleek. “Kry jy asem, broer?”

“Huh-uh,” hyg hy.

“Check die suurstof!” gil ek benoud. My ma en Maria grawe rond, mompel vir mekaar en soek eers vir ʼn bril. “Bliksem!” Ek is reg om af te trek en saam te soek.

“Toe, toe,” sê my ma verbasend kalm, sit Maria se bril op en lees die syfers hardop. “Nee, dit was toe.” My swak hart! “Hannelie het per ongeluk daaraan geraak met haar been.”

“Is dit nou oop?” Ja, antwoord die koor. “Is julle seker?!” Ja. “Jissie, Hannelie,” sê ek in skok.

“Hey, jy moet sien hoe ongemaklik sit jou arme vrou,” skerm my ma.

Ek, Maria en Hannelie kyk mekaar eers in ongeloof aan, dan kyk ons my ma in ongeloof aan.

“Ma,” sê Hannelie, “ek kan darem op my eie asemhaal.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.