Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wilhelm Jordaan: Gay predikante word só van ’n lewe ontneem
Dié letsels hou verband met ’n psigies pynlike belewenis.

Soos verwag kon word, kry prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, meer dwarsklappe as applous vir sy “persoonlike wens” dat die algemene sinode in Oktober sal besluit dat gay predikante nie selibaat hoef te bly nie en dat gay paartjies met die volle seën van die kerk mag trou.

Prof. Niemandt swem waarskynlik stroomop, want dit lyk of die behoudende konserwatisme en onkunde van die meerderheid van die kerk se lidmate en ampsdraers die septer sal swaai.

Soms wonder ek of behoudendes enigsins ’n benul het hoe mensonterend die huidige toedrag oor gay predikante is: “Jy mag ’n gay predikant wees, maar jy moet selibaat bly; nie trou nie en nie seks hê met iemand van dieselfde geslag met wie jy ’n liefdesverbintenis het nie.” Gewoon onsinnig.

Ek is onlangs gevra om te help met die ontleding van anonieme gay predikante se lewensbelewenisse. En was opnuut onthuts oor die omvang van hul psigiese letsels: Angs en vrees om ontdek te word, selfverguising, sondewaan, isolasie en onttrekking, eensaamheid, belewenisse van verwerping, beletsels op kreatiwiteit enso- (droewig)voort.

Dié letsels hou verband met ’n psigies pynlike belewenis van ’n dubbele binding – die knyptang van ’n gelyktydige “jy mag” en “jy mag nie”:

Jy mag amptelik die Here (en die kerk) dien deur jou prediking en pastorale arbeid. Jy mag egter nié die mensheid wat jy is (van waaruit jy preek en waarvan jou seksuele oriëntering part en deel is) uitleef in ’n liefdesverhouding nie (bly selibaat; geen huwelik nie).

Sulke dubbele bindings (double binds) is van die ergste lewensontnemende toedragte waarin ’n mens benouend vasgevang kan raak – soos Joseph Heller se roman Catch 22 dit tragies-komies beduie.

Dit laat jou nie toe om werklik sinvol te leef nie, want dit verlam jou. Die gay predikante se verhale bevestig hoe elkeen op eie manier nie hul volle menslikheid en pastorale potensiaal kan verwerklik nie. Want die durende vraag bly: Hoe moet jy God dien met jou hele hart en jou hele verstand as jy ’n essensiële deel van dié hart en verstand nie mag wees en uitleef nie?

Wetenskaplik geoordeel is gaywees ’n biologiese gegewe. Dit bevestig die normaliteit van dié soort seksuele oriëntering, gelykwaardig langs die heteroseksuele oriëntering.

Liefde en begrip vra juis dat die kerk daaroor ’n dapper voordenker sal wees eerder as ’n voetsleper in die agterhoede. En dat die kerk alles sal doen om, met behulp van deskundiges, lidmate in te lig oor gaywees.

Word dit nie gedoen nie, sal die kerk toenemend irrelevant word as ’n waardeskeppende instelling.

En wag daar nog meer en dieper pyn vir praktiserende en voornemende gay predikante.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.