Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ace Magashule se apologie aan Cyril uit Kuba
Charles Smith

Geagte kameraad Cyril, die ANC, en die hele Suid-Afrika

Eisj, baas Cyril. Ek weet nou hoekom hulle jou Die Buffel noem. Jy het my lekker gegaffel die laaste tyd. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Of moet vlug Dubai toe om op Duduzane se skouer te huil. Hy het glo ’n lekker plekkie daar waarin Ajay, Atul en Rajesh aandele het. So ’n wegbreekplekkie as die stres te veel raak. Gift, my seun, spot en sê ons moet die huisie Cape Capture noem. My plekkie in Kuba het ons Vrede gedoop. Plek van melk en tenders.

Ek het lank en diep gedink oor of ek jou en die ANC om verskoning moet vra, soos jy en die NUK beveel het. Jy weet, dis nie ’n maklike ding nie. ’n Week gelede was ek nog ’n magtige man. My vrou het my die Fidel Castro van Woodland Hills genoem. Dis só mooi, dink jy nie so nie?

Ek kon jou skors (uhm, ja wel, dit was op advies van Carl) en nou sit ek in Tamatiestraat. Ek wou raad by Msholozi doer in Nkandla vra, maar hy is baie besig. Hy skryf sy betoë vir sy hofsaak nadat sy regslui hom die koue skouer gegee het. Ek het hom ’n geldjie uit die Operasie Hlasela-fonds in die Vrystaat (sjuut, Tuli kon nie die rekeninge kry nie!) vir sy regskoste belowe as daar iets oorbly ná my hofsake.

Ons navorsing wys dis baie makliker om ’n kerk as ’n nuwe politieke party te stig, jy weet. Meer geld, min deursigtigheid.

En ek was só reg vir aftree, om piña colada op die strand in Kuba te drink en na salsa-musiek te luister en na die preke van pastoor At wat destyds met my inhuldiging as premier gesê het ek is die beste ding wat met die Vrystaat kon gebeur. Jy moet dit luister, kameraad Cyril.

Die pastoor sê ons mag ryk wees sonder om skuldig te voel. Dis ’n mooi gedagte, nè? Nietemin, ek wil by die punt kom. Ek hoor daar is mense naby aan mense naby aan my wat sê die land gaan Maandag afgesny word van die buitewêreld omdat julle my lelik behandel. Ek was na aan trane daaroor.

Maar ek belowe ek en Carl weet niks daarvan nie. Ons was elke aand by gesprekke met moontlike beleggers in ’n kerk wat ons wil begin: Apostel Ace en pastoor Carl se Revelations Church. Ons navorsing wys dis baie makliker om ’n kerk as ’n nuwe politieke party te stig, jy weet. Meer geld, min deursigtigheid en jy is baie in die kollig. Carl sê ek sal mal wees daaroor.

Jy weet, as ek so deur die Vrystaat in my Merc 500 gery het, het my hart skoon seer geword as ek sien hoe lief die mense my het.

Jy weet, as ek so deur die Vrystaat in my Merc 500 gery het, het my hart skoon seer geword as ek sien hoe lief die mense my het. Mense wat in pondokkies bly, mense sonder water en krag, almal buig as hulle my sien. Hulle sê Ace sal sorg. En ek sal, as ek nou dié skorsing en die hofsakies agter die rug kry.

Mense het ryk geword om my. Mense het lekker tenders gekry. Hulle ry grênd karre, drink grênd dop. Dis ek, Ace, wat dit moontlik gemaak het. Dis die ANC wat baie mense ryk gemaak het. Nou wil julle my skors. Dan moet julle die hele ANC mos skors, of hoe?

So, kameraad Cyril, jy is nie meer geskors nie. En dus ek ook nie. Ace is terug met ’n bang! Hêf ’n cigar, Ouboet. Jou goeie tjom, kameraad Ace. Groete uit Playa Paraiso, Kuba.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Charles Smith  |  Cyril Ramaphosa  |  Kuba  |  Verskoning  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.