Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
WOELINGE OOR AFRIKAANS OP KAMPUSSE
Wannie Carstens: Taal ’n kapstok vir jeug se frustrasie
Die woelinge die laaste weke oor Afrikaans op universiteitskampusse volg dieselfde patroon as in 1976. Studente is kwaad oor ander goed, maar Afrikaans word dan ’n maklike teiken, skryf Wannie Carstens.
’n Gesamentlike betoging van Open Stellenbosch en Rhodes Must Fall onlangs op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Leanne Stander

Prof. Jaap Steyn, skrywer van Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014), het ’n artikel geskryf wat op 16 Junie 2000 met die veelseggende opskrif “As jy op my liddoring trap, gaat ek jou slaat, vir ou goete ook” in Beeld verskyn het.

Die artikel het verwys na die Soweto-opstand van 1976 en die strekking was die volgende: Afrikaans het in die algemeen die “skuld” gekry vir die opstand en geweld van Junie 1976, maar dit blyk uit historiese feite ’n eensydige beskouing te wees. Die druk om Afrikaans as onderwystaal in swart skole in te voer, was bloot die stimulus wat die opstand laat opvlam het, wat die emmer laat oorloop het. Afrikaans was bloot die laaste druppel.

Die mense was naamlik kwaad oor baie goed, soos swak onderwys (Bantoe-onderwys) in die townships, die passtelsel, die Groepsgebiedewet, die marteling van dié wat hulle teen apartheid verset het ensovoorts. Dié lysie is ongelukkig lank.

Die kwessie was dus nie regtig die taal nie, maar ánder redes. Afrikaans as onderwystaal was net die “liddoring” en toe daarop “getrap” is, het die woede ontplof. Die geskiedenis wys wat die uiteinde en gevolge hiervan was.

Die woelinge die laaste paar weke oor Afrikaans volg dieselfde patroon: Die studente is kwaad oor ander goed, maar Afrikaans (en daarby wit mense, asof Afrikaans net deur wit mense gepraat word) is ’n maklike teiken.

En as ’n dom, wit student ’n rassistiese opmerking maak, soos volgens berigte aan die Universiteit Stellenbosch (US) gebeur het (soos in die Luister-video gesê word), is daar nog ’n makliker skakel: wit Afrikaanse mense is rassiste. Daar het jy ’n rede om buite perke op te tree, soos wat luidens berigte ook gebeur het.

Dit is waarom die US die teiken geword het. Dit is ’n voormalige Afrikaanse universiteit en daar is eers verlede jaar na ’n werklik meertalige bedeling beweeg. Vir die swart studente was dit te min te laat. Afrikaans moet waai, en “laat ons almal Engels as taal op universiteit gebruik”, is ruweg die denke.

As ek sukkel met Engels en jy as Afrikaanssprekende dring aan op Afrikaans as onderrigtaal (waarskynlik omdat jy ook sukkel om Engels goed te gebruik), moet ons ’n kompromis kry: ons gebruik net Engels en dan is alle probleme sommer eensklaps opgelos. Dit is naastenby die strekking van Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se argumente in die parlement, waar die US-bestuur soos stout kinders moes kom “please explain”.

Dit is waarom die US die teiken geword het.

Nzimande het hom en die land hierdeur geen guns bewys nie. Want hierdeur het die stryd teen Afrikaans groter legitimiteit gekry – laat waai met opstand en geweld, gee “hulle” (Afrikaanssprekendes, universiteite waar Afrikaans nog as onderrigtaal gebruik word) opdraand. Die minister skyn dan die opstand te ondersteun. En adj.pres. Cyril Ramaphosa sterk hom nogal in sy kwaad.

Dit is dwaas, want die minister wou goedkoop politieke punte verdien en aan die ontevrede swart jeug “iets” gee om hul frustrasies op uit te haal. En Afrikaans was die gerieflike kapstok daarvoor.

Die probleem is natuurlik baie groter as dit. Want ná 21 jaar van demokrasie het die regering talle leë verkiesingsbeloftes van 1994 nie nagekom nie. Die regering is in ’n krisis, want oral misluk dit wat aangepak word: die skole, die hospitale, krag, water. Daar is korrupsie en selfverryking, die staatsdiens funksioneer swak, munisipaliteite lewer swak – of selfs geen! – dienste ensovoorts.

Dan is dit mos lekker om iets te kry om die aandag af te trek van jou eie gebrekkige vermoë. Dan kry jy iets wat jou goed laat lyk, soos uitsprake teen Afrikaans en rassiste.

Dan is ’n verband tussen Afrikaans en rassiste maklik te maak.

Dit blyk ook duidelik uit die opmerkings wat talle swart studente teenoor wit studente en wit personeellede gemaak het ten tyde van optogte op Stellenbosch, Elsenburg (die boere) en Potchefstroom. Dit spreek van onverbloemde rassehaat teenoor wit mense.

Vir die swart jeug het min in 21 jaar verander. Die onderwys is steeds swak en dit maak hulle onvoorbereid vir die eise van tersiêre studie. Hul drome van ’n beter toekoms het begin vervaag.

Die mense is dus kwaad en iemand of iets moet die skuld kry en daarvoor is Afrikaans en instellings waar Afrikaans as een van die onderrigtale gebruik word (die US, Elsenburg, Potchefstroom), gerieflike teikens.

Dit is vuil politiek, uiters gevaarlik en polariserend. Rasse word oor taalgrense heen teen mekaar opgestel, en hierdie taalgrense word weer maklik rassegrense. Dit is ongelooflik dat dit ná 21 jaar nog kan gebeur.

In ’n gesprek op Facebook het iemand dit mooi saamgevat: “Die ANC se politiek oor Afrikaans is oneerlik en, soos byna al sy politiek, kleinlik gerig op sy eie miserabele behoud.”

Prof. Wannie Carstens

Dit is net soos dit is: blameer iemand anders vir jou eie mislukkings en dan lyk jy goed as jy uitsprake daaroor maak.

Uit talle mediareaksies die afgelope twee weke blyk dit die gevoel te wees dat Afrikaans duidelik net ’n simboliese teiken van die swart jeug se frustrasie geword het.

■■■

Waar laat dit ons nou?

Presies waar ons nie in hierdie stadium in ons geskiedenis moes gewees het nie. Ons moes teen dié tyd rasseharmonie gehad het, ons moes al ver op die pad van nasionale versoening en eenheid gevorder het, ons moes ’n goeie regering gehad het en as inwoners van die land moes ons wedersydse respek en verdraagsaamheid vir die verskeidenheid in ons samelewing gehad het. Helaas nie.

En wat tale betref? Tale is ’n kernkomponent van hierdie proses, want onthou, taal vervul ’n kardinale rol in die uitleef van jou menswees en mense gebruik natuurlikerwys ’n eie taal.

Die Afrikatale moes al baie verder ontwikkel gewees het as wat die geval is. Géén Afrikataal het in 21 jaar gevorder tot die vlak van ’n volwaardige onderrigtaal nie. Dit is ’n skande.

Maar nee, Engels skyn die groot gelykmaker te wees en die Afrikatale suig aan die agterspeen. En nou moet Afrikaans ook daar geplaas word. En daar word verder verkondig dat Afrikatale nie die potensiaal het om tot die vlak van onderrigtaal, as taal van wetenskap, verhef te word nie.

Politiek is vuil en dit is nog gemener om taal as ’n slaanstok te gebruik om jou foute weg te steek.

Afrikaans en die land se mense verdien beslis beter.

■ Prof. Carstens is direkteur van die Skool vir Tale op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.