Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Aansteeklike kieme verdwyn nie vanself nie
Kammaland
Annelie Botes Foto: Salvelio Meyer

Desjare toe ek ons kindertjies grootgesukkel het, was ek in my bloedjonkheid taamlik onverantwoordelik. Dikwels het ek nie van beter geweet nie.

My geloof was dat hulle taai gestelle moet ontwikkel en nie vir elke kiem en virus moet omtiep met ’n koors wat by stuipe draai nie. Die enigste items waaraan hulle nie mog raak of mee speel nie, was die toiletborsel en vlieëplak.

Dit het my bitter min getraak as hulle katpille eet, want die ergste wat kon gebeur, is dat ’n kalffetus of skaaptestikels saamgemaal is. Iewers in die wêreld word dit moontlik as eksotiese disse beskou.

Waar hulle al 20 jaar of meer in Engeland woon, is hulle selde weens siekte uit die werk. Hulle kom niks oor van rys wat twee dae in die yskas staan, of hoenderboudjies wat oor die naweek in die oondbraaibak vergete gebly het nie.

Anders as die Ingelse, ly hulle nie kort-kort aan ’n tummy bug nie. Hulle reken hulle het Afrika-derms, glo omdat hulle as peuters gereeld katpille en erdwurms en vrugtevlieg-appelkose ingekry het.

Ons het nie kleinkinders nie, en ek is uit voeling met kinderdinge.

Ons het nie kleinkinders nie, en ek is uit voeling met kinderdinge. Deesdae hoor ek egter amper weekliks van vriende en kennisse se kinders wat kort-kort olik is wanneer hulle by dagmoeders en kleuterskole inskakel. Dit bring ontwrigting, want die reël is dat siek kinders nie kleuterskool toe gebring mag word nie. Meermale lei dit tot die ma wat by gebrek aan ’n oppasser ook uit die werk wegbly.

As ek dink aan die virusse, bakterieë en kieme wat by so ’n kleuterskool in die lug sweef, is dit vanselfsprekend dat die kindertjies mekaar sal aansteek. Die lewenspoed het so verander dat daar nie elke dag in elke huis kookkos, vrugte, beetslaai, lemoensap, droë pruimedante, neute en stokvispastei op die spyskaart is nie. Die moderne kind eet nie daagliks die kos wat hulle gestelletjies taai maak nie.

By die kleuterskool speel almal met dieselfde kryte, kwaste, legkaarte en stapelblokkies. Dieselfde tafeltjies en stoeltjies, klimrame, sandputte, speelmatte.

Nou wonder ek hoe gereeld daardie toerusting ontsmet word.

Nou wonder ek hoe gereeld daardie toerusting ontsmet word. Geag die situasie, behoort dit élke dag te gebeur. Waar die juffrou en assistente tyd daarvoor moet kry, weet die blou hemel alleen. Maar op die een of ander manier móét die kinders beskerm word.

Telkens op internasionale vlugte sien ek die passasiersruimte word gespuit met anti-kiemsproei. Jy ruik dit as jy aan boord gaan, en sien lugwaardinne dit doen voor landing.

Omdat ek nie wéét nie, wonder ek of kleuterskole, ook kantoorgeboue en winkelsentrums, soggens voor opdaag- en oopmaaktyd met so ’n middel gesuiwer word.

As ’n mens dink hoeveel werkure in ’n griepdeurspekte winter verlore gaan, klink dit, en ook gratis griepinspuitings, na ’n opsie wat oorweging werd is. Veral noudat mediese fondse ’n luukse geword het.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Kleuters  |  Kindertuin  |  Kieme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.