Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ace in hof, maar stryd hou aan

Op die historiese riempiesbanke uit swarthout in Volksblad se redakteurskantoor het ons in 2010 gesit. Onder die Claerhout-skildery teen die een muur. Maar as Pierneef aan ons besoekers onbekend is, wis hulle toe ook nie wie Claerhout was nie.

Gert Coetzee

Die doel van die kuiertjie omstreeks 2010 was Volksblad se ANC-onvriendelike beriggewing en om vas te stel wat ons agenda teen die party is. En hoekom ons nie oor al die premier se heldedade en Samaritaanswerk berig nie.

Uit ons argiewe het ons al die berigte voorgehou wat ons oor die werk van die premier en die Vrystaatse provinsiale regering dra. Oor die “onvriendelike beriggewing” is ons onverrigter sake uiteen.

Voor hul vertrek leun die eintlike besoeker, premier Ace Magashule, vertroulik oor en bied my ’n direkteurspos in sy kantoor aan. Net waar ek langs ons redakteur tóé, Ainsley Moos, sit.

Magashule was vergesel deur William Bulwane, deesdae Vrystaatse LUR vir landbou, en ene Wisani Ngobeni, woordvoerder, wat vertel het hoeveel hy van joernalistiek weet.

Agterna het Ainsley en ek lekker gelag oor die vriendelike aanbod.

Die punt van die feitelik korrekte staaltjie? Aan die bod is die denkwyse van ’n guns vir ’n guns, wat eie aan die gedienstige kultuur en patronaatskap-netwerk in die ANC is.

En dat niks met guns-uitruilery of met botsende belange skort nie.

You scratch my back and I scratch yours.­­ En dis nou maar so.

Die gevaar van die selfgeregtigde denkwyse is natuurlik dat die vriende wat so na mekaar se belange omsien ontoerekeningsvatbaar raak. Erger nog, hulle raak eties en moreel verhewe.

Yakhe Kwinana, oudvoorsitter van SAL Tegnies, verstaan opsluit nie wat is fout met private stralers, etes in restaurante en ritte in limousines in Amerika op onkoste van ’n tenderaar nie.

In daardie troebel wêreld waar jy al jou sondes en skandes – diefstal, bedrog en uitbuiting van armes, inkluis – tot elke prys kan regverdig en diegene wat jou, arme slagoffer, dit misgun die vyand is wat teen jou saamsweer.

Die soort refrein weerklink daagliks voor die Zondo-kommissie met die “getuies” daar wat al die ou truuks uithaal om hulself te verontskuldig en die land ’n rat voor die oë te probeer draai.

Yakhe Kwinana, oudvoorsitter van SAL Tegnies, verstaan opsluit nie wat is fout met private stralers, etes in restaurante en ritte in limousines in Amerika op onkoste van ’n tenderaar nie.

Dudu Myeni is oortuig as sy mev. Wit, mev. Smith of mev. Van der Merwe was, was alles klopdisselboom.

Jacob Zuma weier volstrek om weer voor die Zondo-kommissie (wat hy niksvermoedend ingestel het) te kom getuig, want dis benede hom.

En Magashule, wat eergister die tyding van ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming gekry het, verklaar summier hy wéét hy het niks verkeerds gedoen nie.

Op die kort duur kan die gewone verontwaardigde verweer van politieke agenda, media-heksejag, raskaart en gewaande onkunde verwag word.

Die saak teen Magashule en ander beskuldigdes in die asbesdak-bedrogsaak gaan in die hof uitspeel. Die indruk is dat die nasionale vervolgingsgesag en die Valke dié keer seker gemaak het hul huiswerk is bitter goed gedoen.

Op die kort duur kan die gewone verontwaardigde verweer van politieke agenda, media-heksejag, raskaart en gewaande onkunde verwag word. Aangestook deur vrybuiters soos die gekamoefleerde leke-prediker aan die hoofkameraad van Gangster State se sy.

Die skade aan die verrinneweerde Vrystaat en Mangaung gaan gedaan bly. Hier’s niemand in ANC-geledere wat dit kan regruk nie, ondanks destydse meelopers se mooipraatjies nou.

Die Zondo-kommissie se koste groei aan tot bykans R1 miljard, maar vergeleke met wat gesteel is, is dit ’n winskoop.

En sy groot verslag – teen Maart 2021 – moet gelewer word.

Die stryd teen die kultuur van korrupsie mag nóóit laat vaar word nie.

Môre is ons kuiergas in die hof.

En die Claerhout is steeds op sy plek. Sonder ’n staafkode op die rugkant.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Hofsaak  |  Korrupsie  |  Tenders  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.