Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ace en ANC se geheime in die leë graf in Parys

Ek wonder as Ace Magashule van Joburg na Bloem reis om môre op 21 klagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in die hof te verskyn, of hy by die afdraai na sy tuisdorp Parys aan die graf hier gaan dink waarin baie geheime begrawe is.

Charles Smith

Sandile Msibi, eens Ace se regterhand in die Vrystaat, is in Januarie 2018 hier begrawe.

Ace het by die graf beweer dat Msibi deur “wit monopoliekapitaal” vergiftig is en dat hy pres. Jacob Zuma gesmeek het om hom na Rusland te vlieg vir behandeling.

Roy Jankielsohn van die DA het ’n klag by die polisie teen Ace ingedien dat Ace weier om ’n “moord” aan te meld. Jankielsohn het gesê daar was gerugte dat Msibi self vir wanbestuur ondersoek is en gereed was om te sing. Ongelukkig is hy skielik dood. Die direkteur van openbare vervolging het (nog nie) besluit of Ace vervolg gaan word nie.

Nogal snaaks hoe Jacob Zuma, Donald Trump en Magashule, eietydse populiste, verbind word met die grootste diktator ter wêreld – Wladimir Poetin van Rusland.

Die onthullings oor Msibi wat ons by Volksblad gedoen het, laat jou hare rys. Hy het skielik plase langs die Vaaldam bekom en ’n duur teerpad is deur kontrakteurs wat baie kontrakte in die Vrystaat bekom het, verby sy plaas na ’n vakansieoord gebou waar niks aangaan nie.

Die fluistering in die ANC is egter dat Msibi se begrafnis een groot, vet bogspul is. Almal sê dié graf is leeg. Die gerug is dat Msibi ’n nuwe inkopiesentrum in Dubai bestuur met miljarde rande wat uit die Vrystaat gesteel is, meestal met kattebakke vol note wat weggery na lughawens en uitgesmokkel is. Die polisie het tot dusver geweier om die graf oop te grawe.

In die tien grootste skemas waarby Ace in die Vrystaat betrek word en wat ons oor ’n dekade ondersoek het, is heelwat meer as R1 miljard staatsgeld weg.

In die tien grootste skemas waarby Ace in die Vrystaat betrek word en wat ons oor ’n dekade ondersoek het, is heelwat meer as R1 miljard staatsgeld weg. Die vermoede is dat in sy eerste skema alleen, Operasie Hlasela, meer as R1 miljard gepomp is. Adv. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer, kon nie die ondersoek voltooi nie. Die vraag is waar is al dié geld – soveel as R20 miljard. In Indië (Vrede-skema)? In China, met wie die vrot Gariep-visprojek aangepak is? Kuba, met wie die Vrystaatse regering noue bande het? Of dalk Dubai?

As Ace in sy Merc 500E of BMW745i deur ’n verwoeste Vrystaat ry, sal hy waarskynlik nie dorpe vol slaggate sien wat in riool dryf nie. Of honger mense sonder hoop nie.

Soos Trump sien hy net dat hy onreg aangedoen is en nie as messias erken word nie.

Die Valke moet Msibi se praktyke én graf oopgrou en die spoor van plundering en verwoesting van A tot Z ondersoek. Volg elke spook se geldspoor. Gaan elke liewe rekening na.

Môre gaan ek in die hof wees as Ace in boeie verskyn. Ons het langer as tien jaar gewerk vir dié oomblik. Die mense van die Vrystaat moet uit die kettings van Ace se bewind vrykom.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Charles Smith  |  Parys  |  Geheime  |  Hofsaak  |  Korrupsie  |  Klagte  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.