Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Alle Kante
Wil jy jou skoolmaats ná 55 jaar sien?
Maureen Joubert

Jou lewe loop ná jou skooljare vreemde, onverwagte paaie. Jou drome van daardie jare het waarskynlik nooit die lig gesien nie; jy het van jou voornemens afgedraai en ’n nuwe rigting ingeslaan.

Ook maar goed, want vir baie van ons is skooldae-herinneringe beter in boksies weggepak. Maar nou en dan gaan sluit jy een oop en reën herinneringe oor jou. Soos ’n paar weke gelede toe foto’s per e-pos aan my gestuur is: een van ons matriekklas-groep en een van al die matrieks in ordelike rye soos dit hoort.

Uit die 100+ matriekleerders van destyds kon ek nie meer as 50 uitken nie. Met ons eie klas van 25 is ek darem al daar. Van baie van hulle onthou ek maar net die naam, en so nou en dan staaltjies. Te veel goeie maats is egter al oorlede. Laat ek nou maar erken: Hierdie foto’s is 55 jaar gelede geneem. Meer as ’n halwe eeu ge­lede. Hoe lyk ons nou, en wat het van daardie jong lewens geword?

Dit, hoor ek ’n paar dae later, kan beantwoord word mits ons binnekort ’n reünie bywoon; die eerste sedert ons in daardie jare met trane afskeid geneem het. Dit het ’n hele paar dae gekos om hierdie voorstel te laat insink – en toe eers het ek my in so ’n situasie begin indink.

Dis alles goed en wel om name te onthou, maar sal jy die mens daaragter vandag ken? Sal julle vandag nog iets gemeen hê? As skoolkinders het ons almal maar ons gunstelingmaats en ons aartsvyande – laasgenoemde gewoonlik ons grootste mededingers op die sportveld of in die klas.

Gaan ons almal mekaar omhels en “Oooee, jy lyk fantasties!” uitroep terwyl jy jou ongekrimpte maag diep intrek, en sorg dat jy nie te veel glimlag nie om die “onge-Botox-de” plooie weg te steek?

En die mans sal blesse en boepense vergelyk. Beroepe, motors en vroue ook.

Wil ek regtig op my ouderdom ’n reünie bywoon? Vyftig jaar gelede, ja; en elke tien jaar daarna as jy nog deel van die skoolspan voel.

Dit beteken geensins dat jy jou bo of benede die groep stel nie – eenvoudig net dat jy deel geword het van nuwe groepe, nuwe omgewings, jou eie gesin en uitgebreide familie het.

Hierdie nuwe wêreld sluit nie vriende van ouds uit nie. Egte, hegte vriendskappe gaan tog nie tot niet net omdat mense ver van mekaar is nie. Jou beste maats van toeka bly vriende, al sien ’n mens hulle net van tyd tot tyd.

Ek stel die vraag aan Nina, my kleindogter wat vier jaar gelede nog op die skoolbanke gesit het: Hoe voel sy oor reünies (sy was hoeka ’n leerder aan my ou skool)? Nee wat, sê sy. Sy’t kontak met haar goeie vriende van ouds, “maar oor die jare het ons almal ge-drift en nou stuur ons maar boodskappies”.

Eerder ’n reünie van haar college-maats, mense wat haar belangstellings gedeel het en waar sy nie meer die nerd van haar skooldae was nie!

So waar.

​mjoubert@mweb.co.za

Onrusrivier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.