Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ace, die Jetta 6 en die pakke R200-note
Charles Smith

“Is dit Ace daardie?”

My bron kon nie sy oë glo nie toe hy twee jaar gelede in Parys sien hoe die skraal man met die donkerbril uit die groot Merc 500 klim en in ’n ou Jetta 6 klouter.

Hy ken Ace goed. Ace Magashule, die flambojante premier, wat altyd omring is van lyfwagte in stringe blouligkarre en spietkops op motorfietse. Maar dié ou se gedrag was vreemd.

Daar klim Ace en die twee lyfwagte in die ou Jetta met ’n kattebak vol note.

“So ’n lemmetjiegroen Jetta. So ’n ou een,” sê my bron. Ace het daar in die straat begin om uit die kattebak groot pakke R200-note uit te haal om vir sy familie uit te deel.”

Dis sy grootwordplek dié. En dis King Ace se magsbasis.

“Ek kon my oë nie glo nie. Ek vra vir een van die ANC-ouens: ‘Is dit Ace daardie?’

“Hy sê vir my: ‘Sjuuuut! Jy het niks gesien nie. Niks nie!” Ace wou natuurlik so ongemerk moontlik deur Parys se strate beweeg, vandaar die ou, groen Jetta wat waarskynlik een van sy familielede s’n is, vertel hy.

Daar klim Ace en die twee lyfwagte in die ou Jetta met ’n kattebak vol note.

Maar sy mond het oopgehang toe hy die groot pakke note gesien het. Hy het geskat dat daar minstens R30 000 se note in elke pak was. En Ace het dit soos krismiskoekies uitgedeel. Die bron vertel my die storie terwyl ons nuusberigte skep oor die bom wat rondom die beweerde Mafiabedrywighede van die sekretaris-generaal van die ANC gebars het.

Die joernalis Pieter-Louis Myburg se boek Gangster State: Unravelling Ace Magshule’s Web of Capture het die kollig geplaas op die man oor wie se bedrywighede ons al die afgelope dekade skryf. Baie van die inligting is wat ons span hier in Bloemfontein oor die jare ontbloot het – van die bewys dat die Vrede-suiwelskema met die Guptas verbind kan word tot die onthullings oor die Vrystaatse webtuisteskandaal en die Gariep-visteelprojek.

Die belangrikste inligting wat ons oor dié tyd volg, is die beweerde vervoer van warm geld in die kattebakke van motors. Dit kom ook sterk na vore in Myburgh se boek. Kontant is onmiddel­lik, kan nie nagespoor word nie en kan nie maklik as gesteel bewys word nie.

Dié week kon ons inligting dra oor die beweer­de voorval waar R80 miljoen in kontant in die kattebak van ’n Vrystaatse amptenaar naby Heilbron gekry is. Dit was glo op die plaas van wyle Sandile Msibi, eertydse hoof van die departement polisie, paaie en vervoer, naby Heilbron. Msibi, Ace se vertroueling en kameraad, is verlede jaar in ’n provinsiale staatsbegrafnis naby Parys begrawe.

Ace het op die begrafnis “witmonopoliekapi­taal” vir sy moord beskuldig.

Dan is daar die drie mans van Durban wat met R21 miljoen in Bloemfontein betrap is en die LUR wat sakke kontant in sy kattebak gehad het toe die polisie hom voorkeer.

Almal is natuurlik later tjoepstil.

Dis King Ace se koninkryk dié.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Korrupsie  |  Kontant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.