Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ace en seuns kan in Montegrano gaan kyk en leer

Te midde van die afgelope maand se politieke geroesemoes eggo een frase steeds: Ace Magashule wat sê daar is niks daarmee verkeerd om regeringskontrakte aan ANC-leiers se familielede toe te ken nie.

Dié stelling is uit eie reg kommerwekkend, maar wat ’n mens laat terugsteier, is die gelatenheid waarmee Magashule dit gesê het – sy stemtoon van “dis mos hoe dit werk, almal doen dit en almal weet dit”.

Dit het my laat gryp na een van my gunstelingboeke, ene met ’n kras titel: The Moral Basis of a Backward Society, in 1958 geskryf deur die politieke wetenskaplike Edward C. Banfield. Banfield was ’n raadgewer vir drie Republikeinse presidente, Richard Nixon, Gerald Ford en Ronald Reagan. Hy was ’n gesellige man wat nie sommer nee gesê het vir ’n lang middagete nie.

In 1954 het Banfield en sy vrou vir nege maande in ’n klein Italiaanse dorpie gaan bly (in die boek het hy dit die skuilnaam Montegrano gegee).

Hoekom is dié plekkie so totaal agterlik, en waarom doen die inwoners dan niks aan hul eie lot nie?

Hy kon geen woord Italiaans praat of verstaan nie, maar twee kwelvrae het feitlik onmiddellik daar by hom ontstaan: Hoekom is dié plekkie so totaal agterlik, en waarom doen die inwoners dan niks aan hul eie lot nie? Op die oog af was al die basiese “bestanddele” daar om te kon vorder.

Die sowat 3 400 inwoners het besonder sterk familiebande gehad, en die meeste kinders het skoolgegaan – maar dan selde vir langer as vyf jaar – en daarná het baie van hulle verleer om te lees en skryf.

Daar was twee kerke in Montegrano, maar net sowat 350 mense het die Sondagdienste bygewoon, meestal vroue, en talle van hulle het niks in die kollektebord gesit nie. Die dorpsklub was eintlik maar net ’n paar mans wat sit en kaartspeel het.

Banfield het toe begin om onderhoude met die inwoners te voer om vas te stel wat skort. Dit het geblyk die inwoners het nog nooit gesamentlik enige projek aangepak om hul dorpie op dreef te kry nie. Trouens, talle van hulle het nie begryp wat met openbare welstand – “the common good” – bedoel word nie.

Banfield se gevolgtrekking uiteindelik was dat Montegrano en sy mense se sterkpunt ook sy Achilleshiel geword het: ’n Oordrewe fiksasie op familie ten koste van, wel, basies alles. “Amorale familisme” het hy hierdie verskynsel genoem.

Die primêre dryfkragte in Montegrano was afguns en wantroue tussen familiegroepe. Nepotisme het die mense se morele anker geword, met geen hoër aspirasies vir die dorpie self en geen roeping vir die gemeenskap in sy geheel nie. Wetstoepassing was ondergeskik aan lojaliteit aan die familie.

Die resultaat was die soort maatskaplike verlamming wat die ruimte skep vir mafia-agtige groepe om wortel te skiet. Elke familiegroep vir homself.

Nepotisme, faksies, wraak, mafia, rampokkery . . . Dit klink nogal bekend, of hoe?

Toegegee, dit is ’n groot sprong van ’n klein Italiaanse dorpie in 1954 na die ANC van 2020.

Maar wanneer Ace Magashule sy skouers ophaal en sê dit is goed en reg dat ANC-familielede kontrakte van miljoene rand tydens ’n dodelike pandemie kry, wonder ’n mens hoe ver dié politieke party verwyder is van die gevolge van Montegrano se “amorale familisme” – totale morele inploffing.

Booyens is ’n vryskutskrywer.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Bedrog  |  Gemeenskap  |  Politiek  |  Opheffing  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.