Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Aandpraatjies troef Trump se oggendpraatjies

Niemand kan verkwalik word as hy van gedagte verander nie. Ook nie ’n Amerikaanse president nie.

Die vraag is hóé en gegrond waarop.

Sedert sy bewindsaanvaarding op 20 Januarie het pres. Donald Trump se sig op die wêreld dramaties verander. Voor sy bewindsaanvaarding het hy kwaai na pres. Wladimir Poetin gevry en herhaaldelik sy bewondering vir die Rus se sterk leierskap – “baie sterker as Obama s’n” – uitgespreek. Veral ná die Siriese diktator Basjar al-Assad se gifgasaanval van verlede week en Rusland se volgehoue steun aan dié man, het Trump heeltemal omgeswaai.

Sy minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, was vandeesweek in Moskou om die Russe te beweeg om hul steun aan Assad te staak. Tillerson, lui berigte, is “ysig” ontvang en het niks gevorder nie.

“Ons kom glad nie goed met Rusland oor die weg nie,” was Trump se woorde vandeesweek. Inderdaad, Poetin het ’n openbare dwarsklap na Trump gemik en gesê sedert dié se bewindsaanvaarding het hul betrekkinge aansienlik versleg.

Tydens ’n besoek van Jens Stoltenberg, Navo se sekretaris-generaal, het Trump ook tot die ontdekking gekom dat “Navo nie meer verouderd” is nie. Dit was in teenstelling met sy stellings dat Navo wel verouderd is, met die implikasie dat hy nie bestaansreg het nie.

Die mees dramatiese ommeswaai was teenoor China.

Die staatsbesoek van pres. Xi Jinping verlede week het Trump se kop duidelik geswaai. Vandeesweek het hy aan die Wall Street Journal gesê China is geen “valuta-manipuleerder” nie. Dit was in teenstelling met sy belofte van voor die verkiesing dat hy China op sy eerste dag in die Withuis amptelik tot valuta-manipuleerder sou verklaar.

Hy het vertel hoe Xi hom ’n geskiedenisles oor China en Korea gegee het en hoe hy geleer het: “Dis nie so maklik nie.”

Die staatsbesoek van pres. Xi Jinping verlede week het Trump se kop duidelik geswaai.

Deel van die ommeswaai is te danke aan die dinamiek in die Withuis, waar die pragmatiste – Tillerson, genl. H.R. McMaster (nasionale veiligheidsadviseur), Jared Kushner (skoonseun) en Ivanka Trump (dogter) – die “burgeroorlog” teen die ekstremistiese ideoloë soos Steve Bannon aan die wen is.

Belangriker is die gebrek aan ’n behoorlike strategie by Trump. Die besluit om Sirië te bombardeer was, soos baie dinge in sy lewe, impulsief; in dié geval ná die bekyk van foto’s van baba-slagoffers van die gifgasaanval.

Die Amerikaanse bombardement was waarskynlik die regte besluit, want Obama se besluiteloosheid het Amerika se gesag aangetas. Maar ás jy van plan verander, is dit goed om dit te doen op grond van ’n realistiese ontleding van die doelwitte, die voordele en nadele.

Dit lyk nie of Trump tot só ’n oorwoë besluit in staat is nie. Gelukkig het hy ’n groep raadgewers wat hom positief kan beïnvloed.

Meer oor:  Trump  |  Poetin  |  China  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.