Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Aanneming se einde?
 Ilse Bigalke
Ilse Bigalke

Die Wysigingswetsontwerp op die Kinderwet met omstrede veranderinge wat die aanneming van kinders in Suid-Afrika feitlik tot stilstand kan laat knars, is een van die tameletjies wat op die sesde parlement van Suid-Afrika wag. Ilse Bigalke het ondersoek ingestel.

Die tertafellegging van die wetsontwerp in Februarie beteken nog net ’n parlementêre proses kan verhinder dat die staat se omstrede planne meebring dat ’n algehele verbod geplaas word op die heffing van enige vergoeding deur private rolspelers in die bedryf.

As die parlement dit aanvaar, sal dit onwettig vir maatskaplike werkers, regslui, sielkundiges en ander beroepslui in nieregeringsorganisasies of in private praktyk in die aannemingsektor wees om vergoeding vir hul dienste te vra. Dit sal meebring dat hierdie dienste nie meer gelewer sal kan word nie.

Weens die ANC se groot meerderheid is die kanse goed dat die wet deur die betrokke portefeuljekomitee en die parlement aanvaar sal word.

Volgens die private sektor het die staat daarmee ten doel om private beroepslui van die aannemingsproses in Suid-Afrika uit te sluit. Hy wil self dié gespesialiseerde diens oorneem, al beskik hy nog nie oor die nodige kundigheid nie en kan maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling nie eens naastenby hul huidige werklas hanteer nie.

Die drie veranderinge ter sprake is op die nippertjie in November aan die Kinderwysigingswet aangebring. Dít nadat konsultasie oor wysigings reeds in 2016 begin het.

Volgens Katinka Pieterse, voorsitter van die Nasionale Aannemingskoalisie van Suid-Afrika (Nacsa), ’n sambreelorganisasie met meer as 100 lede, het hulle vir die eerste keer op die Nasionale Kinderbeskermings­forum in November daarvan gehoor. Daarna het die private sektor net een week gehad om geskrewe voorleggings te doen. “Die enigste gevolgtrekking oor die departement se tydsberekening is dat hy hoop hierdie wysigings kan sonder ’n gekoördineerde uitdaging deurgedruk word.”

In ’n onderhoud met eNCA het Lumka Oliphant, die departement se woordvoerder, telkens benadruk dat die parlementêre proses wag en dit dus “nie die einde van die proses is nie”.

Die enigste oorblywende moontlikheid vir voorleggings is dus wanneer die sesde parlement se sittings ’n aanvang neem en die kwessie voor die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling dien.

Diens ‘behoort gratis te wees’

Volgens Oliphant is aanneming maar net een van die kinderbeskermingsdienste ter sprake in die Kinderwet en, net soos die ander, behoort nie daarvoor betaal te word nie.

“Aanneming is nie ’n sakeonderneming nie, maar ’n kinderbeskermingsmaatreël. As diegene in private praktyk betrokke wil raak, moet hulle dit gratis doen.”

Maar nieregeringsorganisasies en private organisasies sê die voorgestelde wysigings sal hulle nadelig raak omdat hulle van vergoeding afhanklik is om aannemingsdienste te lewer. Gevolglik sal hierdie sektor glad nie meer aannemingsdienste kan lewer nie.

Beste belange van kinders?

Volgens die departement word sorgbehoewende kinders se belange tans gekompromitteer omdat nie genoeg oorweging aan alternatiewe sorg­opsies geskenk word nie, wat insluit voogdyskap, pleegsorg of om kinders in hul oorspronklike families te hou voordat aanneming deur iemand buite die kind se familie oorweeg word.

Maar die departement beheer aannemings met ’n ysterhand en kan te enige tyd met die proses ophou as hy meen ’n maatskaplike werker het familie-opsies nie voldoende ondersoek nie.

Volgens Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling wat teen die wysigings gekant is, is daar sowat 3,7 miljoen wees- en kwesbare kinders in Suid-Afrika en sal hierdie wetgewing aanneming moeiliker maak.

Hy meen een van die redes vir die voorgestelde wysigings is om die getal aannemings te verminder om die kinders se “spiritueel-kulturele” bande te behou. Maar die naasbestaandes en ouers van kinders in aannemingsgevalle kan selde opgespoor word. As die wysigings aanvaar word, loop sulke kinders die gevaar om vir altyd in pleegsorg te bly, wat elke twee jaar verleng moet word.

Pieterse is dit met Fritz eens en sê die klem op kulturele bande is die ware rede vir die wysigings, asook hoekom so min aansoeke die departement se streng keuringsproses slaag.

‘Onbekostigbaar’

Oliphant meen die betaling van gelde vir aanneming beperk ouers wat kinders wil versorg, maar dit nie kan bekostig nie. Volgens haar het die departement se navorsing getoon die aannemingsgemeenskap vra “tussen R3 000 en R600 000” per aanneming.

Maar volgens Nacsa word ’n glyskaal gebruik om gelde te bepaal. Sommige ouers betaal hoegenaamd niks nie, terwyl die gemiddelde koste tussen R12 000 en R15 000 bedra.

Oor die bewering dat tot R600 000 gevra word, sê Pieterse alle gelde wat deur private maatskaplike werkers gehef word, moet in ’n hof openbaar gemaak en geregverdig word. Daardie inligting word dan aan die departement beskikbaar gestel. Die departement moet eerder onwettige aannemingsbedrywighede ondersoek.

Volgens Dee Blackie, ook van Nacsa, behels die departement se voorgenome verbod op die heffing van gelde nie net betaling vir dienste nie, maar ook alle skenkings wat met aanneming verband hou.

“Aanneming is ’n gekompliseerde proses en maatskaplike werkers, regsverteenwoordigers, raadgewers, beraders en mediese onkoste is betrokke. Die departement se werknemers ontvang salarisse, maar maatskaplike werkers het ook salarisse nodig.”

Die private sektor meen die hoë koste verbonde aan die grootmaak van ’n kind is eerder die rede hoekom voornemende ouers aanneming onbekostigbaar vind.

Is die departement opgewasse?

Die departement het volgens Oliphant sowat 900 maatskaplike werkers opgelei om aannemingsdienste te lewer.

Maar volgens Pieterse is dit ’n spesialisveld waarvoor minstens vyf jaar ondervinding nodig is. “Dis ’n groot bron van kommer omdat al die kundigheid in die private sektor is.”

Volgens Fritz sal aanneming die alleenverantwoordelikheid van die staat se maatskaplike werkers word, wat reeds nie hul werklading kan hanteer nie. Die gemiddelde werklading per maatskaplike werker is meer as 100 gevalle en soms tot 300 gevalle, vergeleke met die 20 tot 30 in lande soos Brittanje en die VSA.

“In die geval van pleegsorg is daar byvoorbeeld duisende agterstallige gevalle en is die stelsel so wanfunk­sioneel dat die hooggeregshof in Johannesburg herhaaldelik hofbevele vir die verlenging van pleegsorg moes uitreik en die departement beveel het om stappe te doen om die agterstand met pleegsorggevalle teen nie later nie as November vanjaar uit te wis.

“Ofskoon daarop aanspraak gemaak word dat die wysigings aanneming ‘meer toeganklik sal maak’, sal die ware uitkoms wees dat aanneming tot stilstand gedwing word.”

Oor kulture heen

Volgens Pieterse is dit geen geheim dat die departement se grootste probleem met aannemingsdienste deur die private sektor nie die koste is nie, maar eerder sy kommer oor kinders se kultureel-spirituele bande.

Kim Reynolds van GroundUp, ’n gesamentlike projek van die Community Media Trust en die Universiteit van Kaapstad se Sentrum vir Sosiale Wetenskap, skryf kinders wat vir aanneming of ander sorg wag, word meestal in kinder- en jeugsorgsentrums geplaas.

Studies toon selfs die beste van hierdie instellings het ’n nadelige uitwerking op kinders se neurologiese ontwikkeling, veral ten tyde van die kritieke 1 000 dae. Tyd is derhalwe ’n deurslaggewende faktor.

Tog maak die departement dit volgens die aannemingsgemeenskap moeilik vir aannemings om te geskied deur die proses te vertraag en plasings moeiliker te maak.

Dis te verstane dat streng beheer oor aannemings uitgeoefen word omdat die kind se identiteit permanent verander word. Boonop is die meeste kinders wat vir aanneming beskikbaar gestel word swart en die meeste aanneemouers nie.

Maatskaplike werkers moet derhalwe ’n uiters sensitiewe proses bestuur. Hul vaardigheid blyk wel uit die uiters lae mislukkingskoers in Suid-Afrika.

Volgens Fritz sal die wysigings liefdevolle, geldelik stabiele ouers die geleentheid van ’n gesin ontneem, terwyl kinders die geleentheid ontneem word om in ’n omgewing versorg te word wat hulle nodig het en verdien.

Debbie Wybrow, ’n aannemings- en kinderregteprokureur wat die veldtog teen die voorgestelde wysigings lei, sê elke rolspeler behalwe maatskaplike werkers en ander beroepslui in die staat se diens sal uitgesluit word om kinders tot diens te wees.

“Dit sal lei tot die sluiting van kinderbeskermingsdienste met dekades se ervaring.

“Die wysigings wat hulle hoop om deur te voer sal die grondwetlike regte van ouerlose kinders op ’n gesinslewe en welstand aansienlik verminder.”

Gelukkige gesinne met lede van verskillende kulture het in die nuwe Suid-Afrika ’n algemene gesig geword. Dit sal baie jammer wees as kinders in nood hierdie geleentheid grootliks ontneem word.

GroundUp; Sunday Times.

  • Bigalke is Beeld se meningsredakteur.
Meer oor:  Aanneming  |  Kinderwet  |  Wysigings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.