Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Aanwas het ons ingehaal

Talle drome en beloftes van politieke leiers in Afrika en Suid-Afrika sal onvervul bly weens die vinnige en ongelyke bevolkingsaanwas, skryf Flip Smit. 

bevolking

"Bliksemse Afrika.” Só skel Dana Snyman vroeër vanjaar aan die Mosambiek-kant van die grenspos by Komatipoort. Hy moet R650 uithaal om sy paspoort te laat stempel. Dana is op die spoor van Louis Trichardt na Maputo, waar malaria en Afrika hóm ingehaal het.

Kragwoorde flits waarskynlik dikwels deur swart en wit mense se gedagtes oor swak dienslewering. Die hernuwing van rybewyse in Pretoria is slegs by plekke soos Rustenburg en Vereeniging beskikbaar, maar Sipho doen dit in ’n japtrap vir R1 500.

Dana is reg. Veral wit mense dink nog Afrika is anderkant ons landsgrense, maar Afrika het ons inderdaad ingehaal, hier by ons huise, op plase, in klein dorpies en in groot stede.

Daar is egter ook in vele opsigte ’n ander kant. Om slegs een terrein te noem: Op die gradeplegtighede van my kleinseuns verlustig ek my in die talle swart studente wat grade in ingenieurswese en rekeningkunde verwerf. Swart studente uit Afrika verwerf M- en D-grade in ingenieurswese. Dié geleenthede het grootliks of totaal by Afrika-universiteite verdwyn.

Onlosmaaklik deel van Afrika

Die swart bevolking van Suid-Afrika maak meer as 80% van sy totale bevolking uit.

Dat Suid-Afrika se toekoms nou verweef is met dié van Afrika, is telkens deur pres. Cyril Ramaphosa in sy inhuldigingsrede uitgestippel en ’n vryhandelsgebied, wat die vrye beweging van mense in Afrika veronderstel, is in die vooruitsig gestel.

Hiermee het Ramaphosa die drome van Cecil John Rhodes en Jan Smuts verwoord wat onderskeidelik ’n Britse koloniale ryk en ’n konfederasie oor Afrika heen in die vooruitsig gestel het.

Verskeie trekbewegings in Afrika word tans opgevolg deur 3 500 Suid-Afrikaanse boere wat in Afrikalande boer en sakelui wat ondernemings vestig.

Tans word veel gewag gemaak van ’n nie-rassige demokrasie in ’n land wat aan almal behoort.

Dié droom en ’n verenigde Afrika sal egter veraf lugspieëlings bly omdat vinnige en ongelyke bevolkingsgroei tussen die wit, swart, bruin en Asiër-bevolkingsgroepe die wye kloof tussen die inkomste, geskooldheid en feitlik alle ander aspekte van die samelewing verdiep.

Dié ongelykhede en die ideologiese politieke pogings om dit uit te wis, onderlê in groot mate die rassespanning wat tans hoogty vier.

Ongelyke, vinnige groei

Die ekonoom en demograaf prof. Jan Sadie het reeds in die 1950’s verklaar dat die vinnige en ongelyke bevolkingsgroei Suid-Afrika se grootste probleem is.

Dit is verbasend dat baie ontleders dié belangrike faktore miskyk.

Volgens die jongste raming van die Verenigde Nasies (VN) se bevolkingsafdeling is die bevolking van Suid-Afrika tans 58 065 097. 46,7 miljoen of 80,9% is swart, 5,1 miljoen of 8,8% is bruin, 4,5 miljoen of 7,8% is wit en 1,4 miljoen of 2,1% is Asiërs.

Die feit dat die proporsies van die wit, bruin en Asiër-bevolkingsgroei sedert 1970 konstant afneem en die proporsie van die swart bevolking toeneem, word in bygaande grafika aangedui. Die proporsie van swart mense het van 70,2% in 1970 tot die huidige 80,9% toegeneem.

Die vinnige groei van die swart bevolking het die proporsie van wit mense van 17,5% in 1970 tot die huidige 7,8% laat daal, terwyl daar ’n afname van 9,4% tot 8,8% by bruin mense en van 2,2% tot 2,1% by Asiërs was.

My ontleding toon dat wit mense se getalle teen 2030 tot 4 miljoen sal afneem en dat hulle slegs 3% van die totale bevolking sal uitmaak.

Wit mense het reeds teen 1980 die vervangingsvlak van gemiddeld 2,1 kinders per vrou bereik. Asiërs het dié vlak teen die einde van die 1990’s bereik en bruin mense eers 15 jaar gelede. Demografiese momentum, soos ’n seegolf, veroorsaak dat bruin getalle nog vir ’n paar jaar sal toeneem. Kindertoelaes speel ’n aansienlike rol om geboortekoerse by swart en bruin hoog te hou. Jong vroue se lewe word hierdeur verwoes, want kinders word hul bank.

Volgens Statistieke Suid-Afrika groei die totale bevolking teen 1,55% of 870 000 per jaar – meer as 2 000 per dag. Jaarliks word 1,2 miljoen babas gebore (meer as 3 000 per dag), terwyl 500 000 mense sterf. Dit is onduidelik hoeveel immigrante (wettig en onwettig) jaarliks die land binnestroom.

Demografiese dividend onbenut

Die demografiese dividend of “demographic sweet spot” met ekonomiese groeimoontlikhede word bereik wanneer die proporsie werkende mense (15 tot 64 jaar) groter is as die nie-werkende bevolking (jonger as 15 en ouer as 65).

Dalende geboortekoerse moet die gedeelte jonger as 15 jaar tot minder as 30% laat afneem. Tans is 30% van die bevolking jonger as 15 jaar, maar die lewensverwagting is slegs 61 jaar. Ongeveer 7,5 miljoen mense het MIV/vigs – die hoogste koers ter wêreld. Teenvigsmiddels, teen enorme koste, het sterftes weens vigsverwante siektes van 276 921 in 2007 tot die huidige 115 000 laat afneem. Kindersterftes neem vinnig af.

Is die totale bevolking net 58 miljoen? My navorsing in die 1960’s het ondertellings van tot 40% in tradisionele swart gebiede getoon. Projeksies van die VN se bevolkingsafdeling is volgens navorsers in die meeste Afrikalande te laag. Suid-Afrika se bevolking is waarskynlik reeds meer as 60 miljoen.

Dr. Pali Lehohla, voormalige statistikus-generaal, het op die 2016-spitsberaad van Afrikahoofde prontuit verklaar dat Suid-Afrika en Afrikalande, weens vinnige bevolkingsgroei, nie die demografiese dividend benut nie.

Vinnige bevolkingsgroei lei daartoe dat maatskaplike welsyn die begroting opslurp. Massa-onderwys lei tot swak vaardigheidsontwikkeling en gevolglike werkloosheid. Gesinsbeplanning bly ’n rooi doek.

Op my besoeke aan die Wêreldbank se bevolkingsafdeling het kundiges kop geskud oor gesinsbeplanning in Afrika.

Ekonomiese ontwikkeling het die getal kinders per vrou van 6,3 in 1960 tot 3,3 in 1995 en die huidige 2,5 laat daal. Die vervangingsvlak van 2,1 by swart mense sal eers oor meer as 15 jaar bereik word.

Lande soos Zimbabwe, Lesotho en Swaziland laai voorts groot gedeeltes van hul aanwas op Suid-Afrika af.

Die meeste immigrante uit Afrika is ongeskoold en arm, terwyl hooggeskooldes met ’n goeie inkomste die land verlaat.

Afrika reageer stadig

In teenstelling met ander lande reageer Suid-Afrika en Afrika stadig op ontwikkeling. Baie ingewikkelde tradisies is vir die groot aantal kinders verantwoordelik.

Demograwe stem saam dat onderwys en die toetrede van vroue tot die arbeidsmark geboortekoerse laat daal.

Maar onder meer oorvol skole veroorsaak dat slegs 43% van die 14 miljoen leerlinge hul skoolloopbaan suksesvol voltooi. Dit laat die jongmense weerloos teen die eise van ’n tegnologiese en kennisgedrewe ekonomie. In Afrikalande is dit 23%. Meer as 13% van Suid-Afrika se bevolking ouer as 20 jaar is funksioneel ongeletterd.

Die gebrekkige onderwysstelsel lewer lae vaardigheidsvlakke, strem ekonomiese groei en veroorsaak dat meer as 55% van die jeug werkloos is.

Die uitgebreide familiestelsel by Afrikane waarin kinders versorg word, veroorsaak dat vroue se toetrede tot die arbeidsmark geboortekoerse nie altyd laat afneem nie.

Onhaalbare beloftes?

Die talle beloftes van werkskepping, behuising, onderwysvoorsiening ensovoorts word onhaalbaar weens die vinnige bevolkingsgroei.

Die ANC se “besluit” dat werkloosheid van 27% tot 14% in vyf jaar sal verminder is tog ’n hersenskim.

Die ekonomie in Suid-Afrika groei tans teen minder as 1% per jaar, terwyl die bevolkingsaanwas 1,55% is. Die vinnige verstedeliking en toestroming na veral groot stede sal watertekorte, ’n tekort aan skole ensovoorts veroorsaak, terwyl plakkersgebiede en onwettige grondbesetting onafwendbaar lyk.

Suid-Afrika word toenemend ’n welsynstaat met meer as 30% van die bevolking wat welsyntoelaes ontvang. Gratis hoër onderwys lei reeds tot massa-hoëronderwys en sal, soos in die res van die wêreld, standaarde verlaag en vaardigheidsontwikkeling strem. Die getal werklose gegradueerdes neem reeds vinnig toe.

In die lig van voorafgaande verdien die volgende herbesinning: Die Russiese skrywer Aleksander Solzjenitsin het verklaar: “Sosialisme in enige vorm lei tot die vernietiging van die menslike gees.”) Baie revolusies het as gevolg van groeiende verwagtinge ontstaan en prof. Samuel Huntington wys daarop dat “ ’n revolusie nie suksesvol hoef te wees om doeltreffend te wees nie”.

Op sekere terreine is daar reeds anargie in Suid-Afrika.) Dana Snyman vra tereg: “Was daar al ’n enkele groot tragedie in die Afrikanergeskiedenis waarby swart en bruin mense nie saam met ons gely of swaargekry het nie?”

Ons is almal saam in Afrika.

Flip Smit doen navorsing oor demografiese patrone.

Meer oor:  Jan Smuts  |  Flip Smit  |  Bevolking  |  Drome  |  Konfederasie  |  Bevolkingsaanwas  |  Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.